VERMINDER SELEKSIE VIR WEERSTAND
TEEN WURMMIDDELS DEUR ALTERNATIEWE METODES VAN WURMBEHEER
Dr J.A. van Wyk
Die era waar wurmmiddels alleen
vir volhoubare kleinveeproduksie gebruik kon word, is vir goed, saam met die
twintigste eeu verby - op plaas na plaas raak die wurmstamme so weerstandig, dat dit reeds bykans
onbeheerbaar is. Ons moet nou alle moontlike alternatiewe vir wurmbeheer
oorweeg en ondersoek om 'n krisis af te weer.
Waller, 'n Australianer, en een
van die beste kenners op hierdie gebied in die wêreld, het reeds in 1997 die
volgende ernstige waarskuwing oor weerstand gerig (vertaal): "Die probleem
van wurmmiddel weerstand moet globaal gesien word as een van die grootste
bedreigings vir lewendehaweproduksie".
En die kenners van elders stem na
onlangse opnames wat ons gedoen het, saam dat die weerstand in Suid-Afrika
waarskynlik die ergste in die wêreld
is!
Opnames op 86 wyd-verspreide
plase het getoon dat die wurmstamme op bykans 100% van die plase weerstand teen
minstens een wurmmiddelgroep bied. Maar die skokkendste is dat teen sekere van
die wurmstamme, nie een van die 4 middels wat ons as verteenwoordigend van die
4 wurmmiddelgroepe op die Suid-Afrikaanse mark getoets het, selfs soveel as 40%
doeltreffend was nie - almal middels wat voorheen bykans 100%
doeltreffend was. In vele gevalle het die getalle wurmeiers in die diere se mis
nie eens met die dosering verminder nie
- met andere woorde, die betrokke
middel(s) was oënskynlik
totaal ondoeltreffend!
Die grootste probleem is egter
dat dit te duur geraak het om, met 'n relatiewe klein globale mark vir
veeartseny middels, nuwe middels te ontwikkel. As voorbeeld: hoofsaaklik weens
veeleisende internasionale voorskrifte vir middeltoetsing kos dit vandag 'n
geraamde R1,3miljard om 'n nuwe wurmmiddel te ontdek en op die mark te
bring -
met andere woorde, baie meer geld as die totale jaarlikse begroting van
Onderstepoort (beide die Fakulteit Veeartsenykunde, en die Instituut).
Die skrif is dus aan die
muur: Daar gaan te min nuwe, onverwante
wurmmiddels wees om tot die boer se redding te kom, en die enigste uitweg is om
ander vorms van beheer te vind en te ontwikkel.
Waarom die wurms beheer?
Navorsing
het byvoorbeeld in 'n aantal proewe onder toestande soortgelyk aan dié van die Hoëveld van Mpumalanga bevind
dat 45-50% van Dorper lammers (wat in vatbaarheid vir wurms min vanaf Merino's
verskil) in hul eerste lewensjaar aan haarwurm vrek as hul nie gedoseer word
nie. En wat nog van die oorblywende lammers wat by die dood omdraai en daarna
swak groei!.
Watter boer sal kan bekostig om
met kleinvee te boer as sulke verliese 'n paar jaar na mekaar voorkom?
Hoe ontstaan weerstand ?
Elke individuele wurm is vatbaar
vir 'n gegewe wurmmiddel, of het 'n mate
van weerstand, en die nageslag erf die een of die ander. Met andere woorde,
'n wurm verander nie van die een na die
ander nie, maar word daarmee gebore. Met strawwe dosering (of op die
"verkeerde" tyd - soos onder bespreek) word die weerstandige
individue bevoordeel, totdat die betrokke wurmpopulasie later glad nie meer
vatbare individue bevat nie. Byvoorbeeld, wanneer diere na dosering na weiding
verskuif word wat min of geen wurmlarwes bevat, is dit net die nageslag van die
weerstandige wurms wat die skoon weiding bevolk, en sodoende word daar baie
straf vir weerstand geselekteer.
Ons moet dus voortaan die vatbare
wurms soos 'n kleinood bewaar, en maniere vind om hulle bo die weerstandiges te
bevoordeel.
