Natural Farming

Natural Farming

Soil - our connector!

Soil - our connector!

Sunday, October 21, 2018

Skeertyd deur Josua du Toit van Ouplaas Prins Albert Hamlet Ceres


By on 5:23 PM










Kunstenaar Barbara Philip se uitstaande skildery. Sien haar kunswerke op haar Facebookblad of op    http://silvermere.africanpainting.com/

Skeertyd deur Josua du Toit van Ouplaas Prins Albert Hamlet  Ceres

Langwol merino’s wat teen mekaar stuit
in maalbewegings soos ‘n kabbelende spruit
groot wolstapels wat oor hul rue rol
tot uiteindelik die kraalhek
agter hul sluit.

Dis weer tyd om te skeer
Energie en opwinding laai die atmosfeer,
‘n oes gaan inkom met ‘n ryke ritueel,
‘n skouspel beloof om hier af te speel

Die skeerders skerts
Oor die voorkoms van die trop -
Swaargewigte met plooie hier en daar
Die vangkraal volgeprop,
Vasvat en styfstaan vir dae aanmekaar

Die voorman gee die teken
En hul storm die vangkraal in -
‘n stryd om die ligste vangs te win
Die skeerders het begin:
Lang rugte knak oor vaal figure
Die kommentaar gaan saam
Met die ritmiese klap van die skêre
Elk op sy eie tyd en met sy eie faam

Penswol word deur die vloerman opgeraap
Vir die stukkiestafel.
Vagvol rol af soos branders
Sonder om uit te rafel
Die witskaap is verlig
Om die skeervloer te verlaat
Terwyl geoefende oë reeds soek
Vir sy volgende maat

Intussen word die vag haastig gevat
En die wolgooier skiet dit
Soos ‘n groot karos
Op die tafel se hortjiesblad

Behendig word die rugwol en randte verwyder
Die vagwol land in die regte bak
En die wolgooier staan en wag
Met die volgnde vag

Onverpoos gaan dit voort
Skaap vir skaap, vag vir vag
die hokskaap laat ons bietjie wag en
en kry weer veslag
oor sy dightheid en sy drag

Dan word die skêre geslyp
Op ‘n klip wat saam met die skeerders reis
en weer word gewag vir die laaste man
voor die teken om te vang

Die stormloop word herhaal
en die musiekspel
van die skêre vertel
in hul eie taal
die volle verhaal

Hok vir hok tot die son gaan slaap
en die laastes getel word, skaap vir skaap
dan word die skêre  opgehang
die lootjies soos dobbelstene
gegooi, getel en aangeteken
terwyl hulle slyp met uiutgestrekte bene

Die vuur in die kookskerm brand hoog
terwyl dien kok die pap en vleis berei
word die skaapvel en komberse
op die skeerplek oopgesprei –
skeerplek, werkplek, rusplek,
nomadiese koninkryk vir hom beskik
eenvoudig soos sy toerusting
twee skêre,’n slypklip en waterblik

As die wolbakke vol loop
kom die woltrappers by
wat die wokl in ‘n pers trap
tot die baal sy vorm kry
en gepers word tot by blinkstyf dy

Die netjiese stapels skoonwit bale
is die trots van die wolkweker
en dra sy naam
die vrug van sy arbeid
met sy dankbaarheid saam-
‘n simbool van sorg en tradisie
die kleding van die mensdom sy missie

Uiteindelik is die laaste trop van hul drag bevry
en hulle klim die hange in ‘n neutvars gewaad
almal wat deelneem is bly
want ‘n taak is voltooi
die skeersel en die skape is mooi

Nou is tyd om boeke op te maak
Lootjies word getel om die loon te bepaal
Wat man vir man self kom haal
Skeerwonde was binne perk
En daar is bonus vir goeie werk

Die plaasvrou kom groet
Met ‘n stel gebreide musse
of serpe vir die skeerders
om ons saamwerk te onthou
by hul tuiste in die winterkou

Die wolkweker en die voorman groet mekaar
met ‘n ondelinge kontrakgebaar
vir die volgende skeertyd
anderkant van die jaar

Mag ons die Goeie Herder
tevrede stel
as Hy ons elke dag se lootjies tel.

0 comments:

Post a Comment