Natural Farming

Natural Farming

Soil - our connector!

Soil - our connector!
Showing posts with label Reproduksie. Show all posts
Showing posts with label Reproduksie. Show all posts

Saturday, February 8, 2020

Noodsaaklike Vereistes in verband met Teling.



Telingvereistes 
Elke teler moet aan die volgende vereistes voldoen:-

(1) Teel met die doel om 'n bepaalde standaard van voortreflikheid of ideaal te bereik.
(2) Teel alleen van ouers wat aan daardie ideaal of standaard van voortreflikheid voldoen.
(3) Teel van ouers, veral ramme, wat van opreggeteelde skape afstam.
(4) Volg 'n paringsbeleid wat gebreke van die ouers sal uitskakel in die geval van die nakomelinge.
(5) Ken elke individuele dier; dit vereis die hou van stamboekrekords.
(6) Ken die geskiedenis van die ras of tipe, sowel as die geskiedenis van die ramme en ooie.
(7) Soek die skape gereeld uit en hou die uitgegooides eenkant.
(8) Handhaaf 'n voldoende hoë standaard van voeding.

'n Stelsel vir die hou van rekords is 'n eerste vereiste, nie alleen ten einde betroubare individuele teelskape, ramme en ooie, wat betref kwaliteit en vrugbaarheid, te teel nie, maar ook om sekere families te teel wat sal uitblink in die eienskappe waarna die teler streef. Die gebrek aan sodanige rekords is dikwels oorsaak dat goeie teelooie uitgegooi word eenvoudig omdat hulle 'n onaantreklike voorkoms het as gevolg van siekte of 'n ander veroorsakende faktor.

Omsigtigheid,  wyse oordeel en  gesonde verstand moet uitgeoefen word met die aankope van teelmateriaal. Telers moet versigtig wees in hul voortsetting om steeds hoër liggaamsmassas na te jaag. 

Prof. Schalk Cloete (links, 'n spesialiswetenskaplike by die Landbou-Ontwikkelingsentrum Elsenburg buite Stellenbosch, sê kruisteling van woltipe-ooie met vleistipe-ramme word as 'n opsie gesien om risiko oor die wol- en vleis-kommoditeit te versprei. As kruisteling egter verkeerd geïmplementeer word, kan dit lei tot die besoedeling van wol en 'n verlies aan genetiese materiaal vir suiwer teling, waarsku Cloete.

Praktyke wat die winsdrywers beïnvloed?

Voeding —Kenners meen meer as 70% van 'n skaapkudde se reproduksie- en produksieprestasie word deur voeding bepaal  Gepaste voeding van skape is van kardinale belang indien 'n hoë produktiwiteit bereik wil word. Kry die voeding reg en al die ander dinge sal in plek val . Die fokus moet op voeding vir wins wees. Die winsgewendste skaapboere spandeer gemiddeld 21% van hulle bruto inkomste uit skaapboerdery aan voer terwyl hulle voeruitgawes (tot R330/ooi/jaar) gemiddeld 66 % van die totale uitgawes van hulle skaapboerdery uitmaak.

Bestuur.
Dit maak egter  nie saak hoe goed die prestasie van 'n kudde is nie, dit kan steeds deur seleksie verbeter. Genetiese vordering in reproduksie- en produksie-eienskappe is permanent en kummulatief..
Die afgelope paar jaar het groot wisselings in die verhouding tussen wol- en vleispryse voorgekom om vleisproduksie te bevoordeel. Genetiese verandering binne 'n ras is egter relatief stadig en alternatiewe strategieë moet oorweeg word om die korttermyn-voordele van verhoogde vleispryse te benut.
Praktiese advies

Gee voorkeur aan ramme wie se moeders die meeste lammers per lamkans gespeen het; hulle moeders se OPI moet positief wees, hoe groter hoe beter terwyl die geselekteerde ram se TWW-waarde ook positief moet wees. 
Om die hoogste lampersentasie te verseker, moet teelooie in 'n uitstekende kondisie (minstens 3.5 kondisiepunt) wees asook in massa toeneem met die aanvang van die paarseisoen.
•Die kondisie van die ooie met die aanvang van die paarseisoen is die belangrikste bepalende faktor van reproduksietempo van ooie). Energie (oftewel vetheid) "dryf" reproduksie, m.a.w. hoe beter die kondisie van die teelooie met paring, hoe hoër is die lampersentasie. Vir elke 1 kg wat 'n ooi swaarder met paring is, neem die lampersentasie met ± 1.5 tot 2.5 % toe.

