Natural Farming

Natural Farming

Soil - our connector!

Soil - our connector!
Showing posts with label Afrikaans. Show all posts
Showing posts with label Afrikaans. Show all posts

Sunday, October 21, 2018

Skeertyd deur Josua du Toit van Ouplaas Prins Albert Hamlet Ceres











Kunstenaar Barbara Philip se uitstaande skildery. Sien haar kunswerke op haar Facebookblad of op    http://silvermere.africanpainting.com/

Skeertyd deur Josua du Toit van Ouplaas Prins Albert Hamlet  Ceres

Langwol merino’s wat teen mekaar stuit
in maalbewegings soos ‘n kabbelende spruit
groot wolstapels wat oor hul rue rol
tot uiteindelik die kraalhek
agter hul sluit.

Dis weer tyd om te skeer
Energie en opwinding laai die atmosfeer,
‘n oes gaan inkom met ‘n ryke ritueel,
‘n skouspel beloof om hier af te speel

Die skeerders skerts
Oor die voorkoms van die trop -
Swaargewigte met plooie hier en daar
Die vangkraal volgeprop,
Vasvat en styfstaan vir dae aanmekaar

Die voorman gee die teken
En hul storm die vangkraal in -
‘n stryd om die ligste vangs te win
Die skeerders het begin:
Lang rugte knak oor vaal figure
Die kommentaar gaan saam
Met die ritmiese klap van die skêre
Elk op sy eie tyd en met sy eie faam

Penswol word deur die vloerman opgeraap
Vir die stukkiestafel.
Vagvol rol af soos branders
Sonder om uit te rafel
Die witskaap is verlig
Om die skeervloer te verlaat
Terwyl geoefende oë reeds soek
Vir sy volgende maat

Intussen word die vag haastig gevat
En die wolgooier skiet dit
Soos ‘n groot karos
Op die tafel se hortjiesblad

Behendig word die rugwol en randte verwyder
Die vagwol land in die regte bak
En die wolgooier staan en wag
Met die volgnde vag

Onverpoos gaan dit voort
Skaap vir skaap, vag vir vag
die hokskaap laat ons bietjie wag en
en kry weer veslag
oor sy dightheid en sy drag

Dan word die skêre geslyp
Op ‘n klip wat saam met die skeerders reis
en weer word gewag vir die laaste man
voor die teken om te vang

Die stormloop word herhaal
en die musiekspel
van die skêre vertel
in hul eie taal
die volle verhaal

Hok vir hok tot die son gaan slaap
en die laastes getel word, skaap vir skaap
dan word die skêre  opgehang
die lootjies soos dobbelstene
gegooi, getel en aangeteken
terwyl hulle slyp met uiutgestrekte bene

Die vuur in die kookskerm brand hoog
terwyl dien kok die pap en vleis berei
word die skaapvel en komberse
op die skeerplek oopgesprei –
skeerplek, werkplek, rusplek,
nomadiese koninkryk vir hom beskik
eenvoudig soos sy toerusting
twee skêre,’n slypklip en waterblik

As die wolbakke vol loop
kom die woltrappers by
wat die wokl in ‘n pers trap
tot die baal sy vorm kry
en gepers word tot by blinkstyf dy

Die netjiese stapels skoonwit bale
is die trots van die wolkweker
en dra sy naam
die vrug van sy arbeid
met sy dankbaarheid saam-
‘n simbool van sorg en tradisie
die kleding van die mensdom sy missie

Uiteindelik is die laaste trop van hul drag bevry
en hulle klim die hange in ‘n neutvars gewaad
almal wat deelneem is bly
want ‘n taak is voltooi
die skeersel en die skape is mooi

Nou is tyd om boeke op te maak
Lootjies word getel om die loon te bepaal
Wat man vir man self kom haal
Skeerwonde was binne perk
En daar is bonus vir goeie werk

Die plaasvrou kom groet
Met ‘n stel gebreide musse
of serpe vir die skeerders
om ons saamwerk te onthou
by hul tuiste in die winterkou

Die wolkweker en die voorman groet mekaar
met ‘n ondelinge kontrakgebaar
vir die volgende skeertyd
anderkant van die jaar

Mag ons die Goeie Herder
tevrede stel
as Hy ons elke dag se lootjies tel.

