Dr Dave Midgley
Al hoe meer boere is
besig om meer intensief met skape onder ekstensiewe toestande te boer.
Ekstensiewe boere paar intensief deur hul ooie kunsmatig te insemineer, hetsy
met servikale of laparoskopiese inseminasie. Die gevolg word dan dat hulle
intensief moet lam. Ander boere word as gevolg van ongediertes of van hoë
lamverliese genoodsaak om intensief in lamhokkies te laat lam. Hierdie stelsels
verg uiteraard hoër kapitale- en arbeidsinsette. Groter druk word op produksie
geplaas a.g.v. die hoër insetkostes. En voor ons ons oë uitvee, is ons
vasgevang in ‘n “kostespiraal” wat slegs met hoër produksie oorkom kan word.
Skielik moet ‘n boer
sy boerdery as ‘n besigheid bedryf. Kophou, en baie somme maak!
So kom ons “speel” ‘n bietjie met SYFERS:
1 jaar het 12 maande.
2 jaar het 24 maande.
’n Skaap dra 5 maande
(146 dae).
Indien ’n ooi 3 maal in
2 jaar lam, beteken dit dan dat sy elke 8 maande lam. (3 x 8 = 24)
In beeste paar ons 3
maande nadat ’n koei gekalf het, so ons weet dat dit genoeg tyd is vir ’n
baarmoeder om in te herstel...
’n TKP
(tussenkalfperiode) van 12 maande of 365 dae word as ideaal beskou in ’n bees.
Met dieselfde beginsel
moet die ideale interlamperiode(ILP) vir ’n skaap dan 176 - 188 dae (8 maande)
wees as jy met skape wil boer soos wat ’n ekstensiewe vleisboer met vleisbeeste
boer.
’n Bees se baarmoeder
neem ongeveer 42 dae om te herstel (vra vir ’n melkboer of kyk na die TKP’s van
vleisbeeste).
42 dae is 6 weke, of dan
die helfte van 3 maande.
As jy dan eerder met
skape wil boer soos wat ’n melkboer met sy melkkoeie boer, kan / behoort jy
hulle 42 dae na lam weer te laat dek wat ’n TLP (tussenlamperiode) of ILP (Interlamperiode)
van 188 gee (146 + 42).
Involusie (die
herstelproses van ’n baarmoeder) in ’n skaap neem onder normale omstandighede
egter ongeveer 35 dae (effens korter as in ’n bees). Daar is heelwat goed wat
dit affekteer – die kondisie van die ooi, hoeveel lammers sy gehad het
(meerlingooie neem effens langer om te herstel), en dan is involusie ook
vinniger in ooie wie se lam of lammers dood is. Indien ’n ooi dus op 35 dae na
lam weer besit raak, is haar ILP 181 dae, en is dit derhalwe moontlik vir ’n
ooi om twee keer in een jaar te lam! Of dit egter onder “normale omstandighede”
volhoubaar is, is dalk ’n ander saak.
As jy dus die kudde in 2
deel om alternatiewelik elke 4 maande te lam, het jy die sg.
“Halfpaarstelsel”...
Nou het jy net helfte
van die ramme nodig in vergelyking met
’n een maal per jaar of 12 maande paarstelsel (1000 ooie, 3% ramme = 30
ramme). Of te wel dan 15 ramme vir die twee 500 grootte ooigroepe, want 4
maande gee voldoende herstelkans vir die ramme tussen paartye. Jy kan dus
helfte spaar op ramkoste per lam, of dubbeld begin betaal en beter ramme koop!
Kontantvloei word
geweldig verbeter want elke 4 maande word lammers gebore...
Dan moet ons ook weer ’n
slag kyk na die effek van meerlinge of fekunditeit.
Indien ’n ooi in die 8
maande lamstelsel twee enkelinge en slegs een tweeling in ‘n 2 jaar periode gee,
het ons 4 lammers in twee jaar, of dan wel ’n speenpersentasie van 200% per
jaar! Skielik lyk dit vir my heeltemal haalbaar om 200% per jaar te speen.