Ander faktore wat ook in konvensionele produksiestelsels tot 'n verhoging in produktiwiteit kan bydra, is die verbetering van reproduksie in die ooikudde, asook die verhoging van die voerdoeltreffendheid van reproduserende ooie. Die moeilikheidsgraad van eersgenoemde word as matig aangegee. Navorsing op Elsenburg het bewys dat goeie vordering in reproduksie van skape daargestel kan word as daar doelgerig daarvoor geselekteer word, sê Cloete.


Monday, February 12, 2018

Skaapboerdery – entlik maar 'n “Syferspeletjie”




Dr Dave Midgley
Al hoe meer boere is besig om meer intensief met skape onder ekstensiewe toestande te boer. Ekstensiewe boere paar intensief deur hul ooie kunsmatig te insemineer, hetsy met servikale of laparoskopiese inseminasie. Die gevolg word dan dat hulle intensief moet lam. Ander boere word as gevolg van ongediertes of van hoë lamverliese genoodsaak om intensief in lamhokkies te laat lam. Hierdie stelsels verg uiteraard hoër kapitale- en arbeidsinsette. Groter druk word op produksie geplaas a.g.v. die hoër insetkostes. En voor ons ons oë uitvee, is ons vasgevang in ‘n “kostespiraal” wat slegs met hoër produksie oorkom kan word.
Skielik moet ‘n boer sy boerdery as ‘n besigheid bedryf. Kophou, en baie somme maak!
So kom ons “speel” ‘n bietjie met SYFERS:
1 jaar het 12 maande.
2 jaar het 24 maande.
’n Skaap dra 5 maande (146 dae).
Indien ’n ooi 3 maal in 2 jaar lam, beteken dit dan dat sy elke 8 maande lam.           (3 x 8 = 24)
Om dus elke 8 maande te lam het jy 3 maande om ’n ooi in skoon, siklies en dragtig te kry.
In beeste paar ons 3 maande nadat ’n koei gekalf het, so ons weet dat dit genoeg tyd is vir ’n baarmoeder om in te herstel...
’n TKP (tussenkalfperiode) van 12 maande of 365 dae word as ideaal beskou in ’n bees.
Met dieselfde beginsel moet die ideale interlamperiode(ILP) vir ’n skaap dan 176 - 188 dae (8 maande) wees as jy met skape wil boer soos wat ’n ekstensiewe vleisboer met vleisbeeste boer.
’n Bees se baarmoeder neem ongeveer 42 dae om te herstel (vra vir ’n melkboer of kyk na die TKP’s van vleisbeeste).
42 dae is 6 weke, of dan die helfte van 3 maande.
As jy dan eerder met skape wil boer soos wat ’n melkboer met sy melkkoeie boer, kan / behoort jy hulle 42 dae na lam weer te laat dek wat ’n TLP (tussenlamperiode) of ILP (Interlamperiode) van 188 gee (146 + 42).
Involusie (die herstelproses van ’n baarmoeder) in ’n skaap neem onder normale omstandighede egter ongeveer 35 dae (effens korter as in ’n bees). Daar is heelwat goed wat dit affekteer – die kondisie van die ooi, hoeveel lammers sy gehad het (meerlingooie neem effens langer om te herstel), en dan is involusie ook vinniger in ooie wie se lam of lammers dood is. Indien ’n ooi dus op 35 dae na lam weer besit raak, is haar ILP 181 dae, en is dit derhalwe moontlik vir ’n ooi om twee keer in een jaar te lam! Of dit egter onder “normale omstandighede” volhoubaar is, is dalk ’n ander saak.
As jy dus die kudde in 2 deel om alternatiewelik elke 4 maande te lam, het jy die sg. “Halfpaarstelsel”...