Monday, February 12, 2018

Skaapboerdery – entlik maar 'n “Syferspeletjie”




Dr Dave Midgley
Al hoe meer boere is besig om meer intensief met skape onder ekstensiewe toestande te boer. Ekstensiewe boere paar intensief deur hul ooie kunsmatig te insemineer, hetsy met servikale of laparoskopiese inseminasie. Die gevolg word dan dat hulle intensief moet lam. Ander boere word as gevolg van ongediertes of van hoë lamverliese genoodsaak om intensief in lamhokkies te laat lam. Hierdie stelsels verg uiteraard hoër kapitale- en arbeidsinsette. Groter druk word op produksie geplaas a.g.v. die hoër insetkostes. En voor ons ons oë uitvee, is ons vasgevang in ‘n “kostespiraal” wat slegs met hoër produksie oorkom kan word.
Skielik moet ‘n boer sy boerdery as ‘n besigheid bedryf. Kophou, en baie somme maak!
So kom ons “speel” ‘n bietjie met SYFERS:
1 jaar het 12 maande.
2 jaar het 24 maande.
’n Skaap dra 5 maande (146 dae).
Indien ’n ooi 3 maal in 2 jaar lam, beteken dit dan dat sy elke 8 maande lam.           (3 x 8 = 24)
Om dus elke 8 maande te lam het jy 3 maande om ’n ooi in skoon, siklies en dragtig te kry.
In beeste paar ons 3 maande nadat ’n koei gekalf het, so ons weet dat dit genoeg tyd is vir ’n baarmoeder om in te herstel...
’n TKP (tussenkalfperiode) van 12 maande of 365 dae word as ideaal beskou in ’n bees.
Met dieselfde beginsel moet die ideale interlamperiode(ILP) vir ’n skaap dan 176 - 188 dae (8 maande) wees as jy met skape wil boer soos wat ’n ekstensiewe vleisboer met vleisbeeste boer.
’n Bees se baarmoeder neem ongeveer 42 dae om te herstel (vra vir ’n melkboer of kyk na die TKP’s van vleisbeeste).
42 dae is 6 weke, of dan die helfte van 3 maande.
As jy dan eerder met skape wil boer soos wat ’n melkboer met sy melkkoeie boer, kan / behoort jy hulle 42 dae na lam weer te laat dek wat ’n TLP (tussenlamperiode) of ILP (Interlamperiode) van 188 gee (146 + 42).
Involusie (die herstelproses van ’n baarmoeder) in ’n skaap neem onder normale omstandighede egter ongeveer 35 dae (effens korter as in ’n bees). Daar is heelwat goed wat dit affekteer – die kondisie van die ooi, hoeveel lammers sy gehad het (meerlingooie neem effens langer om te herstel), en dan is involusie ook vinniger in ooie wie se lam of lammers dood is. Indien ’n ooi dus op 35 dae na lam weer besit raak, is haar ILP 181 dae, en is dit derhalwe moontlik vir ’n ooi om twee keer in een jaar te lam! Of dit egter onder “normale omstandighede” volhoubaar is, is dalk ’n ander saak.
As jy dus die kudde in 2 deel om alternatiewelik elke 4 maande te lam, het jy die sg. “Halfpaarstelsel”...
Nou het jy net helfte van die ramme nodig in vergelyking met  ’n een maal per jaar of 12 maande paarstelsel (1000 ooie, 3% ramme = 30 ramme). Of te wel dan 15 ramme vir die twee 500 grootte ooigroepe, want 4 maande gee voldoende herstelkans vir die ramme tussen paartye. Jy kan dus helfte spaar op ramkoste per lam, of dubbeld begin betaal en beter ramme koop!
Kontantvloei word geweldig verbeter want elke 4 maande word lammers gebore...
Dan moet ons ook weer ’n slag kyk na die effek van meerlinge of fekunditeit.
Indien ’n ooi in die 8 maande lamstelsel twee enkelinge en slegs een tweeling in ‘n 2 jaar periode gee, het ons 4 lammers in twee jaar, of dan wel ’n speenpersentasie van 200% per jaar! Skielik lyk dit vir my heeltemal haalbaar om 200% per jaar te speen.
Omdat daar meer gereelde paargeleenthede is word die hele produksieproses versnel. Oorloopooie word vinniger herpaar. Hoekom ek so sê en nie “kan vinniger herpaar” word nie, is omdat byna alle ander kriteria ook nou verander, en ons moet kophou om “appels met appels” te vergelyk! Die syfers kan met saamgestelde rente by boekhou vergelyk word.
