Saturday, January 25, 2020

.SLANGBOS – Indringer met hoë voedingswaarde - kan dit benut word?



Prof Hennie Snyman

 Elke veeboer moet hom ernstig afvra waar hy staan in terme van die bewaring, beskerming en volhoubare benutting van die kosbare natuurlike hulpbronne op sy plaas.  Indien enige ongewensde indringerplante sy weiveld sou bedreig moet alles moontlik gedoen word om dit te bekamp en uit te roei.  Die onbenutbare slangbos is ‘n goeie voorbeeld hiervan aangesien produktiewe grasvelddele van die Oos-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes en Gauteng reeds aggressief daardeur ingedring is.


Voorkoms en impak

Slangbos, vaalbos, bankrotbos of in die Kaap bekend as Khoi-kooigoed (Seriphium plumosum) is ‘n aggressiewe indringerplant in grasvelddele met ‘n reënval van hoër as ongeveer 600 mm per jaar.  In hierdie suurder grasvelddele het die indringing van slangbos, voorheen bekend as Stoebe vulgaris, reeds groot afmetings aangeneem en jaarliks met rasseskrede as probleemplant toeneem.  Die bos besit die vermoë om die produksiepoten­siaal van die graskomponent geweldig te onderdruk en gevolglik 'n plaas se weidingkapasiteit aansienlik kan verlaag.  Hierdie minder diere wat as gevolg van slangbo-indringing aangehou kan word het dus nie slegs ekologiese implikasies nie, maar ook enorme ekonomiese gevolge wat die boer se sak raak.  Talle boere rapporteer van enkele slangbosplante ‘n aantal jare gelede op ‘n plase tot 25-75% van die plaas total ingeneem deur hierdie aggessiewe indringer soos dit tans daar uitsien.  Slapend het hierdie problem sy kop uitgesteek oor veral die laaste dekade of twee en indien nie vinnig opgetree gaan word nie mag dit dalk te laat wees.

Gelukkig het meeste veeboere oor die laaste klompie jare terdeë bewus geraak van hierdie probleem wat jaarliks sneeubal, maar daar is ongelukkig steeds persone wat onverskillig staan om hierdie indringerplant ten alle koste te probeer beheer.  Sommige boere het selfs totaal handoek ingegooi en sien geen uitweg om dit te bekamp nie.  Die minimale koste verbonde aan die beheer daarvan moet verreken word teen wat dit sal kos om ‘n onbesmette plaas te koop of teenoor die verlaging in weidingkapasiteit van sy plaas.  Die kort en lank van die verhaal is dat daar iets daadwerkliks gedoen sal moet word om verdere weiveldverdringing en produksieverlaging te verhoed.

Indien die ruproteïen-inhoud van slangbos afgespeel word teen dié van grasse in dieselfde omgewing, vergelyk dit besonder goed met mekaar.  Saailinge tot 100 mm hoogte se ruproteïen-inhoud is verbasend so hoog as 18%. Grasse sal vir die diere materiaal met ‘n ruproteïen-inhoud van ongeveer 3-4% en 7-9% vir onderskeidelik die winter en somer kan bied.Daar word beweer dat skape jong slangbosplante wel goed benut, asook tot ‘n mate die saadtoppe daarvan gedurende ‘n sekere tyd van die jaar vreet.  Dit kon moontlik die verspreiding van slangbos tot ‘n mate in toom gehou het.  Met die omskakeling van skaap- na beesboerdery, vind hierdie tendens ongelukkig tot ‘n mindere mate plaas en kon dit aanleiding gee tot die vinniger indringing daarvan.  Hierdie bewering van slangbosbenutting deur skape is nog nie vir alle rasse uitgetoets nie en word wel deur sommige boere bevraagteken.  Die algemene mening wat gehuldig word is dat slangbos uiters suksesvol deur elande benut word.
Feit bly dat ‘n groot uitdaging vir beide wetenskaplikes en boere wag om planne te beraam ten einde slangbos op ‘n goedkoop, maar ekologies vriendelike manier te probeer bekamp.