Nou het jy net helfte van die ramme nodig in vergelyking met  ’n een maal per jaar of 12 maande paarstelsel (1000 ooie, 3% ramme = 30 ramme). Of te wel dan 15 ramme vir die twee 500 grootte ooigroepe, want 4 maande gee voldoende herstelkans vir die ramme tussen paartye. Jy kan dus helfte spaar op ramkoste per lam, of dubbeld begin betaal en beter ramme koop!
Kontantvloei word geweldig verbeter want elke 4 maande word lammers gebore...
Dan moet ons ook weer ’n slag kyk na die effek van meerlinge of fekunditeit.
Indien ’n ooi in die 8 maande lamstelsel twee enkelinge en slegs een tweeling in ‘n 2 jaar periode gee, het ons 4 lammers in twee jaar, of dan wel ’n speenpersentasie van 200% per jaar! Skielik lyk dit vir my heeltemal haalbaar om 200% per jaar te speen.
Omdat daar meer gereelde paargeleenthede is word die hele produksieproses versnel. Oorloopooie word vinniger herpaar. Hoekom ek so sê en nie “kan vinniger herpaar” word nie, is omdat byna alle ander kriteria ook nou verander, en ons moet kophou om “appels met appels” te vergelyk! Die syfers kan met saamgestelde rente by boekhou vergelyk word.
Laer konsepsies word per “paartyd” gekry, omdat die ooie in werklikheid 4 maande vinniger besit raak. Indien jy ‘n 1000 ooie neem, en 70% van hulle raak op 8 maande besit, en 80% van die 300 oorlope 4 maande later met ‘n 12 maande interval (onthou hulle het nou ’n langer ruskans gehad), beteken dit dat 94% van jou ooie in een jaar dragtig geraak het. Indien jy al die ooie wat dan 2 kanse gehad het prul, is jy op gelyke voet met ’n boer wat sy ooi slegs een kans per jaar gee om besit te raak. Anders gestel – indien 70% van jou kudde met elke paartyd 4 maande vinniger vat, verhoog jy jou “produktiwiteit” met 33%, of kry jy as jy dit omwerk na 1 jaar of per jaar toe, ’n derde meer lammers per jaar! Op ’n kudde van 1000 ooie praat ons dus van 333 lammers meer per jaar, of teen vandag se pryse van ongeveer R600 per lam, ’n addisionele inkomste van R199 800 (R200 000 klink beter!) per jaar. Let wel dat dit uit dieselfde hoeveelheid ooie is. Hierdie ooie se onderhoudskoste was nog steeds dieselfde – hulle moet steeds ontwurm, ingeënt, en “bestuur” word. Hul voedingsbehoeftes vermeerder – en wel slegs met die van een produksiesiklus bokant onderhoud. Hulle sou mos steeds moes leef al was hulle nie weer dragtig nie.
Jongooie kom vinniger in produksie. Met sekere rasse paar ons nou al die lammers op 7 maande. Omdat daar elke 4 maande ’n paartyd is, kry die wat oorslaan, of nie op 7 maande besit raak nie weer op 11 maande weer ’n kans....of op 15, en heellaas weer op 19 maande soos in ‘n “tradisionele” of dan volgens my die “outydse” stelsel. Kom ons kyk weer anders daarna – ’n jong ooitjie wat in ‘n “halfpaarstelse” 4 kanse kry om besit te raak is dan eers op dieselfde voet as haar eweknie in ’n tradisionele stelsel! Indien ons dan tradiosionele aanbevelings toepas soos dat ’n ooi slegs een kans gegee moet word, benadeel jy eintlik baie ooie in die meerpaarstelsel. Die teendeel is egter waar – jy selekteer soveel strenger vir vrugbaarheid dat jy binne ’n paar jaar met ’n vrugbaarder kudde sit waarin die die ooie vroëer geslagsryp raak, vinniger dragtig word, meer gereeld lam, meer meerlinge en kry en vir langer aanhou... Al hierdie dinge lei tot meer geld in jou sak!