Laer konsepsies word per “paartyd” gekry, omdat die ooie in werklikheid 4 maande vinniger besit raak. Indien jy ‘n 1000 ooie neem, en 70% van hulle raak op 8 maande besit, en 80% van die 300 oorlope 4 maande later met ‘n 12 maande interval (onthou hulle het nou ’n langer ruskans gehad), beteken dit dat 94% van jou ooie in een jaar dragtig geraak het. Indien jy al die ooie wat dan 2 kanse gehad het prul, is jy op gelyke voet met ’n boer wat sy ooi slegs een kans per jaar gee om besit te raak. Anders gestel – indien 70% van jou kudde met elke paartyd 4 maande vinniger vat, verhoog jy jou “produktiwiteit” met 33%, of kry jy as jy dit omwerk na 1 jaar of per jaar toe, ’n derde meer lammers per jaar! Op ’n kudde van 1000 ooie praat ons dus van 333 lammers meer per jaar, of teen vandag se pryse van ongeveer R600 per lam, ’n addisionele inkomste van R199 800 (R200 000 klink beter!) per jaar. Let wel dat dit uit dieselfde hoeveelheid ooie is. Hierdie ooie se onderhoudskoste was nog steeds dieselfde – hulle moet steeds ontwurm, ingeënt, en “bestuur” word. Hul voedingsbehoeftes vermeerder – en wel slegs met die van een produksiesiklus bokant onderhoud. Hulle sou mos steeds moes leef al was hulle nie weer dragtig nie.
Jongooie kom vinniger in produksie. Met sekere rasse paar ons nou al die lammers op 7 maande. Omdat daar elke 4 maande ’n paartyd is, kry die wat oorslaan, of nie op 7 maande besit raak nie weer op 11 maande weer ’n kans....of op 15, en heellaas weer op 19 maande soos in ‘n “tradisionele” of dan volgens my die “outydse” stelsel. Kom ons kyk weer anders daarna – ’n jong ooitjie wat in ‘n “halfpaarstelse” 4 kanse kry om besit te raak is dan eers op dieselfde voet as haar eweknie in ’n tradisionele stelsel! Indien ons dan tradiosionele aanbevelings toepas soos dat ’n ooi slegs een kans gegee moet word, benadeel jy eintlik baie ooie in die meerpaarstelsel. Die teendeel is egter waar – jy selekteer soveel strenger vir vrugbaarheid dat jy binne ’n paar jaar met ’n vrugbaarder kudde sit waarin die die ooie vroëer geslagsryp raak, vinniger dragtig word, meer gereeld lam, meer meerlinge en kry en vir langer aanhou... Al hierdie dinge lei tot meer geld in jou sak!
Kernwoorde word nou: “kontantvloei, vroëer, vinniger, meer, meer gereeld/aanmekaar, beter...”
Die “mlijoen rand” vraag is egter steeds wat dit jou ekstra gaan kos om hierdie ekstra inkomste te verdien. Ook hier is dit nodig om te “verdiskonteer”. Kyk na die “tydwaarde van geld”. Hoeveel is dit werd om jou kontantvloei te verbeter deur elke 4 maande ’n lammeroes te hê om te bemark en om dan 70% van jou inkomste 4 maande vroëer te kry, terwyl jy met die res van jou skape boer soos jou met sy skape geboer het (of jou “buurman” steeds met syne boer!).
“Vereenvoudig” het ek altyd gedink dat jy elke 2 jaar ’n ekstra lammeroes kry, maar “saamgesteld” is die som heelwat groter, en besig om my brein heeltemal omver te werp. Ek sê sommer reguit dat my koppie nou te klein raak en dat ons die rekenaars, boekhouers en ekonome nader sal moet roep!
Mak dit nou sin as ek sê dat skaapboerdery dus eintlik ’n Nommer- of SYFERSPEL is.
Alle paarstelsels word eintlik op hierdie beginsels gebaseer...
So kom ons kyk dan weer ’n slag vanuit hierdie “hoek” na die verskillende paarstelsels.
Stelsels:
PAARSTELSELS:
Tradisionele stelsels:
-     Een paarseisoen per jaar. (Interlamperiode = 365+ dae)
Oorgeneem by die Europese metode waar die skape `n kort paarseisoen het en net een keer per jaar kan aanteel.
-          Twee paartye, bv Herfs en Lente paring, maar ‘n ooi lam steeds net een maal per jaar. Die gemiddelde ILP van ’n ooi in hierdie stelsel is steeds langer as 365.
Jong ooie kan 6 maande vroëer in produksie kom, en oorloopooie kan vinniger herpaar word. Lewensdagproduksie word verhoog en ramme word beter benut wat weer die ramkoste per lam afbring.
Meerpaarstelsels:
