Saturday, June 6, 2015

Wenke vir Selfmeng-lekke - Voerbronne


Maksimum gebruik van goedkoop voerbronne

Lekinname behoort gereeld bepaal te word en die samestelling van die lek, indien nodig, aangepas te word om die ideale proteïeninname so ver moontlik te bewerkstellig. 

Die aanpassing kan geskied deur die persentasie sout en/of mieliemeel in 'n lek te verhoog of te verlaag, na gelang lekinname verlaag of verhoog moet word.
 
Ten einde 'n kostedoeltreffende veeboerdery te bedryf, moet maksimaal van goedkoop voerbronne soos veld en oesreste gebruik gemaak word.

Dit sal die volgende voordele inhou:

•   Verminderde risiko
    Risiko sal met die nuwe weiveldbestuursbenadering verminder word, want die kanse is skraal dat ruvoertekorte sal ontstaan as die stelsel korrek toegepas word.

•   Verbeterde groei
Met skape is bewys dat die groei van veral sensitiewe diere soos speenlammers aansienlik verbeter kan word.

•  Spaarveld gedurende die winter
Deur die toepassing van hierdie benadering sal 'n beduidende hoeveelheid spaarveld elke winter beskikbaar wees, waarop minder sensitiewe diere relatief goedkoop oorwinter kan word. Dit is 'n belangrike aspek aangesien dit vandag ongeveer dubbel kos om 'n skaap op hooi te oorwinter, teenoor waar aanvulling op veld voorsien word.

Oesreste is 'n waardevolle en goedkoop bron van ruvoer vir die oorwintering van sensitiewe diere soos speenlammers, lammerooie en speenkalwers. Goeie kwaliteit ruvoer kan voorsien word sonder dat dit 'n direkte uitgawe in die skaap- of beesvertakking meebring.

 Die tweede manier waar dus op aanvullingskoste gespaar kan word, is om toe te sien dat voldoende hoeveelhede spaarveld en/of oesreste gedurende die winter vir die vee beskikbaar is. Indien ruvoer op enige stadium sou opraak, sal dit aanleiding gee tot verhoogde aanvullingskoste en verlaagde diereproduksie.


Die peil van proteïenaanvulling blyk van kardinale belang te wees vir die suksesvolle oorwintering van skape op veld. Vir droë, volwasse skape word 'n proteïenpeil van ongeveer 40 g/skaap/dag (6,5 g stikstof/skaap/dag) aanbeveel om massaverlies op suurveld op sanderige grond in 'n redelike mate te beperk. Op soeter veldtipes (bv. rooigrasveld) kan dit effens laer wees.

By laat dragtige ooie behoort die proteïenpeil gedurende die winter opgestoot te word na ongeveer 60 g proteien/skaap/dag.

Selfproduseerbare proteïenryke grane soos sojabone en lupiene kan suksesvol en baie ekonomies as daaglikse of tweedaaglikse winteraanvullings gebruik word.


Die proteïeninhoud van energieryke grane soos mielies en selfs stikstofverrykte mielies, is te laag om sonder enige verdere proteïenaanvulling as ekonomies doeltreffende aanvullings op winterveld te dien.

No comments:

Post a Comment