Saturday, January 25, 2020

Advies vir wurmbeheer


VERMINDER SELEKSIE VIR WEERSTAND TEEN WURMMIDDELS DEUR ALTERNATIEWE METODES VAN WURMBEHEER

Dr J.A. van Wyk

Die era waar wurmmiddels alleen vir volhoubare kleinveeproduksie gebruik kon word, is vir goed, saam met die twintigste eeu verby  -  op plaas na plaas raak die wurmstamme so  weerstandig, dat dit reeds bykans onbeheerbaar is. Ons moet nou alle moontlike alternatiewe vir wurmbeheer oorweeg en ondersoek om 'n krisis af te weer.

Wat is die probleem?
Waller, 'n Australianer, en een van die beste kenners op hierdie gebied in die wêreld, het reeds in 1997 die volgende ernstige waarskuwing oor weerstand gerig (vertaal): "Die probleem van wurmmiddel weerstand moet globaal gesien word as een van die grootste bedreigings vir lewendehaweproduksie".
En die kenners van elders stem na onlangse opnames wat ons gedoen het, saam dat die weerstand in Suid-Afrika waarskynlik die ergste in die wêreld is!

Opnames op 86 wyd-verspreide plase het getoon dat die wurmstamme op bykans 100% van die plase weerstand teen minstens een wurmmiddelgroep bied. Maar die skokkendste is dat teen sekere van die wurmstamme, nie een van die 4 middels wat ons as verteenwoordigend van die 4 wurmmiddelgroepe op die Suid-Afrikaanse mark getoets het, selfs soveel as 40% doeltreffend was nie  -  almal middels wat voorheen bykans 100% doeltreffend was. In vele gevalle het die getalle wurmeiers in die diere se mis nie eens met die dosering verminder nie  -  met andere woorde, die betrokke middel(s) was oënskynlik totaal ondoeltreffend!
Die grootste probleem is egter dat dit te duur geraak het om, met 'n relatiewe klein globale mark vir veeartseny middels, nuwe middels te ontwikkel. As voorbeeld: hoofsaaklik weens veeleisende internasionale voorskrifte vir middeltoetsing kos dit vandag 'n geraamde R1,3miljard om 'n nuwe wurmmiddel te ontdek en op die mark te bring  -  met andere woorde, baie meer geld as die totale jaarlikse begroting van Onderstepoort (beide die Fakulteit Veeartsenykunde, en die Instituut).
Die skrif is dus aan die muur:  Daar gaan te min nuwe, onverwante wurmmiddels wees om tot die boer se redding te kom, en die enigste uitweg is om ander vorms van beheer te vind en te ontwikkel.
Waarom die wurms beheer? 
 Navorsing  het byvoorbeeld in 'n aantal proewe onder toestande soortgelyk aan dié van die Hoëveld van Mpumalanga bevind dat 45-50% van Dorper lammers (wat in vatbaarheid vir wurms min vanaf Merino's verskil) in hul eerste lewensjaar aan haarwurm vrek as hul nie gedoseer word nie. En wat nog van die oorblywende lammers wat by die dood omdraai en daarna swak groei!.
Watter boer sal kan bekostig om met kleinvee te boer as sulke verliese 'n paar jaar na mekaar voorkom?
Hoe ontstaan weerstand?
Elke individuele wurm is vatbaar vir 'n gegewe wurmmiddel,  of het 'n mate van weerstand, en die nageslag erf die een of die ander. Met andere woorde, 'n  wurm verander nie van die een na die ander nie, maar word daarmee gebore. Met strawwe dosering (of op die "verkeerde" tyd - soos onder bespreek) word die weerstandige individue bevoordeel, totdat die betrokke wurmpopulasie later glad nie meer vatbare individue bevat nie. Byvoorbeeld, wanneer diere na dosering na weiding verskuif word wat min of geen wurmlarwes bevat, is dit net die nageslag van die weerstandige wurms wat die skoon weiding bevolk, en sodoende word daar baie straf vir weerstand geselekteer.
Ons moet dus voortaan die vatbare wurms soos 'n kleinood bewaar, en maniere vind om hulle bo die weerstandiges te bevoordeel.
 Biologiese beheermetodes:
Volgens alle aanduidings is die wurmmiddels onontbeerlik vir wurmbeheer, maar met opwindende nuwe metodes van biologiese beheer wat oor die afgelope paar jaar deur Onderstepoort (beide die Fakulteit van Veeartsenykunde, en die Veeartsenykunde-instituut), in samewerking met die Departement Landbou en die Private Sektor ontwikkel is, kan ons seleksie vir weerstand dramaties verminder. Verder lyk dit ook moontlik dat ons selfs 'n metode (wat ook in Suid-Afrika ontwikkel is) prakties sal kan maak om weerstandige wurmstamme na vatbaarheid om te keer.
Veral twee metodes het ons aandag getrek om minder vir weerstand te selekteer:
* 'n Metode om individuele diere se wurmbesmetting deur middel van die kleur van die oogslymvlies te evalueeer (FAMACHA sisteem).
* Afwisseling van verskillende diersoorte wat vir mekaar se wurms minder vatbaar as vir hul eie is.
Doseer in haarwurmgebiede volgens die kleur van die oogslymvlies (FAMACHA): 