Kernwoorde word nou: “kontantvloei, vroëer, vinniger, meer, meer gereeld/aanmekaar, beter...”
Die “mlijoen rand” vraag is egter steeds wat dit jou ekstra gaan kos om hierdie ekstra inkomste te verdien. Ook hier is dit nodig om te “verdiskonteer”. Kyk na die “tydwaarde van geld”. Hoeveel is dit werd om jou kontantvloei te verbeter deur elke 4 maande ’n lammeroes te hê om te bemark en om dan 70% van jou inkomste 4 maande vroëer te kry, terwyl jy met die res van jou skape boer soos jou met sy skape geboer het (of jou “buurman” steeds met syne boer!).
“Vereenvoudig” het ek altyd gedink dat jy elke 2 jaar ’n ekstra lammeroes kry, maar “saamgesteld” is die som heelwat groter, en besig om my brein heeltemal omver te werp. Ek sê sommer reguit dat my koppie nou te klein raak en dat ons die rekenaars, boekhouers en ekonome nader sal moet roep!
Mak dit nou sin as ek sê dat skaapboerdery dus eintlik ’n Nommer- of SYFERSPEL is.
Alle paarstelsels word eintlik op hierdie beginsels gebaseer...
So kom ons kyk dan weer ’n slag vanuit hierdie “hoek” na die verskillende paarstelsels.
Stelsels:
PAARSTELSELS:
Tradisionele stelsels:
-     Een paarseisoen per jaar. (Interlamperiode = 365+ dae)
Oorgeneem by die Europese metode waar die skape `n kort paarseisoen het en net een keer per jaar kan aanteel.
-          Twee paartye, bv Herfs en Lente paring, maar ‘n ooi lam steeds net een maal per jaar. Die gemiddelde ILP van ’n ooi in hierdie stelsel is steeds langer as 365.
Jong ooie kan 6 maande vroëer in produksie kom, en oorloopooie kan vinniger herpaar word. Lewensdagproduksie word verhoog en ramme word beter benut wat weer die ramkoste per lam afbring.
Meerpaarstelsels:
-          Ramme heeltyd by. Een paartyd, heeljaar lank. Bestuur word bemoeilik omdat jy nie pro-aktief kan optree nie. Rekordhouding is meestal swak en boere weet nie regtig wat hul resultate is nie. Verliese is gewoonlik hoog. Siektes soos is Peestersiekte en “Ramsiekte” is volop in hierdie stelsel, veral onder ekstensiewe vleisskaapboerderye. Finansiële resultate is deurgans swakker as wat meeste boere besef. Heelwat ooie lam dikwels 2 maal in een jaar, maar nie met ‘n 6 maande interval nie! (een keer in Januarie, en die volgende keer in Desember – dus 10-11 maande, of meer as 300 dae uitmekaar. Lamverliese soos resorpsies, aborsies en lamvrektes is gewoonlik baie hoog omdat intensiewe versorging en bestuur nie plaasvind nie. Ongediertes gedy ook op hierdie stelsel omdat ’n deurlopende voedselbron beskikbaar is.