Omdat daar meer gereelde
paargeleenthede is word die hele produksieproses versnel. Oorloopooie word
vinniger herpaar. Hoekom ek so sê en nie “kan vinniger herpaar” word nie, is
omdat byna alle ander kriteria ook nou verander, en ons moet kophou om “appels
met appels” te vergelyk! Die syfers kan met saamgestelde rente by boekhou
vergelyk word.
Laer konsepsies word per
“paartyd” gekry, omdat die ooie in werklikheid 4 maande vinniger besit raak.
Indien jy ‘n 1000 ooie neem, en 70% van hulle raak op 8 maande besit, en 80%
van die 300 oorlope 4 maande later met ‘n 12 maande interval (onthou hulle het
nou ’n langer ruskans gehad), beteken dit dat 94% van jou ooie in een jaar
dragtig geraak het. Indien jy al die ooie wat dan 2 kanse gehad het prul, is jy
op gelyke voet met ’n boer wat sy ooi slegs een kans per jaar gee om besit te
raak. Anders gestel – indien 70% van jou kudde met elke paartyd 4 maande
vinniger vat, verhoog jy jou “produktiwiteit” met 33%, of kry jy as jy dit
omwerk na 1 jaar of per jaar toe, ’n derde meer lammers per jaar! Op ’n kudde
van 1000 ooie praat ons dus van 333 lammers meer per jaar, of teen vandag se
pryse van ongeveer R600 per lam, ’n addisionele inkomste van R199 800 (R200 000
klink beter!) per jaar. Let wel dat dit uit dieselfde hoeveelheid ooie is.
Hierdie ooie se onderhoudskoste was nog steeds dieselfde – hulle moet steeds
ontwurm, ingeënt, en “bestuur” word. Hul voedingsbehoeftes vermeerder – en wel
slegs met die van een produksiesiklus bokant onderhoud. Hulle sou mos steeds
moes leef al was hulle nie weer dragtig nie.
Jongooie kom vinniger in
produksie. Met sekere rasse paar ons nou al die lammers op 7 maande. Omdat daar
elke 4 maande ’n paartyd is, kry die wat oorslaan, of nie op 7 maande besit
raak nie weer op 11 maande weer ’n kans....of op 15, en heellaas weer op 19
maande soos in ‘n “tradisionele” of dan volgens my die “outydse” stelsel. Kom
ons kyk weer anders daarna – ’n jong ooitjie wat in ‘n “halfpaarstelse” 4 kanse
kry om besit te raak is dan eers op dieselfde voet as haar eweknie in ’n
tradisionele stelsel! Indien ons dan tradiosionele aanbevelings toepas soos dat
’n ooi slegs een kans gegee moet word, benadeel jy eintlik baie ooie in die
meerpaarstelsel. Die teendeel is egter waar – jy selekteer soveel strenger vir
vrugbaarheid dat jy binne ’n paar jaar met ’n vrugbaarder kudde sit waarin die
die ooie vroëer geslagsryp raak, vinniger dragtig word, meer gereeld lam, meer
meerlinge en kry en vir langer aanhou... Al hierdie dinge lei tot meer geld in
jou sak!
Kernwoorde word nou:
“kontantvloei, vroëer, vinniger, meer, meer gereeld/aanmekaar, beter...”
Die “mlijoen rand” vraag
is egter steeds wat dit jou ekstra gaan kos om hierdie ekstra inkomste te verdien.
Ook hier is dit nodig om te “verdiskonteer”. Kyk na die “tydwaarde van geld”.
Hoeveel is dit werd om jou kontantvloei te verbeter deur elke 4 maande ’n
lammeroes te hê om te bemark en om dan 70% van jou inkomste 4 maande vroëer te
kry, terwyl jy met die res van jou skape boer soos jou met sy skape geboer het
(of jou “buurman” steeds met syne boer!).
“Vereenvoudig” het ek
altyd gedink dat jy elke 2 jaar ’n ekstra lammeroes kry, maar “saamgesteld” is
die som heelwat groter, en besig om my brein heeltemal omver te werp. Ek sê sommer
reguit dat my koppie nou te klein raak en dat ons die rekenaars, boekhouers en
ekonome nader sal moet roep!
Mak dit nou sin as ek sê
dat skaapboerdery dus eintlik ’n Nommer- of SYFERSPEL is.