Volgens alle aanduidings is die
wurmmiddels onontbeerlik vir wurmbeheer, maar met opwindende nuwe metodes van
biologiese beheer wat oor die afgelope paar jaar deur Onderstepoort (beide die
Fakulteit van Veeartsenykunde, en die Veeartsenykunde-instituut), in samewerking
met die Departement Landbou en die Private Sektor ontwikkel is, kan ons
seleksie vir weerstand dramaties verminder. Verder lyk dit ook moontlik dat ons
selfs 'n metode (wat ook in Suid-Afrika ontwikkel is) prakties sal kan maak om
weerstandige wurmstamme na vatbaarheid om te keer.
Veral twee metodes het ons aandag
getrek om minder vir weerstand te selekteer:
*
'n Metode om individuele diere se wurmbesmetting deur middel van die kleur van
die oogslymvlies te evalueeer (FAMACHA sisteem).
*
Afwisseling van verskillende diersoorte wat vir mekaar se wurms minder vatbaar
as vir hul eie is.
Doseer in haarwurmgebiede volgens
die kleur van die oogslymvlies (FAMACHA):
Nadat Dr Francois Malan die plan
gekry het om die kleurskakering van die oogslymvlies klinies as aanduiding van
die graad van haarwurmbesmetting te peil, het veral Prof. Gareth Bath, met
insette ook van my, 'n kleurkaart ontwerp wat die proses vergemaklik. Sedert
dien is die beginsel deeglik deur 'n span van ons, insluitend, onder andere
Prof. Tammi Krecek en Dr Adriano Vatta in die veld getoets .
Die grootste voordeel van die
sogenaamde FAMACHA sisteem (afgelei van FAffa MAlan CHArt) is dat diere wat
teen haarwurm uitsak, maklik en vinnig identifiseer en gedoseer kan word. Met
andere woorde, net die klinies-geaffekteerde diere (bykans altyd slegs 'n klein
persentasie van die trop wanneer die eerste diere uitsak) word gedoseer en nie
die hele trop nie. Met die
stelsel word nie net aansienlik op dosering bespaar nie, maar daarmee word
weinig vir weerstand geselekteer, teenoor die tradisionele gebruik om elke keer
die hele trop te doseer. Die skape of bokke wat nie ontwurm word nie, skei dan
vatbare wurmeiers op die weiding uit, en dit verminder die kanse van die
weerstandige wurms om met mekaar te paar en die weerstand te vererger.
Die FAMACHA- sisteem maak dit ook
moontlik dat die oormatig vatbare diere (wat herhaaldelik uitsak en gedoseer
moet word) identifiseer en uitgeskot kan word, tot groot voordeel van die diere
wat agterbly, omdat die vatbare diere oor die algemeen die weiding die ergste
met wurms besmet.
Wissel kleinvee en beeste of ander diersoorte met mekaar af om
rondewurms te beheer:
Kleinvee en beeste deel min
wurmsoorte, omdat die meeste van die wurms redelik gasheerspesifiek is. Ongelukkig
is die haarwurms 'n uitsondering, omdat skape en beeste vir mekaar se haarwurms
vatbaar is, maar elk beheer die ander se haarwurms beter as sy eie. Verder is
beeste beter as skape en bokke in staat om sonder dosering die mas teen die
wurms op te kom. Dus het ons, in lig van die wurm weerstand krisis wat ons
bedreig, van 1992-1997 op verskeie plekke proewe gedoen om te toets tot watter
mate beeste gebruik kan word om die wurms van kleinvee te beheer.
Die skaap/bees verwisseling het
in die proewe 'n sterk bydrae tot beheer van haarwurms in die skape gelewer!
Die sukses van die verwisseling
is evalueer deur die diere se produksie te meet, sowel as deur wurmladings van
merker lammers en kalwers, wurmeiertellings en die graad van bloedarmoede
(anemie) wat die proefdiere in die verskillende groepe opdoen, te bepaal. Veral
by Cedara is die proewe gekompliseer deurdat 34 kontrole skape, teenoor net 9
van die verwisselde skape weens hoë
wurmladings gedoseer moes word, en dit het die kanse om met verwisseling 'n
voordeel te toon, verminder. Maar, ten spyte van hierdie bevoordeling van die
kontroles, was 29 stelle van die verskeidenheid van vergelykings tussen die
twee groepe in die guns van die verwisselde, en net 9 in die guns van die
kontrole skape, wat nie met die beeste omgeruil is nie.