-          Die 1,2,3,4-Stelsel: Hierdie stelsel is deur Dave Midgley  “ontwerp” om meer struktuur aan die vorige stelsel te gee en is veral geskik vir klein kuddes of vir kommunale areas waar daar nie drade of kampe is waar die ramme appart van die ooie gehou kan word nie. In plaas daarvan dat die ram dan gebruik word om paartye te “manupileer en te implimenteer”, maak ons van prikkelvoeding en “prikkeldosering” gebruik om die ooie te prikkel om in siklus te kom en meer gereeld te lam. Bestuur, dosering en inentings word op strategiese tye toegepas – elke 4 maande. Dit werk dan net mooi uit dat dit ongeveer ’n maand voor lam is vir die dragtige ooie, en die ooie wat dan nie dragtig is nie word deur die beter bestuur en byvoeding geprikkel om op hitte te kom om dan weer 5 maande later te lam. Omdat die diere in hierdie stelsel meestal saans gekraal word, word byvoeding hier gegee om te keer dat die “buurman” se diere dit nie opvreet nie. D.m.v. ’n kruiphek in een hoek van die kraal kry die lammers dan toegang tot ’n kruiprantsoen. Ons skep dan `n amperse “halfpaarstelsel”. Die hele kudde (Ramme, ooie, en lammers loop dus saam as een trop, en meeste ooie lam dan rofweg 3 keer in 2 jaar!
-          Die 4 maal in 3 jaar-stelsel (ILP = 270+ dae)
3 jaar x 12 maande = 36 maande.`n Ooi lam dus elke 9 maande.
Hier het jy gewoonlik 3 troppe, 4 paar- en lamtye per jaar met 1 trop wat 2 keer in 1 jaar gepaar word(en/of lam). Die hersteltyd na lam is effens langer en jong ooie kan vroëer in produksie kom. Oorlope kan ook vinniger herpaar word. Lewensdagproduksie is hoër as in vorige stelsels, maar laer as in die volgendes.
-          Die 3 maal in 2 jaarstelsel. (ILP = 240+ dae).
Ooie lam elke 8 maande. Hier boer ons met skape soos `n vleisbeesboer met sy beeste boer – paar 3 maande na geboorte, wanneer die baarmoeder reeds goed herstel het (involusie volledig is).
o   1 trop: Dit is die swakste opsie! Ramme word onderbenut. Kontantvloei is sleg – in een jaar het jy slegs 1 lammeroes en die volgende jaar dan 2. “Belastingskuiwe“ word nodig. Een van die 3 paar- of lamtye val gewoonlik  “buitenstyd“ wat tot laer produksie lei en kontantvloei verder deurmekaar gooi.
o   Halfpaarstelsel: Hier word die kudde in 2 verdeel (halveer) en net helfte van die normale hoeveelheid ramme word benodig. (Jy kan dus ‘n “Besparing“ in ramkoste per lam kry, of dan eerder duurder (beter?) ramme aankoop en hulle effektiewer benut. Die kuddes wissel mekaar af, deur een trop elke vier maande te paar (helfte van 8). Daar is dus 3 paar/lamtye per jaar, wat `n goeie kontantvloei tot gevolg het. (Sommige kliënte kry 12/12 maande van die jaar ’n inkomste). Jong ooie word vroeg gepaar en oorlope word ook vinniger herpaar, en die wat nie besit raak nie word vinniger uitgeskot. Afhangende van die uitgroei of dan gewig, kan `n jong ooi dus al op 7,11,15 of 19 maande in produksie kom (gepaar word)
o   Dubbel Halfpaar of CAMAL stelsel: Hier is daar teoreties 4 kuddes, maar in die praktyk slegs 3 omdat die eerste groep weer die vierde een word. Daar is 6 paartye per jaar – elke 2 maande. Ooie word vinniger herpaar, maar dit is meer arbeidsintensief en goeie voeding word deurgans vereis.Twee ramtroppe word benodig agv die kort herstelperiode tussen paartye.

