Wednesday, July 30, 2014

Aanvulling vir skape


Nie-proteïenstikstof-bevattende aanvullings blyk die mees ekonomiese aanvullings vir skape te wees, hoewel ietwat swakker massa handhawing as met natuurlike proteïen bewerkstellig word.
Die produksie van 'n hoë persentasie breekwol (tot 50 %) by skape wat die hele winter op suurveld bly, is egter 'n groot nadeel van nie-proteïenstikstof-bevattende aanvullings. Die probleem kan egter oorbrug word deur een van die volgende strategieë te volg:
Nie-proteïenstikstof-lekke kan net gedurende die eerste helfte van die winter op veld gebruik word, waama na 'n beter gehalte ruvoer soos mieliereste oorgeskakel kan word.
Vanaf middel Julie kan 'n beperkte hoeveelheid heel mielies addisioneel voorsien word, of kan geleidelik na 'n lek wat natuurlike proteïen bevat, oorgeskakel word.
Die skape kan gedurende Oktober geskeer word, aangesien die wol dan in die breuk afgeskeer word en die waarde van die vag nie noemenswaardig benadeel word nie.
Die keuse van 'n aanvulling sal dus hoofsaaklik deur die koste per kilogram ruproteïen, die beskikbaarheid van die aanvulling en die oorwinteringstrategie bepaal word.
    Wanneer ureum in winterlekke gebruik word, blyk 'n klein hoeveelheid ammoniumsulfaat (1S:10N of 1 ammoniumsulfaat:5 ureum) in vergelyking met liggaamsmassa voordelig en ekonomies geregverdig te wees.  In plaas van ammoniumsulfaat kan voergraadswael (blomswael) (1 swael:15 ureum) gebruik word, hoewel eersgenoemde verkies word.


No comments:

Post a Comment