Natural Farming

Natural Farming

Soil - our connector!

Soil - our connector!

Saturday, February 8, 2020

Johne’s se siekte in skape - wenke


By on 6:28 PM


  Dr Lourens Havenga  

Johne’s is ’n siekte wat tot vermaering van skape ly en word veroorsaak deur die bakterie Mycobacterium paratuberculosis, wat hoofsaaklik in die dunderm groei en verdikking veroorsaak. Die dundermwand verdik geleidelik en veroorsaak ’n daling in die absorpsie van verteerde voedingstowwe. Die siekte het gewoonlik ’n lang inkubasieperiode van tot 2 jaar, maar sodra diere begin gewig verloor, vrek hulle binne ’n kort periode van 3-6 maande. Maagwerk kan voorkom, maar is nie tipies nie. Merinos is meer vatbaar as kruisras diere. Daar is geen effektiewe behandeling teen die siekte nie.

Hoe versprei die siekte?
Die bakterieë word in groot getalle in die mis uitgeskei. Diere tel dan die besmetting op deur die bek vanaf spene, weiding en water, wat besmet is met die bakterieë. Die bakterieë kan vir maande in koelte kolle wat genoeg vog bevat, oorleef. 


Hoe versprei die siekte tussen plase?
Besmette diere wat ingekoop word, is die hoofbron. Mis en afloopwater wat besmet is, kan ook die siekte versprei. Sien ook   http://landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/hoe-johne-se-siekte-versprei/

Hoekom moet ek bewus wees van Johne’s?
In beide Australië en Suid-Afrika is vrektes van 10 % in volwasse skaap’n realiteit in kuddes waar niks gedoen word om die siekte te beheer nie. Onlangse navorsing uit Nieu Seeland, toon dat die siekte ook tot 17% afname in speenmassa asook 10 % afname in wolproduksie.

Hoe bepaal ek of ek die siekte in my kudde het?
Daar is gewoonlik geen tekens vir die eerste paar jaar nie. Die eerste teken is gewoonlik diere wat “lyk asof hulle nie reageer op behandeling vir inwendige parasiete nie – hulle bly maer en vrek later”. Die beste ouderdomsgroep om in te soek is die 2-3 jaar oud groep. Nader jou veearts, aangesien daar histopatologie van die dunderm gedoen moet word om dit te bevestig. Alternatiewelik is daar sekere bloedtoetse, maar dit is nie ten volle betroubaar op eenmalige toetsing nie.

Let wel: Johne’s is ’n beheerde siekte en die plaaslike staatsveearts moet onmiddelik in kennis gestel word indien u selfs die vermoede het dat die siekte by u voorkom. 

Wat kan ek doen as die siekte wel in my kudde voorkom? Moenie ooie op baie kort weiding of weiding wat swaar met mis besmet is laat lam nie. Vermy dit om byvoeding direk op die grond te gee, aangesien misbesmetting gereeld hier voorkom. Hou die kudde so jonk as moontlik. Ent vervangingsdiere op ’n jong ouderdom (4-6 weke).

Hoe gebruik ek die Johne’s entstof:
Die entstof is slegs beskikbaar op voorskrif van u plaaslike staatsveearts. Dit is ‘n geïnaktiveerde (dooie) entstof wat ’n mineraal olie-in-olie adjuvant bevat. Hierdie adjuvant verbeter die immuniteit, maar is ook verantwoordelik vir ‘n swelling. Die swelling ontstaan op die inspuitplek en varieer van ertjie-tot golfbalgrootte. Sommige vorm ’n steriele abses wat oopgaan, maar self genees. Daar moet ook gewaak word dat persone nie hulself per ongeluk inspuit nie, aangesien ‘n soortgelyke swelling sal ontstaan wat mediese behandeling sal noodsaak. Die dosis is 1 ml, onderhuids, slegs hoog op die nek, direk onder die oor. Dit word slegs eenmalig in ‘n dier gebruik.

Meer inligting Dr Lourens Havenga by 082 902 8666.

0 comments:

Post a Comment