-          Die Stêrstelsel (5 keer in 3 jaar, of ook bekend as die “Magee stelsel”). Hier is die ILP = 219+ dae.
 Die KGF (kleinste gemeenskaplike faktor) van 146 dae (die dratyd van ‘n ooi) en 365 (dae in ‘n jaar) is 73(Helfte van 146 en `n vyfde van 365). Daar is dus 5 paartye per jaar, een elke 73 dae. In die stelsel is daar 3 lamgroepe en word hoër voedingsvlakke byna deurgans vereis, 2 ramtroppe word benodig, dis arbeidsintensief, en om regtig goeie besetting te kry moet vroegspeen van lammers gedoen word. Herpaar vinniger. Meer paartye. Goeie kontantvloei. Lewensdagproduksie word verhoog. Op die Internet word verwys na ’n trop volwasse ooie by Cornel Universiteit wat ’n allemintige lampersentasie van 535% per jaar in hierdie stelsel behaal!
-          Die "Melkery Stelsel“: (ILP = 191+ dae)
Ramme kom 45 dae na lamtyd begin by, en wel vir 45 dae. Involusie is dikwels, veral in die ooie wat laat in die vorige siklus gelam het, nog nie volledig nie en dit lei tot ‘n verhoogde getal resorbsies. Die verdwynfaktor en prul% is ook dikwels baie hoog. Ek is nog nie oortuig dat die noodwendig die winsgewendste stelsel is nie, maar het finansiële syfers gesien van ’n Merinoboer van Hanover, onder Karoo omstandighede, wat ver bokant die syfers van ander boere in die Karoo is!
Haastig is nie altyd vinnig nie, en deur soms net bietjie te wag, kan ’n beter besetting en meer tweelinge verkry word! Persoonlik verkies ek dus in meeste gevalle die halfpaar of Magee stelsels, omdat “beter bestuur” toegepas kan word en beter resultate met minder moeite verkry word.
Elke stelsel het sy voor- en nadele. Verhoogde lamproduksie moet meer as vergoed vir die verhoogte insetkostes, arbeid en bestuur om dit te regverdig.
Raadpleeg asseblief `n kenner of kundige – daar is steeds baie onkunde op die gebied!!!!
Sodra dan op ’n stelsel besluit is, word ’n bestuursprogram uitgewerk vir die besondere stelsel, of dan vir JOU en JOU OMSTANDIGHEDE – nie vir ’n area, of volgens reënval of seisoene nie!!! Neem die DIER en wat in sy liggaam gebeur in ag.(Die Fisiologies Belangrike Tye)
En dan hang dit ook af van wat jy van die skaap vra of verwag.
Die volgende beginsel geld: VRA MEER = GEE MEER! (Kos, Ent, Doseer)
Die kuddestruktuur lyk anders in ’n intensiewe stelsel, omdat jy vroeër paar, en meer gereeld, en vir langer aanhou...die “kudde” word dus ouer en die struktuur lyk anders! Vervangingspersentasies verander (minder ooie word vervang, so ons kan strenger selekteer, en meer lammers bly oor om te verkoop as aanteeldiere of vir slagdoeleindes.(Dit is weereens belangrik om die stelsel te verstaan – in die begin kan dit gebeur dat ooie “aanpas”, en effens minder tydens die eerste verkorte paartyd besit raak. Hierdie ooie vat egter meestal dan met die tweede paartyd en lam steeds jaarliks soos voorheen). Lampersentasies moet anders geinterpreteer word omdat ‘n 7 maande oue ooitjie en ‘n 19 maande oue ooitjie fisiologies 2 verskillende diere is! Inkomste per teelooi wat die “stadige stelsels” so graag gebruik gee dus ‘n “skewe” beeld van die werklikheid!
Wat is die definisie van ‘n “teelooi”? (As dit ’n tweetand- en ouer ooi is, moet alle lammers wat dan vroëer aankom as lammers tel, maar die jong ooitjie NIE as ‘n ooi tel nie! Dit is tog wat indirek by “jaarstelsels” met wolproduksie gebeur! Dit is hoe ’n gladdelyf Merino ooi wat tussen 3 en 4 kg wol dra se baas skielik ’n rouwolproduksie van meer as 14kg per “teelooi” kry! 
En dan is daar ander siektes wat in die prentjie inkom soos voedingsteurnisse en stres-geassosieerde toestande soos “maagsere”.
Ons het ook te make met ander voedingsbehoeftes...
Laer miseiertellings raak skielik meer relevant!...
Samevatting:
Ek vind dit geweldig frustrerend as ek  lees en sien dat iemand sê dat hy die die “drie lamseisoene in twee jaar” stelsel toegepas het en “afskiet”, maar dan sy lamseisoene aangee as Maart, Mei/Junie en September. As ‘n mens die syferspel speel, sal gesien word dat dit beslis nie die genoemde stelsel was nie, en dat ons dus nie “dieselfde taal” praat nie!
Net so pla “spogsyfers” my!
‘n Speenpersentasie van 150% met ‘n 33% vervanging in ‘n een maal per jaar lamstelsel(ILP van 365) beteken dat die ooikudde elke 3 jaar “vervang” word. Anders gestel, dat die gemiddelde ooi slegs 3 keer in haar lewe op so ‘n plaas lam. Dan beteken dit dat sy in haar lewe op die plaas slegs 4.55 lammers geproduseer het, of ‘n lewensdagproduksie van 4.55 lammers het. In ‘n “Halfpaarstelsel”  met ‘n speen% van 150%, produseer ‘n ooitjie wat op 11 maande die eerste keer vat en op 16 maande lam, dit in 3 jaar se tyd. Haar lewensdagproduksie tot op 6 jarige ouderdom is 9 lammers, of dubbeld per gelykstaande leeftyd as in die eersgenoemde stelsel waar ‘n ooitjie op 24 maande vir die eerste keer lam, 3 keer jaarliks daarna, en die laaste lam dan grootmaak tot by speen op 6 maande!
Ons sal weer ‘n slag mooi moet besin oor ons “norme” en moet kyk na die effek op winsgewendheid van kuddesamestelling, dae tot “slag” of verkoop, die ouderdom van eerste paar (OEP) en ouderdom van eerste lam (OEL), langslewendheid, ILP, kontantvloei, voeromsetverhoudings, uitslag