-          Ramme heeltyd by. Een paartyd, heeljaar lank. Bestuur word bemoeilik omdat jy nie pro-aktief kan optree nie. Rekordhouding is meestal swak en boere weet nie regtig wat hul resultate is nie. Verliese is gewoonlik hoog. Siektes soos is Peestersiekte en “Ramsiekte” is volop in hierdie stelsel, veral onder ekstensiewe vleisskaapboerderye. Finansiële resultate is deurgans swakker as wat meeste boere besef. Heelwat ooie lam dikwels 2 maal in een jaar, maar nie met ‘n 6 maande interval nie! (een keer in Januarie, en die volgende keer in Desember – dus 10-11 maande, of meer as 300 dae uitmekaar. Lamverliese soos resorpsies, aborsies en lamvrektes is gewoonlik baie hoog omdat intensiewe versorging en bestuur nie plaasvind nie. Ongediertes gedy ook op hierdie stelsel omdat ’n deurlopende voedselbron beskikbaar is.
-          Die 1,2,3,4-Stelsel: Hierdie stelsel is deur Dave Midgley  “ontwerp” om meer struktuur aan die vorige stelsel te gee en is veral geskik vir klein kuddes of vir kommunale areas waar daar nie drade of kampe is waar die ramme appart van die ooie gehou kan word nie. In plaas daarvan dat die ram dan gebruik word om paartye te “manupileer en te implimenteer”, maak ons van prikkelvoeding en “prikkeldosering” gebruik om die ooie te prikkel om in siklus te kom en meer gereeld te lam. Bestuur, dosering en inentings word op strategiese tye toegepas – elke 4 maande. Dit werk dan net mooi uit dat dit ongeveer ’n maand voor lam is vir die dragtige ooie, en die ooie wat dan nie dragtig is nie word deur die beter bestuur en byvoeding geprikkel om op hitte te kom om dan weer 5 maande later te lam. Omdat die diere in hierdie stelsel meestal saans gekraal word, word byvoeding hier gegee om te keer dat die “buurman” se diere dit nie opvreet nie. D.m.v. ’n kruiphek in een hoek van die kraal kry die lammers dan toegang tot ’n kruiprantsoen. Ons skep dan `n amperse “halfpaarstelsel”. Die hele kudde (Ramme, ooie, en lammers loop dus saam as een trop, en meeste ooie lam dan rofweg 3 keer in 2 jaar!
-          Die 4 maal in 3 jaar-stelsel (ILP = 270+ dae)
3 jaar x 12 maande = 36 maande.`n Ooi lam dus elke 9 maande.
Hier het jy gewoonlik 3 troppe, 4 paar- en lamtye per jaar met 1 trop wat 2 keer in 1 jaar gepaar word(en/of lam). Die hersteltyd na lam is effens langer en jong ooie kan vroëer in produksie kom. Oorlope kan ook vinniger herpaar word. Lewensdagproduksie is hoër as in vorige stelsels, maar laer as in die volgendes.
-          Die 3 maal in 2 jaarstelsel. (ILP = 240+ dae).
Ooie lam elke 8 maande. Hier boer ons met skape soos `n vleisbeesboer met sy beeste boer – paar 3 maande na geboorte, wanneer die baarmoeder reeds goed herstel het (involusie volledig is).
o   1 trop: Dit is die swakste opsie! Ramme word onderbenut. Kontantvloei is sleg – in een jaar het jy slegs 1 lammeroes en die volgende jaar dan 2. “Belastingskuiwe“ word nodig. Een van die 3 paar- of lamtye val gewoonlik  “buitenstyd“ wat tot laer produksie lei en kontantvloei verder deurmekaar gooi.
o   Halfpaarstelsel: Hier word die kudde in 2 verdeel (halveer) en net helfte van die normale hoeveelheid ramme word benodig. (Jy kan dus ‘n “Besparing“ in ramkoste per lam kry, of dan eerder duurder (beter?) ramme aankoop en hulle effektiewer benut. Die kuddes wissel mekaar af, deur een trop elke vier maande te paar (helfte van 8). Daar is dus 3 paar/lamtye per jaar, wat `n goeie kontantvloei tot gevolg het. (Sommige kliënte kry 12/12 maande van die jaar ’n inkomste). Jong ooie word vroeg gepaar en oorlope word ook vinniger herpaar, en die wat nie besit raak nie word vinniger uitgeskot. Afhangende van die uitgroei of dan gewig, kan `n jong ooi dus al op 7,11,15 of 19 maande in produksie kom (gepaar word)
o   Dubbel Halfpaar of CAMAL stelsel: Hier is daar teoreties 4 kuddes, maar in die praktyk slegs 3 omdat die eerste groep weer die vierde een word. Daar is 6 paartye per jaar – elke 2 maande. Ooie word vinniger herpaar, maar dit is meer arbeidsintensief en goeie voeding word deurgans vereis.Twee ramtroppe word benodig agv die kort herstelperiode tussen paartye.

