Natural Farming

Natural Farming

Soil - our connector!

Soil - our connector!
Showing posts with label Wenke. Show all posts
Showing posts with label Wenke. Show all posts

Saturday, March 7, 2020

AANPASSING VAN VEEGETALLE BY VELDPRODUKSIE




As gevolg van seisoenale variasie in reënval en gevolglike veldproduksie kan drie situasies ontstaan, naamlik:

Situasie 1

Vee het genoegsame benutbare weiding beskikbaar in die groeiseisoen weidingsblok.  ‘n Ooreenstemmende veelading sal vir ‘n verdere sewe maande op die oorblywende twee blokke gedra kan word.  Dit is, minstens tot Desember elke jaar!

Situasie 2

Vee het genoegsame weiding, maar benut nie alle kampe in die groeiseisoen weidingsblok nie.  Veelading kan dienooreenkomstig verhoog word, of kampe sal vir spesiale behandelings beskikbaar wees.

Situasie 3

Vee moet voor die einde van die groeiseisoen noodwendig uit die groeiseisoen weidingsblok skuif na die tweede (winter) weidings-blok.  Veldproduksie is dus te laag vir die betrokke veelading en voerskaarste sal beslis gedurende die dormante seisoen ondervind word.  Die veelading moet dienooreenkomstig verlaag word.

Des:

Jy hoef nie te wonder oor wanneer die droogte (of voertekort) jou gaan tref nie.  Jy weet reeds teen Maart / April wat die situasie tot Desember is.  Die benadering sal jou in die bevoorregte posisie hê dat jy veel minder oor droogtes sal kla – en dit sonder om op veelading in te boet!!!

Sunday, February 9, 2020

SKAAP BRANDSIEKTE - Wenke






Skaap brandsiekte is ‘n siekte wat hoofsaaklik in die koue maande van die jaar voorkom, alhoewel dit egter dwarsdeur die jaar kan uitbreek. Aangesien die winter maande voorlê is dit belangrik vir boere om bedag te wees op uitbrake. Baie boere is geneig om die siekte weg te steek, maar die siekte kan enige boer onverwags oorval.

Sedert 1982 het skaapbrandsiekte-uitbrekings in SA vinnig toegeneem en is daar geen gebied in die land wat vry van die siekte is nie.
Die siekte hou ‘n ernstige ekonomiese implikasie vir die veebedryf in. Om hierdie rede is die siekte etlike dekades gelede tot ‘n staatsbeheerde siekte verklaar en word boere volgens wet verplig om dit aan te meld. Swaar strawwe kan opgele word indien die siekte nie aan gemeld word nie.

Brandsiekte/skurftemyte (Psoroptes ovis) is suigende velparasiete van soogdiere en leef op die liggaamsdele wat goed met wol of hare bedek is of in die ore van hulle gashere. 

Wanneer die brandsiektemyte die vel prik om die limf waarop hulle voed te verkry, veroorsaak hulle ‘n ontsteking met die gevolglike afskeiding van serum wat bo-op die vel stol.  Die irritasie wat deur die myte veroorsaak word, laat die skaap skuur en aan die vag byt en trek om sodoende die toestand te vererger.  Hierdie myte grawe nie in die vel in nie.

Bevrugte wyfies lê eiers om die kante van die brandsiekteletsel waar die onvolwasse brandsiekte­myt uitbroei. Die myte leef en voed op die velrante van die letsels wat spoedig as gevolg van hulle aktiwiteite vorm. Die lewensiklus kan in beide die winter en die somer binne 8 - 9 dae voltooi word.

Die skaapbrandsiekmyt het ‘n relatiewe kort lewenssiklus van agt tot tien dae. Die parasiete reproduseer dus baie vinnig en kan ‘n skaap wat aanvanklik net met ‘n enkele myt besmet is, binne een tot twee maande oortrek wees met tot soveel as ongeveer


4000 myte.

Besmette skape toon die volgende simptome:                                                                                               
-          ‘n erge gejeuk en skape byt, krap en skuur hulself.
-          Kaal korserige kolle ontwikkel op die vel,
-          Wol raak gekoek,
-          Wol en haarverliese kom voor,
-          Vermaring

Skape raak besmet wanneer hulle in aanraking kom met:
-          Besmette skape
-          Besmette kampe en krale
-          Besmette skeertoerusting en klere
-          Voertuie wat besmette skape vervoer het

Skaapbrandsiekte kan suksesvol bekamp word mits alle veeboere saamwerk deur:
-          onmiddellik enige velkondisie by skape en bokke wat gepaard gaan met jeuk en/of wol- of haarverliese by die naaste Staatsveearts of Dieregesondheidstegnikus aan te meld.
-          Geen skape wat met brandsiekte besmet of vermoedelik besmet is, mag sonder toestemming van die staatsveearts van die plaas beweeg word nie. Dit geld ook vir bokke op die plaas.
-          Alle nuut ingebringde skape of bokke eers tweemaal volgens voorskrif te behandel teen brandsiekte voordat hulle met enige ander skape op die plaas meng.

