Wednesday, June 3, 2015

Sterk vraag dryf SA Wolmark tot Rekordvlak


Port Elizabeth – Sterk aanvraag en ‘n swak geldeenheid dryf wolpryse tot nuwe rekord hoogtes en die Cape Wools Merino-aanwyser het met 4,7% gestyg en op R140,00/kg (skoon) gesluit. Dit is 25,4% hoër as op die openingsveiling en 27,9% hoër teenoor die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen. Op die Australiese mark het die aanwyser met 5,0% gestyg. Die Cape Wools Alle Wol aanwyser styg met 4,6%.
Kopers het genoem dat daar ‘n sterk vraag na en ‘n tekort aan goeie gehalte Merinowol op die dag was en het kommentaar gelewer oor die lae vlakke wolvoorraad verder af in die wol verwerkings pyplyn. Seisoenale produksievlakke het ook ‘n impak op pryse gehad met produksie wat min bewys van herstel toon. Die swakker Rand het ook sy rol gepeel om markpryse tot hierdie rekordvlakke te dryf.
Die Rand teen R12,24 was sowat 1,4% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige week se veiling en teen R13,62, sowat 3,7% swakker teenoor die Euro.
ʼn Verkoopspersentasie van 99% is bereik van die 6 751 bale wat op die veiling aangebied was. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (3 354), Lempriere SA (1 476) en G Modiano SA (1 466).
Die weeklikse prysmandjie, beperk tot AWEX tipe MF5, 70-80mm, VM<=2% wol alleenlik, se gemiddelde prysbeweging was as volg: 18 mikron styg met 5,4% tot R149,82/kg, 18,5 mikron versterk met 4,6% tot R147,45/kg, 19 mikron versterk met 4,3% tot R142,30/kg, 19,5 mikron versterk met 5,6% tot R142,49/kg, 20 mikron styg met 7,0% en sluit op R141,11/kg, 20,5 mikron styg met 4,8% en sluit op R137,91/kg, 21 mikron versterk met 4,4% en sluit op R136,41/kg, 21,5 mikron versterk met 4,4% en sluit op R134,70/kg en 22 mikron styg met 10,1% tot R135,04/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 10 Junie wanneer sowat 10 200 bale aangebied sal word.


No comments:

Post a Comment