Alle paarstelsels word
eintlik op hierdie beginsels gebaseer...
So kom ons kyk dan weer
’n slag vanuit hierdie “hoek” na die verskillende paarstelsels.
Stelsels:
PAARSTELSELS:
Tradisionele stelsels:
- Een paarseisoen per jaar. (Interlamperiode = 365+ dae)
Oorgeneem by die Europese metode waar die skape `n kort paarseisoen het en
net een keer per jaar kan aanteel.
-
Twee paartye, bv Herfs
en Lente paring, maar ‘n ooi lam steeds net een maal per jaar. Die gemiddelde ILP
van ’n ooi in hierdie stelsel is steeds langer as 365.
Jong ooie kan 6 maande vroëer in produksie kom, en oorloopooie kan vinniger
herpaar word. Lewensdagproduksie word verhoog en ramme word beter benut wat
weer die ramkoste per lam afbring.
Meerpaarstelsels:
-
Ramme heeltyd by. Een paartyd, heeljaar
lank. Bestuur word bemoeilik omdat jy nie pro-aktief kan optree nie.
Rekordhouding is meestal swak en boere weet nie regtig wat hul resultate is
nie. Verliese is gewoonlik hoog. Siektes soos is Peestersiekte en “Ramsiekte” is
volop in hierdie stelsel, veral onder ekstensiewe vleisskaapboerderye.
Finansiële resultate is deurgans swakker as wat meeste boere besef. Heelwat ooie
lam dikwels 2 maal in een jaar, maar nie met ‘n 6 maande interval nie! (een
keer in Januarie, en die volgende keer in Desember – dus 10-11 maande, of meer
as 300 dae uitmekaar. Lamverliese soos resorpsies, aborsies en lamvrektes is
gewoonlik baie hoog omdat intensiewe versorging en bestuur nie plaasvind nie. Ongediertes gedy ook op hierdie stelsel
omdat ’n deurlopende voedselbron beskikbaar is.
-
Die 1,2,3,4-Stelsel: Hierdie stelsel is deur Dave
Midgley “ontwerp” om meer struktuur aan
die vorige stelsel te gee en is veral geskik vir klein kuddes of vir kommunale
areas waar daar nie drade of kampe is waar die ramme appart van die ooie gehou
kan word nie. In plaas daarvan dat die ram dan gebruik word om paartye te
“manupileer en te implimenteer”, maak ons van prikkelvoeding en
“prikkeldosering” gebruik om die ooie te prikkel om in siklus te kom en meer
gereeld te lam. Bestuur, dosering en inentings word op strategiese tye toegepas
– elke 4 maande. Dit werk dan net mooi uit dat dit ongeveer ’n maand voor lam
is vir die dragtige ooie, en die ooie wat dan nie dragtig is nie word deur die
beter bestuur en byvoeding geprikkel om op hitte te kom om dan weer 5 maande
later te lam. Omdat die diere in hierdie stelsel meestal saans gekraal word,
word byvoeding hier gegee om te keer dat die “buurman” se diere dit nie opvreet
nie. D.m.v. ’n kruiphek in een hoek van die kraal kry die lammers dan toegang
tot ’n kruiprantsoen. Ons skep dan `n amperse “halfpaarstelsel”. Die hele kudde (Ramme, ooie, en
lammers loop dus saam as een trop, en meeste ooie lam dan rofweg 3 keer in 2
jaar!
-
Die 4 maal in 3 jaar-stelsel (ILP = 270+ dae)
3 jaar x 12 maande = 36 maande.`n Ooi lam dus elke 9 maande.
Hier het jy gewoonlik 3 troppe, 4 paar- en lamtye per jaar met 1 trop wat 2
keer in 1 jaar gepaar word(en/of lam). Die hersteltyd na lam is effens langer
en jong ooie kan vroëer in produksie kom. Oorlope kan ook vinniger herpaar
word. Lewensdagproduksie is hoër as in vorige stelsels, maar laer as in die
volgendes.
-
Die 3 maal in 2 jaarstelsel. (ILP = 240+ dae).