MOET ASSEBLIEF NIE SKAAPBRANDSIEKTE WEGSTEEK NIE, MELD DIT AAN – DIT IS IN U EIE SOWEL AS DIE BEDRYF SE BELANG

Skaapbrandsiekte word versprei deur:
-          Veeveilings, skeerders,Vervoer, Aangekoopte skape/bokke,

Behandeling van Skaapbrandsiekte is suksesvol Mits:
-          Alle skape en bokke op ‘n besmette plaas twee keer met 8 tot 10 dae tussenposes gedip of  ingspuit word.
-          Die middle wat gebruik word vir skaapbrandsekte geregistreer is,
-          Die korrekte dipsterkte en aanvullings deurgaans gehandhaaf word tydens dipping of,
-          Die korrekt dosis, in die geval van inspuitbare middels, toegedien word,
-          Diere wat behandel is verkieslik in “skoon kampegeplaas word.

Indien ‘n enkele skaap of bok oorgeslaan word, sal die siekte binne enkele weke weer manifesteer. Onthou – jong- en pasgebore lammers moet ook behandel word. .  Diagnose is gebaseer op die identifikasie van die myte in velskraapsels en uitwissing behels kwarantyn en behandeling (dip of spuit) van al die skape en/of bokke op die plase.  Die diere moet ten minste 2 maal met ‘n 8 – 10 dae tussenpose gedip word en met elke dipping moet hulle vir ten minste 2 minute in die dipvloeistof gehou word.  Inspuitings word twee keer met ‘n tussenpose van 7 dae toegedien

Volgens regulasies van die Wet op Dieresiektes soos gewysig: “Alle skape wat na ‘n verantwoor­delike persoon se grond beweeg word, moet twee maal met ‘n doeltreffende middel volgens die gebruiksaanwysings van die betrokke middel, teen skaapbrandsiekte behandel word alvorens sodanige skape met enige ander skape op die verantwoordelike persoon se grond vermeng.”  en  “Alle veltoestande by skape wat een of meer van die volgende simptome toon, moet by ‘n beampte aangemeld word:

Enkele wenke:

-          Kol of merk elke skaap of bok wat behandel is die eerste keer soda teen wat die eerste behandeling gemis is geidentifiseer kan word.
-          Maak seker dat die regte voorgeskrewe hoeveelheid by inenting toegedien word.
-          Maak seker dat die entspuit werk en dat dit die regte hoeveelheid toedien.
-          Ent diere op die regte manier en plek. Geskikte plekke vir inspuiting is die oksel, lies of agter die blad. Onder die vel. Maak seker dat die spuitstof nie uit lek nie.
-          Hou gedurig toesig by behandeling.
-          Verkeerde behandel kan die boer baie geld kos.
-          Kontroleer die getal diere wat behandel is om te verseker dat alle kleinvee behandel word.

Skaapbrandsiekte is nie ‘n skande nie dit is ‘n ernstig voorval

Saturday, February 8, 2020

Johne’s se siekte in skape - wenke



  Dr Lourens Havenga  

Johne’s is ’n siekte wat tot vermaering van skape ly en word veroorsaak deur die bakterie Mycobacterium paratuberculosis, wat hoofsaaklik in die dunderm groei en verdikking veroorsaak. Die dundermwand verdik geleidelik en veroorsaak ’n daling in die absorpsie van verteerde voedingstowwe. Die siekte het gewoonlik ’n lang inkubasieperiode van tot 2 jaar, maar sodra diere begin gewig verloor, vrek hulle binne ’n kort periode van 3-6 maande. Maagwerk kan voorkom, maar is nie tipies nie. Merinos is meer vatbaar as kruisras diere. Daar is geen effektiewe behandeling teen die siekte nie.

Hoe versprei die siekte?
Die bakterieë word in groot getalle in die mis uitgeskei. Diere tel dan die besmetting op deur die bek vanaf spene, weiding en water, wat besmet is met die bakterieë. Die bakterieë kan vir maande in koelte kolle wat genoeg vog bevat, oorleef. 