Thursday, January 14, 2016

Wenke vir Wins uit Wolskape




a)  Goeie en uniforme teelbeleid (Moenie “Mikron” jaag nie)

b)  Goeie en uniforme klassering (Moenie alles bymekaar gooi nie)

c)  Goeie skeerhuis bestuur om besoedeling te voorkom

d)  Goeie aanteel deur hoë lam en speenpersentasies ....en laastens

e)   ‘n Goeie en sterk geloof in die wolvesel.

Sunday, October 5, 2014

Organiseer deur te sinkroniseer



Dragtige ooie
Sinkronisasie beteken nie noodwendig om al jou diere op een dag te laat dek met KI of laparoskopiese inseminasie nie, maar wel om jou paartyd so kort as moontlik te kry.
Die hele doel moet wees om die regte bestuursprosedure op die regte manier, en op die regte tyd te doen. En hoe meer homogeen die groep is, hoe meer diere is in dieselfde produksie stadium. Die geheim lê dus daarin om die regte tyd te ken of te verstaan, en om dan te weet wanneer meeste van jou diere so na as moontlik daaraan is.
Praktiese Wenke
As jou paartyd ses weke is, is die oudste lam dus ses weke oud en reeds reg om sy eerste dosering te kry op die dag wat die laaste of jongste lam gebore word. Meeste lammers word gewoonlik in die eerste siklus gebore - dit wissel, maar tussen 60 en 80% kan in die eerste 17 dae gebore word. As jy dus vir die laatlammers wag om ses weke oud te word, kry die oudstes al vir langer as `n maand `n knou! En hoe langer jou paartyd, hoe groter raak die gaping en hoe meer lammers word verder vanaf die "ideale" tyd ingeent en gedoseer
 By inentings weet ons dat die maternale immuniteit - dit is die beskerming wat die moeder deur die biesmelk aan die lam gee - die lam vir die eerste twee maande van sy lewe beskerm en in sekere gevalle kan inmeng met vroeê inentings.
In `n ses weke paartyd is die oudste lammers dan op ongeveer twee weke na die einde van lamtyd reeds vatbaar vir siektes soos bloednier en behoort hulle hul eerste inentings te begin kry.
 Verkort jou paartyd en verhoog jou inkomste!
Dit klink kontrasterend, maar dit is hoe dit werk. Voorstel: paar vir net 28 dae ‘(vier weke), en wel elke vier maande. Dit is die sg halfpaarstelsel, waar die kudde in twee gedeel is en elke kudde alternatiewelik gepaar word. Meeste ooie lam dus elke agt maande, en as `n ooi oorslaan kom sy vier maande later weer by die ram en lam dan met `n 12 maande interval.
Die totale paar en lamtyd is dus 84 dae per jaar, of dan drie paartye van 28 dae elke vier maande.
Hierdie was beproef en die resultate spreek vanself - `n speenpersentasie van om en by 180% en verbeter steeds elke jaar!
Die verkorte lamtyd bespaar nie net arbeid en voerkoste nie, maar het tot gevolg dat die oudste en jongste lam slegs 28 dae verskil, wat weer `n groot invloed het op die bestuur(ent en doseer) en ook seleksie vergemaklik!
Dis wetenskaplik bewys dat die vrugbaarste ooie geneig is om vroeg in die teelseisoen besit te raak. Indirek word dus ook geselekteer vir vrugbare diere.
Verbeterde toesig lei tot laer lamverliese. Meer lammers, meer geld.
Die voordele van `n verkorte paartyd is dus legio!