Ooie lam elke 8 maande. Hier boer ons met skape soos `n vleisbeesboer met
sy beeste boer – paar 3 maande na geboorte, wanneer die baarmoeder reeds goed
herstel het (involusie volledig is).
o 1 trop: Dit is die swakste opsie! Ramme word onderbenut. Kontantvloei is sleg –
in een jaar het jy slegs 1 lammeroes en die volgende jaar dan 2.
“Belastingskuiwe“ word nodig. Een van die 3 paar- of lamtye val gewoonlik “buitenstyd“ wat tot laer produksie lei en
kontantvloei verder deurmekaar gooi.
o Halfpaarstelsel: Hier word die kudde in 2 verdeel (halveer) en net helfte van die normale
hoeveelheid ramme word benodig. (Jy kan dus ‘n “Besparing“ in ramkoste per lam
kry, of dan eerder duurder (beter?) ramme aankoop en hulle effektiewer benut.
Die kuddes wissel mekaar af, deur een trop elke vier maande te paar (helfte van
8). Daar is dus 3 paar/lamtye per jaar, wat `n goeie kontantvloei tot gevolg
het. (Sommige kliënte kry 12/12 maande van die jaar ’n inkomste). Jong ooie
word vroeg gepaar en oorlope word ook vinniger herpaar, en die wat nie besit
raak nie word vinniger uitgeskot. Afhangende van die uitgroei of dan gewig, kan
`n jong ooi dus al op 7,11,15 of 19 maande in produksie kom (gepaar word)
o Dubbel Halfpaar of CAMAL stelsel: Hier is daar
teoreties 4 kuddes, maar in die praktyk slegs 3 omdat die eerste groep weer die
vierde een word. Daar is 6 paartye per jaar – elke 2 maande. Ooie word vinniger
herpaar, maar dit is meer arbeidsintensief en goeie voeding word deurgans
vereis.Twee ramtroppe word benodig agv die kort herstelperiode tussen paartye.
-
Die Stêrstelsel (5 keer in 3 jaar, of ook bekend as die “Magee stelsel”). Hier is die ILP = 219+ dae.
Die KGF (kleinste gemeenskaplike faktor) van 146 dae (die dratyd van ‘n
ooi) en 365 (dae in ‘n jaar) is
73(Helfte van 146 en `n vyfde van 365). Daar is dus 5 paartye per jaar, een
elke 73 dae. In die stelsel is daar 3 lamgroepe en word hoër voedingsvlakke
byna deurgans vereis, 2 ramtroppe word benodig, dis arbeidsintensief, en om
regtig goeie besetting te kry moet vroegspeen van lammers gedoen word. Herpaar
vinniger. Meer paartye. Goeie kontantvloei. Lewensdagproduksie word verhoog. Op
die Internet word verwys na ’n trop volwasse ooie by Cornel Universiteit wat ’n
allemintige lampersentasie van 535% per jaar in hierdie stelsel behaal!
-
Die "Melkery Stelsel“: (ILP = 191+ dae)
Ramme kom 45 dae na lamtyd begin by, en wel vir 45 dae. Involusie is dikwels,
veral in die ooie wat laat in die vorige siklus gelam het, nog nie volledig nie
en dit lei tot ‘n verhoogde getal resorbsies. Die verdwynfaktor en prul% is ook
dikwels baie hoog. Ek is nog nie oortuig dat die noodwendig die winsgewendste
stelsel is nie, maar het finansiële syfers gesien van ’n Merinoboer van
Hanover, onder Karoo omstandighede, wat ver bokant die syfers van ander boere
in die Karoo is!
Haastig is nie altyd vinnig nie, en deur soms net bietjie te wag, kan ’n
beter besetting en meer tweelinge verkry word! Persoonlik verkies ek dus in
meeste gevalle die halfpaar of Magee stelsels, omdat “beter bestuur” toegepas
kan word en beter resultate met minder moeite verkry word.
Elke stelsel het sy
voor- en nadele. Verhoogde lamproduksie moet meer as vergoed vir die verhoogte
insetkostes, arbeid en bestuur om dit te regverdig.
Raadpleeg asseblief `n
kenner of kundige – daar is steeds baie onkunde op die gebied!!!!