Hoe versprei die siekte tussen plase?
Besmette diere wat ingekoop word, is die hoofbron. Mis en afloopwater wat besmet is, kan ook die siekte versprei. Sien ook   http://landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/hoe-johne-se-siekte-versprei/

Hoekom moet ek bewus wees van Johne’s?
In beide Australië en Suid-Afrika is vrektes van 10 % in volwasse skaap’n realiteit in kuddes waar niks gedoen word om die siekte te beheer nie. Onlangse navorsing uit Nieu Seeland, toon dat die siekte ook tot 17% afname in speenmassa asook 10 % afname in wolproduksie.

Hoe bepaal ek of ek die siekte in my kudde het?
Daar is gewoonlik geen tekens vir die eerste paar jaar nie. Die eerste teken is gewoonlik diere wat “lyk asof hulle nie reageer op behandeling vir inwendige parasiete nie – hulle bly maer en vrek later”. Die beste ouderdomsgroep om in te soek is die 2-3 jaar oud groep. Nader jou veearts, aangesien daar histopatologie van die dunderm gedoen moet word om dit te bevestig. Alternatiewelik is daar sekere bloedtoetse, maar dit is nie ten volle betroubaar op eenmalige toetsing nie.

Let wel: Johne’s is ’n beheerde siekte en die plaaslike staatsveearts moet onmiddelik in kennis gestel word indien u selfs die vermoede het dat die siekte by u voorkom. 

Wat kan ek doen as die siekte wel in my kudde voorkom? Moenie ooie op baie kort weiding of weiding wat swaar met mis besmet is laat lam nie. Vermy dit om byvoeding direk op die grond te gee, aangesien misbesmetting gereeld hier voorkom. Hou die kudde so jonk as moontlik. Ent vervangingsdiere op ’n jong ouderdom (4-6 weke).

Hoe gebruik ek die Johne’s entstof:
Die entstof is slegs beskikbaar op voorskrif van u plaaslike staatsveearts. Dit is ‘n geïnaktiveerde (dooie) entstof wat ’n mineraal olie-in-olie adjuvant bevat. Hierdie adjuvant verbeter die immuniteit, maar is ook verantwoordelik vir ‘n swelling. Die swelling ontstaan op die inspuitplek en varieer van ertjie-tot golfbalgrootte. Sommige vorm ’n steriele abses wat oopgaan, maar self genees. Daar moet ook gewaak word dat persone nie hulself per ongeluk inspuit nie, aangesien ‘n soortgelyke swelling sal ontstaan wat mediese behandeling sal noodsaak. Die dosis is 1 ml, onderhuids, slegs hoog op die nek, direk onder die oor. Dit word slegs eenmalig in ‘n dier gebruik.

Meer inligting Dr Lourens Havenga by 082 902 8666.

Sunday, February 2, 2020

Algemene beginsels by Siektes en behandeling




Doen die regte DING, op die regte MANIER, op die regte TYD!
      


  1.    Elke siekte of probleem het `n oorsaak
  2.    Dis beter om die oorsaak vas te stel en te behandel, as om die simptome te behandel
 3.    Besluit so gou as moontlik of dit `n aansteeklike of oordraagbare siekte is , en verwyder die bron van infeksie.
 4. Goeie biosekuriteit sluit `n goeie kwarentynstelsel, `n “hospitaal” en `n afsonderings-eenheid in.
 5.Weeg! Sodoende kan die korrekte dosis van die medisyne toegedien word, maar die effek van die siekte en behandeling ook bepaal word. Dit gaan nie net oor keer dat die dier doodgaan nie, maar ook oor produksieverliese. `n Duurder behandeling mag veroorsaak dat die koors vinniger gebreek word, die dier vinniger begin vreet en dan weer vinniger in produksie is.”Staandae” het `n groot invloed op die ekonomie by intensiewe stelsels. Behalwe gewigsverlies, kan innames, voeromset, groeivermoë, melkproduksie (belangrik in `n teelkraal) asook ander produksieverliese soos aborsies / resorbsies voorkom, wat dan ook tot verlaagde reproduksie lei.
6. Jou eerste verlies is baie keer jou “beste” verlies.Hoe gouer jy besluit of behandeling geregverdig is (prognose en/of ekonomie dit toelaat), en hoe gouer met die regte behandeling begin word, hoe beter is die kans op herstel en beperking van produksieverliese.
7.   Indien `n dier van kant gemaak moet word, doen dit so gou en menslik as moontlik om onnodige pyn en lyding te voorkom.
8.    As jy onseker oor iets is, vra / bel `n kenner.
9.    Gebruik medisyne volgens voorskrif.
Indien aanspraak gemaak word op dinge wat nie op die voubiljet staan nie,       dring aan op `n skriftelike aanbeveling, of op `n afskrif van die wetenskaplike data om dit te regverdig!
10.  Berg medisyne op `n koel, droë en skoon plek
11.  Werk skoon! (spuite, naalde en proppies van medisyne).
12.  Lees die instruksies.
13.  Moenie medisyne meng nie!
14.  By ENTSTOWWE is dit nodig om veral seker te maak dat:
a.    Die koue ketting te alle tye gehandhaaf word
b.    Die korrekte inspuitplek gebruik word



