Natural Farming

Natural Farming

Soil - our connector!

Soil - our connector!

Wednesday, July 16, 2014

Die Koolstof-siklus en grondbedekking


By on 12:15 AM

Grond is ʼn hernubare bron en om nuwe grond te “groei” is baie soos om ʼn boom te laat groei.  Albei prosesse benodig koolstofdioksied (CO2), water en lig wat energie verskaf vir die produksie van fotosintetiese materiaal.  In bome verbind die koolstof wat uit die atmosfeer geïsoleer word met ander elemente om nuwe hout (selle) te vorm terwyl koolstof wat die boonste grondlae via plante bereik, met minerale partikels bind om weer nuwe bogrondlae te vorm. Diere, dink aan wol, en mikrobes vorm ʼn belangrike deel van hierdie siklus. Hierdie proses waar nuwe bogrond gevorm word vereis dus dat meer koolstof in grond gestoor word as wat na die atmosfeer verloor word.

Die Koolstof-siklus

Alle lewende dinge vorm deel van die koolstof siklus en koolstof word voortdurend omgeskakel gedurende die natuurlike siklus van geboorte, groei, afsterwe, ontbinding en hergeboorte.  Koolstof sirkuleer dus die hele tyd tussen plante, diere, grond, mikrobiese organismes, die atmosfeer, riviere en oseane.  Koolstofatome wat op hierdie oomblik in ons liggame is was dalk baie jare gelede deel van ʼn plant, dier of in die grond.  Die menslike liggaam bestaan bv. uit ongeveer 18% koolstof, hout uit 50% en die organiese komponent van grond is omtrent 58%.

In ʼn gesonde ekosisteem is “lewende” grond ʼn dinamiese deel van die koolstof-siklus.  Koolstof beland in die grond as deel van uitskeidings deur plantwortels, of deur die ontbindingsproses van dooie plante en diere.  Hierdie koolstof dien as brandstof vir biologiese prosesse wat die struktuur van grond verbeter wat terselfdertyd die suurstof vlakke verhoog en vogretensievermoë van grond verbeter.

ʼn Algemene denkfout is dat koolstof hoofsaaklik in bome voorkom, maar in werklikheid is 82% van koolstof in die biosfeer in die grond.  Grasvelde kan tot 100 keer meer koolstof in die grond as in die gras self hê.

Wat is ʼn Koolstof-poel?

Wanneer CO2 uit die atmosfeer verwyder word, word dit in die biosfeer (op die aarde) gestoor as organiese of anorganiese koolstof.  Hierdie koolstof is dan geïsoleerd.  Plekke waar koolstof gestoor word, word kan koolstof-poele genoem.  Die aarde se grond bevat drie maal meer koolstof as die atmosfeer en vier keer meer as groen plante.  Grond is dus die grootste koolstof-poel wat die mens kan beheer.  Deur die aanplantings op grond te bestuur, bepaal dus of die grond ʼn organiese koolstof-bron, (dus ʼn netto verlies) of ʼn koolstof-poel (m.a.w. ʼn netto wins) vir atmosferiese koolstof is.

Grond is die grootste deel van ons biosfeer waaruit koolstof oor die jare verlore gegaan het terwyl dit die komponent met die grootste potensiaal vir koolstof-storing is.  Baie min navorsing is daarop gemik om die isolering van koolstof in grond te bevorder.

Sowat 50-80% van die koolstof in boonste grondlae het verlore gegaan en dikwels a.g.v. die verlies van die bogrond self.  Boerdery aktiwiteite veroorsaak steeds dat koolstof uit die grond verlore gaan en produsente spandeer baie tyd en geld om gewasse te produseer op “dooie” grond.  Die akkumulering van koolstof in grond is positief gekorreleerd met temperatuur, reënval en grondbestuur.  Koolstof word makliker gestoor in koel, klam grond as in droë, warm grond.  Hoewel die produsent nie beheer het oor die reënval en temperatuur nie, kan hy die infiltrasie van water, vogretensie en buffering van grond en ook grondtemperature merkbaar verbeter deur die aanplantings op die grond reg te bestuur.

Die noodsaaklikheid van grondbedekking   
                                                        


Grondbedekking sluit in plante, plante-afval en stoppels.  Groen plante vorm die leikanaal vir koolstof vanaf die atmosfeer na die grond.  Deur die proses van fotosintese word koolstof deur plante omgesit na verskeie koolstof-verbindings wat weer deur die wortels in die grond uitgeskei word.  Grond waarop meerjarige weidings aangeplant is kan tot 350 ton koolstof per hektaar bevat wat weer hoë vlakke van mikrobiese aktiwiteit tot gevolg het.

Dit is dus ʼn miskonsep dat koolstof wat uit grond verlore geraak het nie teruggesit kan word nie.  Dit kan d.m.v. regenererende boerdery en beweidings metodes wat weer lei tot die vorming van nuwe bo-grond.

Die bestuur van grondbedekking met die doel om koolstof-vlakke in grond te verhoog sal lei tot verbeterde grondstruktuur, meer poreuse grond met groter waterinfiltrasie, meer effektiewe gebruik van water en verbeterde water kwaliteit, groter isolering van stikstof en swawel, meer beskikbaarheid van fosfor en spoorelemente, verminderde insetkostes en verhoogde produktiwiteit.


Nuwe bo-grond word dus gevorm as die koolstof-vlakke in die grond verhoog.  Deur wisselbou met grane en weidings toe te pas en dus te sorg  dat daar altyd aanplantings op grond is, word wortelmassa en hulle uitskeidings in grond verhoog.

0 comments:

Post a Comment