Grasse sal vir die diere materiaal met ‘n ruproteïen-inhoud van ongeveer 3-4% en 7-9% vir onderskeidelik die winter en somer kan bied.  Onnodig om te sê dat die benutbaarheid van grasse veel hoër is as dié van slangbos.

Redes vir verspreiding

Die vermoede bestaan dat slangbos nog al die jare deel van die fynboskomponent op die hoë berge uitgemaak het en eers later as gevolg van die verspreiding van die ligte saad deur die wind, bergaf begin vestig het.  Dit is juis oor ongeveer die laaste vier dekades wat die verspreiding teen die rante en leegtes af geweldig toegeneem het.  Marginale gronde wat van kontantgewasverbouing in die tagtigerjare onttrek was, was van die eerste om deur slangbosplante ingedring te word.  Hierdie gronde, met ‘n lae organiese materiaal-inhoud, wat soms nie dadelik na onttrekking met ‘n aangeplante weiding gevestig is nie, het juis ‘n gunstige habitat geskep vir slangbos-indringing.  Gevolglik het die lappies digte slangbosstande wat oral op oulande ontstaan het, meegehelp tot die vinnige verspreiding soos tans ondervind word.  Alhoewel die werklike redes vir die algemene ontploffing van slangbos in die gras­velddele van Suid-Afrika, oor spesifiek die laaste dekade redelik onseker is, bestaan daar tog ‘n verdere paar menings hieroor wat vervolgens bespreek gaan word.


Benutbaarheid

Daar word beweer dat skape jong slangbosplante wel goed benut, asook tot ‘n mate die saadtoppe daarvan gedurende ‘n sekere tyd van die jaar vreet.  Dit kon moontlik die verspreiding van slangbos tot ‘n mate in toom gehou het.  Met die omskakeling van skaap- na beesboerdery, weens die ongedierte- en diefstal probleem, vind hierdie tendens ongelukkig tot ‘n mindere mate plaas en kon dit aanleiding gee tot die vinniger indringing daarvan.  Hierdie bewering van slangbosbenutting deur skape is nog nie vir alle rasse uitgetoets nie en word wel deur sommige boere bevraagteken.  Die algemene mening wat gehuldig word is dat slangbos uiters suksesvol deur Elande benut word.

Verskeie Merino- en Dorperboere staan tog vas daarby dat hulle skape wel slangbos in veral die jong stadium baie goed benut en selfs in kondisie kan toeneem.  Laasge­noemde bewering is gekwantifiseer deur slangbosmateriaal chemies te ontleed.  Die uitslag het heel verrassend getoon dat slangbos wel oor ‘n hoë ruproteïen-inhoud beskik.  Dit is ongelukkig die besondere hoë persentasie vlugtige olies wat daarin voorkom wat dit onsmaaklik vir diere maak.  Daar is opgemerk dat beeste slangbos geredelik vreet wanneer daar jong botsels voorkom en selfs die toppe met saad vorming vreet.  Dorperskape is die skaapras wat slangbos die beste benut, maar is ongelukkig weens die bossie se houtagtige stamme nie die oplossing om dit totaal te bekamp of vernietig nie.  Indien die bosse eers ‘n sekere grootte bereik, is daar geen kans dat dit deur selfs drukbeweiding totaal ontblaar en vernietig sal kan word nie.

Saailinge tot 100 mm hoogte se ruproteïen-inhoud is verbasend so hoog as 18%.  Die volwasse plante se jong, sagte lote toon ‘n ruproteïen-inhoud van 9%, met 5% vir die harder sytak gedeeltes.  Hierdie verrassende uitslag toon dat slangbos wel oor die voedings­waarde beskik om diere te onderhou sou hulle dit vreet.  Soos reeds genoem, sal die beste benutting ongelukkig verkry word indien die diere gedwing word om dit te vreet.  Die goeie benutting van jong saailinge deur veral skape word dus verklaar deur die hoë ruproteïen wat dit bevat.  Sou die diere dus forseer kon word om die jong plante te benut, mag dit ‘n redelike korttermyn oplossing bied vir slangbosbeheer.  Dit moet natuurlik gesien word teen die agtergrond dat die grasse terselfdertyd oorbenut sal word met nadelige gevolge.  Voldoende rusperiodes vir die graskomponent moet na so ‘n behandeling in die bestuursprogram ingebou word.

