Sunday, October 5, 2014

Plaashek

Bloedrooi die aalwyn langs
die slingerpad.
Dis of daar vonke uit
elke vuurpyl spat.
Maar niks, niks roer nie… net
‘n luggie wat
skrams aan die ritselende
grassade vat.











Daarbo die blou, blou lug,
daaronder die rivier
wat deur die boorde kronkel met
‘n groene swier.
Niks stoor die yle swewende
bergstilte hier.


NĂ¡ al die jare maak ek weer
‘n plaashek oop
Waar het my paaie
tog nie geloop
om my hier by ‘n hek te bring      
                                  
van al my waan gestroop,
maar met my denke helder
en in my hart die hoop?



Die hek staan in die skad’wee van
‘n kremetart.
Die stilte in my’s volkome met
niks troebels, niks verward.
Ek lig die knip…

Ek maak
‘n hek oop in my hart.




 - Uys Krige (1910 – 1987)


No comments:

Post a Comment