Nadat Dr Francois Malan die plan gekry het om die kleurskakering van die oogslymvlies klinies as aanduiding van die graad van haarwurmbesmetting te peil, het veral Prof. Gareth Bath, met insette ook van my, 'n kleurkaart ontwerp wat die proses vergemaklik. Sedert dien is die beginsel deeglik deur 'n span van ons, insluitend, onder andere Prof. Tammi Krecek en Dr Adriano Vatta in die veld getoets.
Die grootste voordeel van die sogenaamde FAMACHA sisteem (afgelei van FAffa MAlan CHArt) is dat diere wat teen haarwurm uitsak, maklik en vinnig identifiseer en gedoseer kan word. Met andere woorde, net die klinies-geaffekteerde diere (bykans altyd slegs 'n klein persentasie van die trop wanneer die eerste diere uitsak) word gedoseer en nie die hele trop nie. Met die stelsel word nie net aansienlik op dosering bespaar nie, maar daarmee word weinig vir weerstand geselekteer, teenoor die tradisionele gebruik om elke keer die hele trop te doseer. Die skape of bokke wat nie ontwurm word nie, skei dan vatbare wurmeiers op die weiding uit, en dit verminder die kanse van die weerstandige wurms om met mekaar te paar en die weerstand te vererger.
Die FAMACHA- sisteem maak dit ook moontlik dat die oormatig vatbare diere (wat herhaaldelik uitsak en gedoseer moet word) identifiseer en uitgeskot kan word, tot groot voordeel van die diere wat agterbly, omdat die vatbare diere oor die algemeen die weiding die ergste met wurms besmet.

Wissel kleinvee en beeste of ander diersoorte met mekaar af om rondewurms te beheer:
Kleinvee en beeste deel min wurmsoorte, omdat die meeste van die wurms redelik gasheerspesifiek is. Ongelukkig is die haarwurms 'n uitsondering, omdat skape en beeste vir mekaar se haarwurms vatbaar is, maar elk beheer die ander se haarwurms beter as sy eie. Verder is beeste beter as skape en bokke in staat om sonder dosering die mas teen die wurms op te kom. Dus het ons, in lig van die wurm weerstand krisis wat ons bedreig, van 1992-1997 op verskeie plekke proewe gedoen om te toets tot watter mate beeste gebruik kan word om die wurms van kleinvee te beheer. 
Die skaap/bees verwisseling het in die proewe 'n sterk bydrae tot beheer van haarwurms in die skape gelewer!
Die sukses van die verwisseling is evalueer deur die diere se produksie te meet, sowel as deur wurmladings van merker lammers en kalwers, wurmeiertellings en die graad van bloedarmoede (anemie) wat die proefdiere in die verskillende groepe opdoen, te bepaal. Veral by Cedara is die proewe gekompliseer deurdat 34 kontrole skape, teenoor net 9 van die verwisselde skape weens hoë wurmladings gedoseer moes word, en dit het die kanse om met verwisseling 'n voordeel te toon, verminder. Maar, ten spyte van hierdie bevoordeling van die kontroles, was 29 stelle van die verskeidenheid van vergelykings tussen die twee groepe in die guns van die verwisselde, en net 9 in die guns van die kontrole skape, wat nie met die beeste omgeruil is nie.