-          Die Stêrstelsel (5 keer in 3 jaar, of ook bekend as die “Magee stelsel”). Hier is die ILP = 219+ dae.
 Die KGF (kleinste gemeenskaplike faktor) van 146 dae (die dratyd van ‘n ooi) en 365 (dae in ‘n jaar) is 73(Helfte van 146 en `n vyfde van 365). Daar is dus 5 paartye per jaar, een elke 73 dae. In die stelsel is daar 3 lamgroepe en word hoër voedingsvlakke byna deurgans vereis, 2 ramtroppe word benodig, dis arbeidsintensief, en om regtig goeie besetting te kry moet vroegspeen van lammers gedoen word. Herpaar vinniger. Meer paartye. Goeie kontantvloei. Lewensdagproduksie word verhoog. Op die Internet word verwys na ’n trop volwasse ooie by Cornel Universiteit wat ’n allemintige lampersentasie van 535% per jaar in hierdie stelsel behaal!
-          Die "Melkery Stelsel“: (ILP = 191+ dae)
Ramme kom 45 dae na lamtyd begin by, en wel vir 45 dae. Involusie is dikwels, veral in die ooie wat laat in die vorige siklus gelam het, nog nie volledig nie en dit lei tot ‘n verhoogde getal resorbsies. Die verdwynfaktor en prul% is ook dikwels baie hoog. Ek is nog nie oortuig dat die noodwendig die winsgewendste stelsel is nie, maar het finansiële syfers gesien van ’n Merinoboer van Hanover, onder Karoo omstandighede, wat ver bokant die syfers van ander boere in die Karoo is!
Haastig is nie altyd vinnig nie, en deur soms net bietjie te wag, kan ’n beter besetting en meer tweelinge verkry word! Persoonlik verkies ek dus in meeste gevalle die halfpaar of Magee stelsels, omdat “beter bestuur” toegepas kan word en beter resultate met minder moeite verkry word.
Elke stelsel het sy voor- en nadele. Verhoogde lamproduksie moet meer as vergoed vir die verhoogte insetkostes, arbeid en bestuur om dit te regverdig.
Raadpleeg asseblief `n kenner of kundige – daar is steeds baie onkunde op die gebied!!!!
Sodra dan op ’n stelsel besluit is, word ’n bestuursprogram uitgewerk vir die besondere stelsel, of dan vir JOU en JOU OMSTANDIGHEDE – nie vir ’n area, of volgens reënval of seisoene nie!!! Neem die DIER en wat in sy liggaam gebeur in ag.(Die Fisiologies Belangrike Tye)
En dan hang dit ook af van wat jy van die skaap vra of verwag.
Die volgende beginsel geld: VRA MEER = GEE MEER! (Kos, Ent, Doseer)
