Thursday, May 14, 2015

SA Wolpryse styg tot rekordvlak!


Port Elizabeth ‘n Besondere sterk vraag na Merinowol het pryse tot ’n rekordvlak laat styg en die Cape Wools Merino-aanwyser het met 8,5% gestyg en op R132,02/kg (skoon) gesluit. Dit is 18,3% hoër as op die openingsveiling en 13,4% hoër teenoor die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen. Op die Australiese mark het die aanwyser met 7,6% gestyg. Die Cape Wools Alle Wol aanwyser styg met 10,2%.

‘n Beperkte voorraad lang goeie gehalte Merinowol en sterk vraag vanuit China sowel as Indië het wolpryse opwaarts gedryf. Plaaslike handelaars het opgemerk dat sommige kliënte weerstand bied teen die hoë prysvlakke.

Die Rand teen R11,94 was sowat 0,8% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige week se veiling en teen R13,46, sowat 3,3% swakker teenoor die Euro. ʼn Verkoopspersentasie van 99% is bereik van die 8 829 bale wat op die veiling aangebied was. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (2 968), G Modiano SA (2 386) en Lempriere SA (2 270).

Die weeklikse prysmandjie, beperk tot AWEX tipe MF5, 70-80mm, VM<=2% wol alleenlik, se gemiddelde prysbeweging was as volg: 18 mikron styg met 7,5% tot R140,66/kg, 18,5 mikron versterk met 6,2% tot R138,96/kg, 19 mikron versterk met 10,7% tot R137,94/kg, 19,5 mikron versterk met 9,0% tot R134,64/kg, 20 mikron styg met 8,0% en sluit op R132,46/kg, 20,5 mikron styg met 9,2% en sluit op R130,37/kg, 21 mikron versterk met 7,9% en sluit op R130,02/kg, 21,5 mikron versterk met 9,3% en sluit op R128,28/kg en 22 mikron styg met 5,8% tot R122,98/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 27 Mei wanneer sowat 8 000 bale aangebied sal word.

No comments:

Post a Comment