Eerstens kan die FAMACHA  metode tesame met skaap/bees verwisseling gebruik word om dosering en seleksie vir weerstand teen wurmmiddels te verminder, en van die oormatig vatbare diere ontslae te raak. Maar dit is veral met 'n veldbeheerstelsel soos die "50/50" sisteem wat Kevin Kirkman en dr Arno Moore te Nooitgedacht vir streke met 'n redelike goeie reënval ontwikkel het, dat skaap/bees afwisseling ten beste vir wurmbeheer ingespan kan word. Met hierdie sisteem word al die diere op die plaas op  f 2/3 van die beskikbare weiding geplaas, terwyl die oorblywende gedeelte vir 'n jaar lank rus. In die lente word die diere gewoonlik n die eerste goeie reëns na die geruste weiding verskuif, wat dan weinig wurms bevat.

Tydens die verskuiwing moet die diere onder geen omstandighede almal gedoseer word nie, maar minstens 30% van die trop (liefs meer) moet onbehandel gelaat word.
Op die geruste weiding sal die wurms in 'n gunstige reënjaar binne 'n tydperk van ongeveer 8 weke weer opbou endit is hiér waar veral volwasse beeste soos volg bygebring kan word. Met die verskuiwing word die skape en die beeste in afsonderlike kampe geplaas, en na die tydperk van ongeveer 8 weke word die skape na 'n kamp verskuif wat in die betrokke siklus deur beeste, nie bewei is nie Aangesien die haarwurmseisoen in die meeste jare oor slegs ongeveer 6 maande strek, sal 'n totaal van 8 kampe (4 elk op die 2 helftes van die beskikbare weiding) voldoende wees om dit vir die boer moontlik te maak om elke keer as die wurmgetalle op die weiding hoog word, met die kleinvee na 'n kamp pad te gee, wat vir 'n jaar lank nie deur skape of bokke bewei is nie.
Die weerstand bring nie net veranderde metodes van wurmbeheer mee nie, maar verg ook 'n totaal nuwe benadering tot wurmbeheer.
Praktiese Advies:
1. Moet nooit weer diere van elders na u plaas inbring, sonder om te sorg dat erger weerstand (as wat u reeds het) nie saam met hulle op die weidings gevestig raak nie. Doseer eerstens die diere met middels uit minstens 2 van die groepe met 'n levamisool, die avermektiene en die bensimidasole of "witmiddels), laat (indien moontlik) wurmeiertellings doen om te bevestig dat die dosering geslaag het, en plaas die nuwelinge op weidings wat beslis aansienlike wurmladings het (met andere woorde, nie op skoon weidings nie).
2. Moet nooit weer al die diere doseer, voordat hulle na geruste weiding verskuif word nie  -  dit is een van die ergste vorms van seleksie vir weerstand. Doseer slegs die klinies aangetaste diere voor verskuiwing.
3. Pas op vir dosering in, of kort na die winter, want dan is daar relatief min wurms op die weiding, en die graad van seleksie kan hoog wees. Dit is beter om minstens sommige van die diere ongedoseer te laat, en die diere daarna te monitor om te verseker dat die vatbare individue nie deur die wurms oorweldig raak nie.
4. Pas op vir knoppieswurm; dit skep 'n gevaar vir bykans elk van die moderne metodes van biologiese wurmbeheer, en wel omdat dit 'n geweldige effek op die dier se produksie het. Inspekteer dus slagskape se derms (dit hoef nie oopgesny te word nie), en as daar enige knoppies op die derms voorkom, kontak 'n kenner op die gebied.


5. Pas op vir skape wat op veilings verkoop word  -  hulle kan 'n ernstige gevaar skep deur vreemde wurmsoorte of erg weerstandige wurmstamme op u plaas te vestig, veral omdat dit vir 'n persoon met ernstige weerstandsprobleme soms die maklikste uitweg is om van die kopseer ontslae te raad deur die hele kudde op te veil. Hanteer sulke diere net soos ander nuwelinge wat ingebring word, maar wurmeiertellings is ‘n moet. Aan die ander kant is 'n geslote kudde die veiligste.

No comments:

Post a Comment