Die kuddestruktuur lyk anders in ’n intensiewe stelsel, omdat jy vroeër paar, en meer gereeld, en vir langer aanhou...die “kudde” word dus ouer en die struktuur lyk anders! Vervangingspersentasies verander (minder ooie word vervang, so ons kan strenger selekteer, en meer lammers bly oor om te verkoop as aanteeldiere of vir slagdoeleindes.(Dit is weereens belangrik om die stelsel te verstaan – in die begin kan dit gebeur dat ooie “aanpas”, en effens minder tydens die eerste verkorte paartyd besit raak. Hierdie ooie vat egter meestal dan met die tweede paartyd en lam steeds jaarliks soos voorheen). Lampersentasies moet anders geinterpreteer word omdat ‘n 7 maande oue ooitjie en ‘n 19 maande oue ooitjie fisiologies 2 verskillende diere is! Inkomste per teelooi wat die “stadige stelsels” so graag gebruik gee dus ‘n “skewe” beeld van die werklikheid!
Wat is die definisie van ‘n “teelooi”? (As dit ’n tweetand- en ouer ooi is, moet alle lammers wat dan vroëer aankom as lammers tel, maar die jong ooitjie NIE as ‘n ooi tel nie! Dit is tog wat indirek by “jaarstelsels” met wolproduksie gebeur! Dit is hoe ’n gladdelyf Merino ooi wat tussen 3 en 4 kg wol dra se baas skielik ’n rouwolproduksie van meer as 14kg per “teelooi” kry! 
En dan is daar ander siektes wat in die prentjie inkom soos voedingsteurnisse en stres-geassosieerde toestande soos “maagsere”.
Ons het ook te make met ander voedingsbehoeftes...
Laer miseiertellings raak skielik meer relevant!...
Samevatting:
Ek vind dit geweldig frustrerend as ek  lees en sien dat iemand sê dat hy die die “drie lamseisoene in twee jaar” stelsel toegepas het en “afskiet”, maar dan sy lamseisoene aangee as Maart, Mei/Junie en September. As ‘n mens die syferspel speel, sal gesien word dat dit beslis nie die genoemde stelsel was nie, en dat ons dus nie “dieselfde taal” praat nie!
Net so pla “spogsyfers” my!
‘n Speenpersentasie van 150% met ‘n 33% vervanging in ‘n een maal per jaar lamstelsel(ILP van 365) beteken dat die ooikudde elke 3 jaar “vervang” word. Anders gestel, dat die gemiddelde ooi slegs 3 keer in haar lewe op so ‘n plaas lam. Dan beteken dit dat sy in haar lewe op die plaas slegs 4.55 lammers geproduseer het, of ‘n lewensdagproduksie van 4.55 lammers het. In ‘n “Halfpaarstelsel”  met ‘n speen% van 150%, produseer ‘n ooitjie wat op 11 maande die eerste keer vat en op 16 maande lam, dit in 3 jaar se tyd. Haar lewensdagproduksie tot op 6 jarige ouderdom is 9 lammers, of dubbeld per gelykstaande leeftyd as in die eersgenoemde stelsel waar ‘n ooitjie op 24 maande vir die eerste keer lam, 3 keer jaarliks daarna, en die laaste lam dan grootmaak tot by speen op 6 maande!
Ons sal weer ‘n slag mooi moet besin oor ons “norme” en moet kyk na die effek op winsgewendheid van kuddesamestelling, dae tot “slag” of verkoop, die ouderdom van eerste paar (OEP) en ouderdom van eerste lam (OEL), langslewendheid, ILP, kontantvloei, voeromsetverhoudings, uitslag


