Friday, March 27, 2020

Groenvoer vestiging



Groenvoer maak die beste ekonomiese sin waar dit aangewend word vir die afronding van lammers of ander vee vir bemarking.  Produksie van droëland groenvoer is wisselvallig.  Die belangrikste groenvoer-soorte is hawer, korog en rog. 

Water is die dryfkrag

‘n Duimreël is dat 100mm plantbeskikbare water, 2,3 ton droëmateriaal / ha kan lewer; 150mm omtrent 3,9 ton droëmateriaal / ha en 200mm omtrent 5,5 ton droëmateriaal / ha.  In die somerreënvalgebied is reënval gedurende die groenvoer groeifase beperk en is dit belangrik om water reeds voor vestiging in die grond op te berg.  Tewens sukses met droëland groenvoer word gewoonlik bepaal deur die boer se vermoë om water beskikbaarheid te bestuur.  Hier is gronddiepte, onkruidbeheer en waterindringing belangrik.  ‘n Grond van 1m diep se waterlewerings vermoë wissel van 120 mm vir kleigrond tot 110 mm vir meer sanderige grond.  Indien daar nie met plant minstens 100 mm water in die grondprofiel is nie, raak droëland groenvoer vestiging in die somerreënvalgebied ‘n groot risiko. 

Kultivar-keuse

Drie patrone, naamlik; kort seisoen; medium seisoen en lang seisoen.

  • Kort seisoen kultivars het geen koue-behoefte vir blom nie; blom daarom vroeg met ‘n vroeë produksie-piek tot einde Julie.
  • Medium seisoen kultivars het ‘n kort koue-behoefte vir blom; blom later met ‘n vroeë produksie-piek tot middel Augustus.
  • Lang seisoen kultivars het ‘n lang koue-behoefte; blom laaste met ‘n later produksiepiek en produseer tot einde September. 

Dit geld vir herfs-vestigings. Kultivar-produksie proewe het verder bewys dat lang seisoen kultivars se produksie gemiddeld 50% hoër is as dié van kort seisoen kultivars.  Dit geld vir die onderskeie kultivar-tipes binne al die groenvoergroepe, naamlik rog, hawer en korog kultivars.


Kies die regte tipe volgens jou spesifieke voervloei-behoefte.  As dit laat raak (einde Maart) en voer is teen middel Mei nodig, plant dan kort seisoen kultivars.  ‘n Lang-seisoen kultivar kan so vroeg as moontlik (Februarie) geplant word.  Dit sal ‘n sekerder, langer en hoër produksie verseker.  Met so ‘n praktyk sal moontlike laat-somer en herfsreëns ook beter benut word en groenvoer sal vanaf middel April tot einde September beskikbaar wees.

Bemesting van droëland groenvoer


Die volgende algemene aanbevelings geld:

Stikstof (N)
Effek op produksie hang saam met beskikbaarheid van water (reënval).  Met genoeg reën kan stikstofbemesting beide voerproduksie en diereprestasie verhoog.  Neig egter na die konserwatiewe met ‘n maksimum van 30kg N / ha per toediening.

Fosfor (P)
Indien breedwerpig gevestig, word geen P-bemesting aanbeveel nie.  Indien in rye gevestig, mag ‘n P-toediening van maksimum 10kg P / ha voordelig wees.

Kalium (K)
Onnodig onder beweiding.

Plant die raaigras en assegaaiklawer breedwerpig met die rog in ongeveer 40cm rye daarna (verhoed oorskadu effek).  Die rog is relatief vinnig en sorg vir goeie herfs en winter produksie.  Die klawer is stadig en sal vanaf Augustus tot Desember produseer.  Dit bind stikstof en gee baie goeie diereprestasie.  Enhancer is ‘n raaigras kultivar met uitstekende diereprestasie potensiaal wat tot Desember sal produseer.

Notas:

1)     Besin oor die rede(s) vir groenvoer in u produksiestelsel.  Afronding van bemarkbare vee is die mees ekonomiese aanwending.

2)     Bestuur en benutting van grondwater is uiters belangrik.  Kies en bewerk lande vir maksimum wateropberging.
3)     Wees bewus van dramatiese verskille tussen:
·        Groenvoer groepe
·        Kultivars binne groepe

Plant met die oog op jou spesifieke behoefte!

4)     Besproeide weidings
·        Let op besproeiings- en bemestings-riglyne

5)     Bemesting
·        Wees konserwatief

·        Onthou die water/stikstofinteraksie vir goeie diereprestasie 

No comments:

Post a Comment