Vir
miljoene jare lewe diere al saam met parasiete.
Wat merkwaardig is, is dat elke gasheerspesie sy eiesoortige
parasietspesies het. Daar is ’n paar
parasiete wat wel in meer as een diersoorte kan voorkom.
’n Voorbeeld van so ‘n parasiet is die
lewerslak .
Dit is nie
in die belang van die parasiet dat al sy gashere doodgemaak word nie want dan
sal die parasietspesie self uitsterf.
Wat gewoonlik in die natuur gebeur, is dat die geneties swakkere diere
so deur die parasiete geaffekteer word dat hulle deur roofdiere gevang en uit
die sisteem verwyder word. Parasiete is
aangestel om mee te help om die “swakkelinge”
in die sisteem te identifiseer en te help illumineer!
Die mens
het die natuur so verander deur sy boerderymetodes dat hy daagliks met
parasiete in ’n oorlog gewikkel is!
Praktyke wat aanleiding gee tot stagnasie, oorbevolking en stres
toestande veroorsaak dikwels dat parasiete die oorhand kry. Voorbeelde waar stagnasie voorkom is in voerkrale
en waar groot getalle diere in klein kampies laat wei word. Waar te veel diere in kampe bewei word
(oorbevolking), bou die getalle van parasiete op en is daar so ’n oormag dat
sekere gashere nie die parasiete kan hanteer nie. Waar diere onder stres verkeer soos bv. waar
siektes en voedingstekorte voorkom en diere gebruk word om te produseer, is
hulle ook meer vatbaar vir parasiete.
Daar moet
ook altyd in gedagte gehou word dat jong diere, wie se immuunstelsel nog nie
goed ontwikkel is nie, ook baie meer vatbaar vir parasiete is. Rondom lamtyd of kalftyd is moerderdiere ook
meer vatbaar vir parasiete.
In die
onlangse verlede is daar swaar geleun op chemikalieë om parasiete te
beheer. Deur die oor en wangebruik van
hierdie middels is daar vandag sekere geselekteerde parasietstamme wat haas
onbeheerbaar is.
Omdat nuwe
middels so duur en skaars is, sou dit raadsaam wees om te luister wat die
parasiete vir ons wil sê! Boer met diere
wat aangepas is om saam met parasiete te lewe!
Raak ontslae van diere wat moeilik saam met die parasiete klaarkom. Let op jou boerdery metodes en waar moontlik
vermy stagnasie, oorbevolking en stres.
Die
FAMACHA sisteem is ontwikkel om skape te selekteer wat saam met haarwurm kan
bestaan. Deur gereeld na die oogslymvlieskleur
van skape te kyk kan skape met bleek slymvliese geïdentifiseer word
en uit die sisteem verwyder word. Deur
gereeld skape te weeg en kondisietellings te dokumenteer kan diere wat
oorvatbaar vir ander parasiet spesies is ook geïdentifiseer en
verwyder word.
Vir verdere besonderhede vir hierdie sisteme kontak jou naaste veearts
0 comments:
Post a Comment