Tuesday, January 26, 2016

Praktiese Boerderywenke vir Ekonomiese Volhoubaarheid




#Landbouers produseer  binne ‘n lewendige omgewing waar die klimaat ‘n geweldige  invloed op grond, weidings en water uitoefen en die suksesvolle bestuur hiervan  sal noodwendig daarvan afhang of sekere  langtermyn ekonomiese en sosiale beginsels nagekom word. 

 Dit beteken onder andere dat daar ‘n ordentlike plan, wat ‘n #risiko- en #moniteringsplan insluit, vir bykans elke faset van ‘n boerderystelsel moet wees.  

Die eerste fokus val op die #volhoubaarheid van u boerderystelsel.  Elke plaas lyk anders en daar is spesifieke uitdagings wat oorkom  moet word. ‘n Beste praktyk is eenvoudig om ‘n geskrewe plan met die hulp van u #plaaskaart op te stel .  Die volgende vrae kan met die opstel van die plan help.


1.       1. Wat is die toestand van my grond in terme van #beweiding, #beskutting,# indringerplante en #gronderosie en is daar iets wat daaromtrent gedoen moet word.
2.     2. Wat is die verwagte impak van #klimaatsverandering op my boerdery en is daar ‘n plan om die invloed daarvan te bestuur.
3.        3.  Is sensitiewe areas in terme van fauna en flora identifiseer en word dit korrek bestuur.
4.       4.  Is daar voldoende #water en is daar ‘n risiko dat dit besoedel mag raak.
5.       5.  Bestaan daar ‘n #brandgevaar

        6.   Hou die gebruik van chemikalie en sintetiese misstowwe ‘n risiko in en is my #afvalbestuur volgens wetgewing.
7.        7. Word energie doeltreffend gebruik en word die gebruik van fossielbrandstof beperk.
8.        8.   Wat is die potensiaal van #herwinbare energie en kan dit infasseer word.

Prioritiseer u planne op grond van die volhoubaarheid daarvan en volgens  ekonomiese realiteite.

Die tweede fokus val op die saamstel van ‘n omvattende en opwindende  #finansiële plan met die oog op berekende doelwitte en geleenthede.  As daar  oorhoofs na gekyk word behels dit eenvoudig dat daar ‘n gewoonte daarvan gemaak moet word om  onder andere die volgende begrippe uit te leef;

1.   Bestaan daar ‘n medium en langtermyn visie vir die boerderyonderneming inagggenome  nasionale en internasionale veranderlikes soos grondgebruik,  beskikbaarheid van water , energie, verwagte wetgewing en verskuiwings op die gebied van die kwaliteit van en  behoeftes vir jou produksieartikel, wol en vleis.
2.        Bestaan daar ‘n bemarkingstrategie om die meeste te verdien vir die produkte wat produseer word.

  Word moontlike ekonomiese bedreigings identifiseer en is daar ‘n plan om dit teen te werk.
U verwagtings en planne moet altyd volgens die ekonomiese haalbaarheid daarvan prioritiseer word.  ‘n Finansiële plan soos almal seker daaraan gewoond  is sluit natuurlik ook die gedeelte oor die “nuts en bolds”  in en waar daar vir aanpassings  voorsiening gemaak is.
·   ‘n #Kontantvloei #begroting wat  jaarliks volgens beraamde uitgawes en inkomstes opgestel word en deurlopend hersien word.
·       Die opstel van ‘n voorspelde bateprofiel in terme van finansieringbehoeftes.
·       Word gebeure op die finansiële front op ‘n deurlopende basis gemonitor.

‘n Derde fokus area waarsonder die boonste twee gladnie doeltreffend toegepas kan word nie is die noodsaaklikheid van toeganklike en interpreteerbare #rekordhouding .