Sodra dan op ’n stelsel
besluit is, word ’n bestuursprogram
uitgewerk vir die besondere stelsel, of dan vir JOU en JOU OMSTANDIGHEDE – nie
vir ’n area, of volgens reënval of seisoene nie!!! Neem die DIER en wat in sy
liggaam gebeur in ag.(Die Fisiologies Belangrike Tye)
En dan hang dit ook af
van wat jy van die skaap vra of verwag.
Die volgende beginsel
geld: VRA MEER = GEE MEER! (Kos, Ent, Doseer)
Die kuddestruktuur lyk
anders in ’n intensiewe stelsel, omdat jy vroeër paar, en meer gereeld, en vir
langer aanhou...die “kudde” word dus ouer en die struktuur lyk anders!
Vervangingspersentasies verander (minder ooie word vervang, so ons kan strenger
selekteer, en meer lammers bly oor om te verkoop as aanteeldiere of vir
slagdoeleindes.(Dit is weereens belangrik om die stelsel te verstaan – in die
begin kan dit gebeur dat ooie “aanpas”, en effens minder tydens die eerste
verkorte paartyd besit raak. Hierdie ooie vat egter meestal dan met die tweede
paartyd en lam steeds jaarliks soos voorheen). Lampersentasies moet anders
geinterpreteer word omdat ‘n 7 maande oue ooitjie en ‘n 19 maande oue ooitjie
fisiologies 2 verskillende diere is! Inkomste per teelooi wat die “stadige
stelsels” so graag gebruik gee dus ‘n “skewe” beeld van die werklikheid!
Wat is die definisie van
‘n “teelooi”? (As dit ’n tweetand- en ouer ooi is, moet alle lammers wat dan
vroëer aankom as lammers tel, maar die jong ooitjie NIE as ‘n ooi tel nie! Dit
is tog wat indirek by “jaarstelsels” met wolproduksie gebeur! Dit is hoe ’n
gladdelyf Merino ooi wat tussen 3 en 4 kg wol dra se baas skielik ’n
rouwolproduksie van meer as 14kg per “teelooi” kry!
En dan is daar ander siektes
wat in die prentjie inkom soos voedingsteurnisse en stres-geassosieerde
toestande soos “maagsere”.
Ons het ook te make met
ander voedingsbehoeftes...
Laer miseiertellings
raak skielik meer relevant!...
Samevatting:
Ek vind dit geweldig
frustrerend as ek lees en sien dat iemand sê
dat hy die die “drie lamseisoene in twee jaar” stelsel toegepas het en
“afskiet”, maar dan sy lamseisoene aangee as Maart, Mei/Junie en September. As
‘n mens die syferspel speel, sal gesien word dat dit beslis nie die genoemde
stelsel was nie, en dat ons dus nie “dieselfde taal” praat nie!
Net so pla
“spogsyfers” my!
‘n Speenpersentasie
van 150% met ‘n 33% vervanging in ‘n een maal per jaar lamstelsel(ILP van 365)
beteken dat die ooikudde elke 3 jaar “vervang” word. Anders gestel, dat die
gemiddelde ooi slegs 3 keer in haar lewe op so ‘n plaas lam. Dan beteken dit
dat sy in haar lewe op die plaas slegs 4.55 lammers geproduseer het, of ‘n
lewensdagproduksie van 4.55 lammers het. In ‘n “Halfpaarstelsel” met ‘n speen% van 150%, produseer ‘n ooitjie
wat op 11 maande die eerste keer vat en op 16 maande lam, dit in 3 jaar se tyd.
Haar lewensdagproduksie tot op 6 jarige ouderdom is 9 lammers, of dubbeld per
gelykstaande leeftyd as in die eersgenoemde stelsel waar ‘n ooitjie op 24
maande vir die eerste keer lam, 3 keer jaarliks daarna, en die laaste lam dan
grootmaak tot by speen op 6 maande!
Ons sal weer ‘n slag
mooi moet besin oor ons “norme” en moet kyk na die effek op winsgewendheid van
kuddesamestelling, dae tot “slag” of verkoop, die ouderdom van eerste paar (OEP)
en ouderdom van eerste lam (OEL), langslewendheid, ILP, kontantvloei,
voeromsetverhoudings, uitslag