Indien die ruproteïen-inhoud van slangbos afgespeel word teen dié van grasse in dieselfde omgewing, vergelyk dit besonder goed met mekaar.  Grasse sal vir die diere materiaal met ‘n ruproteïen-inhoud van ongeveer 3-4% en 7-9% vir onderskeidelik die winter en somer kan bied.  Onnodig om te sê dat die benutbaarheid van grasse veel hoër is as dié van slangbos.

Die gevolgtrekking wat vanuit hierdie chemiese ontledings gemaak kan word is dat behalwe vir die onsmaaklikheid van slangbos dit wel in die voedingsbehoeftes van die dier sal kan voldoen.  Daar moet dus net ‘n sinvolle manier uitgewerk of nagevors word hoe om dit te benut sonder om die graskomponent en die diere te benadeel.  Jong saailinge is dalk waarop die fokus geplaas moet word om dit deur middel van benutting te bekamp - maar is dit moontlik?  Ongelukkig sal dit, indien moontlik, slegs ‘n tydelike oplossing bied aangesien die geweldige saadbron in die grond net wag dat omge­wingstoestande gunstig is vir ontkieming sodat daar weer ‘n ontploffing in saailinge kan plaasvind.  Hoe prakties so ‘n beweidingsbenadering is, is ‘n ope vraag en moet dit definitief nie ten koste van die graskomponent geskied nie.  Dalk kan iemand navore kom met so ‘n vindingryke plan wat tot voordeel van beide dier en ekosisteem kan strek.  Die groot slangbosse sal chemies of meganies beheer moet word, alhoewel meganiese uitkap ook sy kwota probleme oplewer.  Alhoewel chemiese beheer die suksesvolste blyk te wees, is die ekonomiese aspek iets waarmee rekening gehou moet word.  Hierdie indringingsprobleem is so groot in omvang dat enige moontlike beheermaatreël oorweeg moet word, solank dit net ekologies en ekonomies geregverdig is.  Brand bied ook nie ‘n oplossing nie, aangesien dit wel jong plante dood, maar saadontkieming stimuleer en groot bosse ook weer laat uitloop.


Samevatting

So mag daar nog vele ander redes aangevoer word vir die ernsige slangbosprobleem waarmee tans geworstel word. 

·         Die slotsom is egter dat iets daadwerkliks op grootskaal gedoen sal moet word en dat beheermaatreëls nie slegs op enkele plase uitgevoer moet word nie. 
·         Die regering het beslis ook ‘n groot finansiële ondersteuningsrol te speel in die bekamping van slangbos om te verhoed dat produktiewe weiveld nog verder verdring word. 
·         Daar behoort ‘n indringende indiepte ondersoek uitgevoer te word na die presiese omvang van die slangbosprobleem wat insluit beide die totale area wat reeds besmet is en die werklike impak daarvan op die afname in grasproduksie waarmee dit gepaard gaan.  Hierdie inligting behoort as ondersteuning te kan dien tot finansiële steun. 
·         Ongelukkig is dit nie so maklik om ‘n inheemse plant soos slangbos as verklaarde onkruid gelys te kry nie.  Gelukkig is dit reeds gelys as verklaarde indikator van bosverdigting (Regulasie 16 van die bewaring van landbouhulpbronne – Artikel 43), wat bepaal dat indien dit die produksiepotensiaal van ‘n gebied bedreig die eienaar verpig is om dit te beheer. 
·         Die oplossing is dus gesetel in ‘n spanpoging waar alle boere wat die problem ondervind iets sal moet doen anders is dit ‘n ongewonne stryd wat gevoer gaan word.  Die saad versprei maklik van een plaas na ‘n ander en moet gevolglik algeheel binne ‘n gebied bekamp word vir enige sukses  
·         Hier lê dus ‘n groot uitdaging vir beide wetenslaplike en boer opgesluit om planne te beraam ten einde slangbos op ‘n goedkoop, maar ekologies vriendelike manier te probeer bekamp.


No comments:

Post a Comment