Besigheidsbesluite kan geneem word as die volgende inligting bekikbaar is;
1.        Wat is die produksiepotensiaal van die boerderyeenheid en tot waar kan dit verhoog word.
2.        Wat is produksie per hektaar (waar dit van toepassing is) in terme van wol en vleis, wat is die potensiaal en wat is die kostes daaraan.
3.        Word die redes en insidente van elke veeverlies aangedui.  Sonder die inligting sal ekonomies regverdigbare regstellings moeilik indien nie onmoontlik wees nie.
4.        Word  afsonderlik rekord van uitgawes en inkomstes gehou  om die verhoudelike doeltreffendheid van die boerdeystelsel te bepaal.
Die bogenoemde drie fokusareas is gerig op ekonomiese besluitneming 

Met dit alles is daar ‘n vierde fokusarea wat net so belangrik is.  Die kanse op ekonomiese sukses sal groter wees in ‘n omgewing waar die werkgewer gelukkig is en waar die werknemers respekteer word.  Sosiale klem kan onmoontlik nie net op die welstand van werknemers geplaas word nie en gelukkigheid kom nie vanself nie.  Daar moet noodwendig vir strewes, geleenthede en dissipline voorsiening gemaak word.  Die volgende vrae kan gevra word en besluite kan  hiervolgens geneem word;

Wat die kwaliteit van lewe betref,
·         Word daar voldoende tyd vir familie en vriende opsy gesit.
·         Word daar vir ruskansies en ‘n jaarlikse verlof beplan.
·         Is daar ‘n bewustheid om by die gemeenskap betrokke te raak.

Wat #mensebestuur betref,
·         Is werknemers gemaklik en het hulle die  selfvertroue om vergaderings oor hulle eie behoeftes in die werksplek te hou.
·         Het elke werknemer ‘n persoonlik gestelde doelwit waarvolgens hy sy dag kan bestuur sodat dit hom kan help om spanning te verlig.
·         Word daar jaarlikse prestasie doelwitte aan elke werknemer gestel, is die werksprogram duidelik en is daar ‘n stelsel van individuele erkenning.


Friday, June 19, 2015




For those times when feeling insignificant

Inspiration - Understanding our fears


Kyk bietjie  na die volgende  Facebook kommentare. - dalkies is daar in een van dit bemoediging vir 'n leser.

https://www.facebook.com/elize.pretorius.140/posts/410791505613352?notif_t=like



Friday, June 12, 2015

SA Wolmark eindig op ‘n hoȅ noot



Port Elizabeth – Die wolmark het verlede week se pryse gehandhaaf en die Cape Wools Merino-aanwyser het met 0,9% gestyg tot R141,20/kg (skoon). Dit is 26,5% hoër as op die openingsveiling. Op die Australiese mark het die aanwyser met 2,0% gestyg. Die Cape Wools Alle Wol aanwyser styg met 0,9%.
Plaaslike handelaars het opgemerk dat fyner wol op die dag effens duurder en growwer wol effens goedkoper geëindig het, maar deur en deur ‘n wonderlike afsluit tot ‘n suksesvolle seisoen. Die Cape Wools Merino-aanwyser is op ‘n historiese hoogtepunt en verwagtinge is dat die mark sy positiewe momentum sal handhaaf op huidige vlakke vir die nuwe seisoen.
Die Rand teen R12,33 was sowat 0,7% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige week se veiling en teen R13,89, sowat 2,0% swakker teenoor die Euro. ʼn Verkoopspersentasie van 98% is bereik van die 10 369 bale wat op die veiling aangebied was. Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA (4 004), Standard Wool SA (3 737) en G Modiano SA (1 716). 

Die weeklikse prysmandjie, beperk tot AWEX tipe MF5, 70-80mm, VM<=2% wol alleenlik, se gemiddelde prysbeweging was as volg: 18 mikron styg met 1,7% tot R152,38/kg, 18,5 mikron is onveranderd op R147,46/kg, 19 mikron versterk met 3,2% tot R146,90/kg, 19,5 mikron versterk met 1,8% tot R145,07/kg, 20 mikron daal met 0,4% en sluit op R140,57/kg, 20,5 mikron styg met 1,9% en sluit op R140,47/kg, 21 mikron versterk met 2,1% en sluit op R139,32/kg, 21,5 mikron versterk met 1,9% en sluit op R137,27/kg en 22 mikron styg met 0,5% tot R135,76/kg.
Die eerste veiling van die nuwe seisoen is geskeduleer vir 12 Augustus.