Grond
is ʼn hernubare bron en om nuwe grond te “groei” is baie soos om ʼn boom te laat
groei. Albei prosesse benodig
koolstofdioksied (CO2), water en lig wat energie verskaf vir die
produksie van fotosintetiese materiaal.
In bome verbind die koolstof wat uit die atmosfeer geïsoleer word met
ander elemente om nuwe hout (selle) te vorm terwyl koolstof wat die boonste
grondlae via plante bereik, met minerale partikels bind om weer nuwe bogrondlae
te vorm. Diere, dink aan wol, en mikrobes vorm ʼn belangrike deel van hierdie
siklus. Hierdie proses waar nuwe bogrond gevorm word vereis dus dat meer koolstof
in grond gestoor word as wat na die atmosfeer verloor word.
Die Koolstof-siklus
Alle
lewende dinge vorm deel van die koolstof siklus en koolstof word voortdurend
omgeskakel gedurende die natuurlike siklus van geboorte, groei, afsterwe,
ontbinding en hergeboorte. Koolstof
sirkuleer dus die hele tyd tussen plante, diere, grond, mikrobiese organismes,
die atmosfeer, riviere en oseane. Koolstofatome
wat op hierdie oomblik in ons liggame is was dalk baie jare gelede deel van ʼn
plant, dier of in die grond. Die
menslike liggaam bestaan bv. uit ongeveer 18% koolstof, hout uit 50% en die
organiese komponent van grond is omtrent 58%.
In
ʼn gesonde ekosisteem is “lewende” grond ʼn dinamiese deel van die koolstof-siklus. Koolstof beland in die grond as deel van
uitskeidings deur plantwortels, of deur die ontbindingsproses van dooie plante
en diere. Hierdie koolstof dien as
brandstof vir biologiese prosesse wat die struktuur van grond verbeter wat
terselfdertyd die suurstof vlakke verhoog en vogretensievermoë van grond
verbeter.
ʼn
Algemene denkfout is dat koolstof hoofsaaklik in bome voorkom, maar in
werklikheid is 82% van koolstof in die biosfeer in die grond. Grasvelde kan tot 100 keer meer koolstof in
die grond as in die gras self hê.
Wat is ʼn Koolstof-poel?
Wanneer
CO2 uit die atmosfeer verwyder word, word dit in die biosfeer (op
die aarde) gestoor as organiese of anorganiese koolstof. Hierdie koolstof is dan geïsoleerd. Plekke waar koolstof gestoor word, word kan koolstof-poele
genoem. Die aarde se grond bevat drie
maal meer koolstof as die atmosfeer en vier keer meer as groen plante. Grond is dus die grootste koolstof-poel wat
die mens kan beheer. Deur die
aanplantings op grond te bestuur, bepaal dus of die grond ʼn organiese koolstof-bron,
(dus ʼn netto verlies) of ʼn koolstof-poel (m.a.w. ʼn netto wins) vir atmosferiese
koolstof is.
Grond
is die grootste deel van ons biosfeer waaruit koolstof oor die jare verlore
gegaan het terwyl dit die komponent met die grootste potensiaal vir koolstof-storing
is. Baie min navorsing is daarop gemik
om die isolering van koolstof in grond te bevorder.
Sowat
50-80% van die koolstof in boonste grondlae het verlore gegaan en dikwels a.g.v.
die verlies van die bogrond self. Boerdery
aktiwiteite veroorsaak steeds dat koolstof uit die grond verlore gaan en
produsente spandeer baie tyd en geld om gewasse te produseer op “dooie”
grond. Die akkumulering van koolstof in
grond is positief gekorreleerd met temperatuur, reënval en grondbestuur. Koolstof word makliker gestoor in koel, klam
grond as in droë, warm grond. Hoewel die
produsent nie beheer het oor die reënval en temperatuur nie, kan hy die
infiltrasie van water, vogretensie en buffering van grond en ook
grondtemperature merkbaar verbeter deur die aanplantings op die grond reg te
bestuur.
Die noodsaaklikheid van
grondbedekking
Grondbedekking
sluit in plante, plante-afval en stoppels.
Groen plante vorm die leikanaal vir koolstof vanaf die atmosfeer na die
grond. Deur die proses van fotosintese
word koolstof deur plante omgesit na verskeie koolstof-verbindings wat weer
deur die wortels in die grond uitgeskei word.
Grond waarop meerjarige weidings aangeplant is kan tot 350 ton koolstof per
hektaar bevat wat weer hoë vlakke van mikrobiese aktiwiteit tot gevolg het.
Dit
is dus ʼn miskonsep dat koolstof wat uit grond verlore geraak het nie teruggesit
kan word nie. Dit kan d.m.v.
regenererende boerdery en beweidings metodes wat weer lei tot die vorming van
nuwe bo-grond.
Die
bestuur van grondbedekking met die doel om koolstof-vlakke in grond te verhoog
sal lei tot verbeterde grondstruktuur, meer poreuse grond met groter
waterinfiltrasie, meer effektiewe gebruik van water en verbeterde water
kwaliteit, groter isolering van stikstof en swawel, meer beskikbaarheid van
fosfor en spoorelemente, verminderde insetkostes en verhoogde produktiwiteit.
Nuwe
bo-grond word dus gevorm as die koolstof-vlakke in die grond verhoog. Deur wisselbou met grane en weidings toe te
pas en dus te sorg dat daar altyd
aanplantings op grond is, word wortelmassa en hulle uitskeidings in grond
verhoog.
No comments:
Post a Comment