Sunday, March 15, 2020

Voorbereiding van Teelramme



Teelramme moet voor die aanvang van die paarseisoen 'n volledige teelgeskiktheidtoets ondergaan om te verseker dat hulle vrugbaar, vry van enige geslagsiektes asook dekbehendig is en 'n hoë geslagsdrang het.  Daarbenewens moet hulle voldoende deurvloeiproteïen ontvang om testisgroei en spermproduksie te maksimeer.
Die bydrae van teelramme tot 'n hoë reproduksietempo moet nie verontagsaam word nie.  Teelramme moet voorkeur en spesiale behandeling ontvang.  Die fokus moet op maksimale testisgroei en spermproduksie asook goeie gesondheid en 'n hoë fiksheidspeil wees.  Die mees sinvolle benadering is om ramme dwarsdeur die jaar in 'n goeie kondisie te hou en dan twee maande voor die paarseisoen 'n prikkelvoer te gee.
 Volgens wyle dr Japer Coetzee duur die  produksiesiklus van sperme ongeveer sewe tot agt weke  en daarom moet die voorbereiding van teelramme minstens twee maande voor die paarseisoen 'n aanvang neem.
·       Teelramme moet drie maande voor die aanvang van die dekseisoen met  sink, mangaan en selenium) asook Vitamien A en E gespuit word om beide vrugbaarheid en weerstand teen siektes te maksimeer.  Die spoorelemente sink, mangaan en koper is noodsaaklik vir die produksie van goeie gehalte semen asook vir 'n hoë geslagsdrang.  Besetting verhoog indien ramme met selenium gespuit word, want selenium is 'n kritieke komponent van die stert van die spermatosoaKoper moet net gespuit word indien 'n kopertekort gediagnoseer is.  Sink en Vitamien A word benodig vir spermproduksie.  Ramme wat sink- en Vitamien A-tekorte het, het sagte testes (sagte balsindroom) en produseer swak gehalte semen.  Ramme benodig byvoorbeeld twee maal meer sink vir optimale spermproduksie as vir optimale spiergroei.

·      
Proewe toon dat goeie voeding vir 'n periode van twee maande die spermproduksie kan verdubbel.  Die voer van hoë vlakke van grane (bv. mielies, kleingrane of sjokoladegrane) moet vermy word omdat dit vrugbaarheid nadelig kan beïnvloed weens oormatige vetneerlegging in die skrotum, veral in die nek van die skrotum, wat hitte-uitruiling beperk.  Om testisgroei en spermproduksie te maksimeer, moet teelramme ekstra energie, maar veral 'n baie hoë vlak van deurvloeiproteïen gevoer word, want dit bevorder die groei van die testes en die spermproduksie rn moet hierdie aanvulling 16 % proteïen bevat.   Indien die weiding skaars is, moet goeie kwaliteit lusernhooi ad lib. eenkant bygevoer word.   Voldoende vreetspasie (± 60 cm), sodat alle ramme gelyktydig kan vreet, moet te alle tye beskikbaar wees.

·       Saadkwaliteit van teelramme kan verbeter word deur hulle vanaf agt weke voor die paarseisoen met koringkiemolie (± 25 ml/ram) een tot twee keer per week te doseer.


·       Enige stres, van watter aard ook al, veral as daar meer as een vorm van stres gelyktydig gebeur, kan die gehalte van die saad verlaag.  Slegs geringe verhogings in liggaamstemperatuur vir kort periodes kan die vorming van lewensvatbare semen ontwrig.  Vermy alle stresvolle aktiwiteite (bv. skeer, dip, oormatige hantering, ensovoorts) korter as agt weke voor paring.  Knip kloue indien hulle lank is.  As daar tekens van vrotpootjie is, jaag hulle deur 'n voetbad met 'n 10 % sinksulfaatoplossing.  Voorsien skaduwee in die vorm van koeltebome of skadunet gedurende warm tye (> 32 oC) van die jaar om somersteriliteit te voorkom.  Wanneer die temperatuur meer as 32 oC vir lang periodes is of 'n kort periode van baie hoë temperatuur (38 oC of hoër) sal die produksie van lewensvatbare sperme nadelig beïnvloed word.  Volwasse sperme wat volledig ontwikkel is en reeds in die bybal gestoor is, word baie minder geaffekteer as sperme in die ontwikkelende stadiums.  Voldoende koel en skoon drinkwater moet te alle tye beskikbaar en so na as moontlik aan die skaduwee wees.
·       Hoe meer kere 'n ooi gedek word, hoe beter die kans om haar beset te kry en tweelinggeboortes verhoog ook dramaties.  Om dus te verseker dat teelramme ooie soveel kere as moontlik gedurende haar hitteperiode dek, moet die ramme oor 'n baie hoë libido (geslagsdrang) beskik en topfiks wees.  Waar ramme vir 12 weke voor die paarseisoen geoefen is deur daagliks 3 km in 25 minute af te lê, was die lampersentasie van die geoefende ramme se ooie 92 % teenoor 76 % van die ongeoefende ramme se ooie.  Teelramme moet dus vanaf minstens twee maande voor die aanvang van die paarseisoen fiks gemaak word deur hulle vroegoggend en laatmiddag vir minstens 'n halfuur vinnig te laat stap.
·       Ondersoeke toon dat tot 33 % van teelramme vrugbaarheid- en/of dekbehendigheidprobleme het.  Ramme moet ongeveer ses tot 10 weke  voor die paarseisoen aan 'n volledige teelgeskiktheidtoets deur 'n ervare veearts onderwerp word.  Dit sluit 'n volledige fisiese ondersoek van die ram en sy geslagsorgane; evaluering en ondersoek van 'n semenmonster; meet van skrotumomtrek asook 'n dekbehendigheidtoets in.  Die skrotumomtrek moet minstens 30 cm, maar verkieslik 35 cm en meer, op 15 maande ouderdom vir ramme in 'n goeie kondisie wees.
·       Ramme moet dus verkieslik vir dekkapasiteit (d.i. die kombinasie van geslagsdrang en dekbehendigheid) getoets word, want dit gee 'n aanduiding van die ram se dekprestasie in die praktyk.  Die normale aanbeveling vir die toets van dekkapasiteit is om drie tot vier ooie elk in 'n ooikrat te plaas en dan een tot twee ramme vir 12 tot 20 minute by hulle te plaas.  'n Ram met 'n hoë geslagsdrang en wat dekbehendig is, behoort 3 tot 4 suksesvolle dekkings gedurende hierdie periode uit te voer.
·       Alle aktiwiteite, soos die nodige doserings vir beide ronde- en neuswurm asook entings, behalwe entings wat koorsreaksie tot gevolg het, moet vier tot ses weke voor die paarseisoen gedoen word.  Ramme moet met 'n multi-klostridiale entstof geënt word.  Alle entings wat 'n koorsreaksie tot gevolg het (bv. bloutong), moet liefs na die paarseisoen geënt word.




No comments:

Post a Comment