Eerstens kan die FAMACHA metode tesame met skaap/bees verwisseling
gebruik word om dosering en seleksie vir weerstand teen wurmmiddels te
verminder, en van die oormatig vatbare diere ontslae te raak. Maar dit is veral
met 'n veldbeheerstelsel soos die "50/50" sisteem wat Kevin Kirkman
en dr Arno Moore te Nooitgedacht vir streke met 'n redelike goeie reënval ontwikkel het, dat
skaap/bees afwisseling ten beste vir wurmbeheer ingespan kan word. Met hierdie
sisteem word al die diere op die plaas op
f 2/3 van die beskikbare weiding geplaas, terwyl die oorblywende
gedeelte vir 'n jaar lank rus. In die lente word die diere gewoonlik n� die eerste goeie reëns na die geruste weiding
verskuif, wat dan weinig wurms bevat.
Tydens die verskuiwing moet die diere onder geen omstandighede almal
gedoseer word nie, maar minstens 30% van die trop (liefs meer) moet onbehandel
gelaat word.
Op die geruste weiding sal die
wurms in 'n gunstige reënjaar
binne 'n tydperk van ongeveer 8 weke weer opbou endit is hiér waar veral volwasse beeste
soos volg bygebring kan word. Met die verskuiwing word die skape en die beeste
in afsonderlike kampe geplaas, en na die tydperk van ongeveer 8 weke word die
skape na 'n kamp verskuif wat in die betrokke siklus deur beeste, nie bewei is
nie Aangesien die haarwurmseisoen in die meeste jare oor slegs ongeveer 6 maande strek, sal 'n totaal
van 8 kampe (4 elk op die 2 helftes van die beskikbare weiding) voldoende wees
om dit vir die boer moontlik te maak om elke keer as die wurmgetalle op die
weiding hoog word, met die kleinvee na 'n kamp pad te gee, wat vir 'n jaar lank
nie deur skape of bokke bewei is nie.
Die weerstand bring nie net
veranderde metodes van wurmbeheer mee nie, maar verg ook 'n totaal nuwe
benadering tot wurmbeheer.
1. Moet nooit weer diere van
elders na u plaas inbring, sonder om te sorg dat erger weerstand (as wat u
reeds het) nie saam met hulle op die weidings gevestig raak nie. Doseer
eerstens die diere met middels uit minstens 2 van die groepe met 'n levamisool,
die avermektiene en die bensimidasole of "witmiddels), laat (indien
moontlik) wurmeiertellings doen om te bevestig dat die dosering geslaag het, en
plaas die nuwelinge op weidings wat beslis aansienlike wurmladings het (met
andere woorde, nie op skoon weidings nie).
2. Moet nooit weer al die diere
doseer, voordat hulle na geruste weiding verskuif word nie - dit
is een van die ergste vorms van seleksie vir weerstand. Doseer slegs die
klinies aangetaste diere voor verskuiwing.
3. Pas op vir dosering in, of
kort na die winter, want dan is daar relatief min wurms op die weiding, en die
graad van seleksie kan hoog wees. Dit is beter om minstens sommige van die
diere ongedoseer te laat, en die diere daarna te monitor om te verseker dat die
vatbare individue nie deur die wurms oorweldig raak nie.
4. Pas op vir knoppieswurm; dit
skep 'n gevaar vir bykans elk van die moderne metodes van biologiese
wurmbeheer, en wel omdat dit 'n geweldige effek op die dier se produksie het.
Inspekteer dus slagskape se derms (dit hoef nie oopgesny te word nie), en as
daar enige knoppies op die derms voorkom, kontak 'n kenner op die gebied.
5. Pas op vir skape wat op
veilings verkoop word - hulle kan 'n ernstige gevaar skep deur
vreemde wurmsoorte of erg weerstandige wurmstamme op u plaas te vestig, veral
omdat dit vir 'n persoon met ernstige weerstandsprobleme soms die maklikste
uitweg is om van die kopseer ontslae te raad deur die hele kudde op te veil.
Hanteer sulke diere net soos ander nuwelinge wat ingebring word, maar
wurmeiertellings is ‘n moet. Aan die
ander kant is 'n geslote kudde die veiligste.
0 comments:
Post a Comment