Saturday, January 25, 2020

Praktiese wenke vir Ekonomiese Volhoubaarheid





#Landbouers produseer  binne ‘n lewendige omgewing waar die klimaat ‘n geweldige  invloed op grond, weidings en water uitoefen  en die suksesvolle bestuur hiervan  sal noodwendig daarvan afhang of sekere  langtermyn ekonomiese en sosiale beginsels nagekom word.  Dit beteken onder andere dat daar ‘n ordentlike plan, wat ‘n #risiko- en #moniteringsplan insluit, vir bykans elke faset van ‘n boerderystelsel moet wees.  
Die eerste fokus val op die #volhoubaarheid van u boerderystelsel.  Elke plaas lyk anders en daar is spesifieke uitdagings wat oorkom  moet word. ‘n Beste praktyk is eenvoudig om ‘n geskrewe plan met die hulp van u #plaaskaart op te stel .  Die volgende vrae kan met die opstel van die plan help.

1.        Wat is die toestand van my grond in terme van  #beweiding, #beskutting,# indringer-plante en #gronderosie en is daar iets wat daaromtrent gedoen moet word.
2.       Wat is die verwagte impak van #klimaatsverandering op my boerdery en is daar ‘n plan om die invloed daarvan te bestuur.
3.       Is sensitiewe areas in terme van fauna en flora identifiseer en word dit korrek bestuur.
4.       Is daar voldoende #water en is daar ‘n risiko dat dit besoedel mag raak.
5.       Bestaan daar ‘n #brandgevaar
6.       Hou die gebruik van chemikalie en sintetiese misstowwe ‘n risiko in en is my #afvalbestuur volgens wetgewing.
7.       Word energie doeltreffend gebruik en word die gebruik van fossielbrandstof beperk.
8.       Wat is die potensiaal van #herwinbare energie en kan dit infasseer word.
Prioritiseer u planne op grond van die volhoubaarheid daarvan en volgens  ekonomiese realiteite.
Die tweede fokus val op die saamstel van ‘n omvattende en opwindende  #finansiële plan met die oog op berekende doelwitte en geleenthede.  As daar  oorhoofs na gekyk word behels dit eenvoudig dat daar ‘n gewoonte daarvan gemaak moet word om  onder andere die volgende begrippe uit te leef;
1.       Bestaan daar ‘n medium en langtermyn visie vir die boerderyonderneming inagggenome  nasionale en internasionale veranderlikes soos grondgebruik,  beskikbaarheid van water , energie, verwagte wetgewing en verskuiwings op die gebied van die kwaliteit van en  behoeftes vir jou produksieartikel, wol en vleis.
2.       Bestaan daar ‘n bemarkingstrategie om die meeste te verdien vir die produkte wat produseer word.
3.       Word moontlike ekonomiese bedreigings identifiseer en is daar ‘n plan om dit teen te werk.
U verwagtings en planne moet altyd volgens die ekonomiese haalbaarheid daarvan prioritiseer word.  ‘n Finansiële plan soos almal seker daaraan gewoond  is sluit natuurlik ook die gedeelte oor die “nuts en bolds”  in en waar daar vir aanpassings  voorsiening gemaak is.
·         ‘n #Kontantvloei #begroting wat  jaarliks volgens beraamde uitgawes en inkomstes opgestel word en deurlopend hersien word.
·         Die opstel van ‘n voorspelde bateprofiel in terme van finansieringbehoeftes.
·         Word gebeure op die finansiële front op ‘n deurlopende basis gemonitor.
‘n Derde fokus area waarsonder die boonste twee gladnie doeltreffend toegepas kan word nie is die noodsaaklikheid van toeganklike en interpreteerbare #rekordhouding .
Besigheidsbesluite kan geneem word as die volgende inligting bekikbaar is;
1.       Wat is die produksiepotensiaal van die boerderyeenheid en tot waar kan dit verhoog word.
2.     
  Wat is produksie per hektaar (waar dit van toepassing is) in terme van wol en vleis, wat is die potensiaal en wat is die kostes daaraan.
3.       Word die redes en insidente van elke veeverlies aangedui.  Sonder die inligting sal ekonomies regverdigbare regstellings moeilik indien nie onmoontlik wees nie.
4.       Word  afsonderlik rekord van uitgawes en inkomstes gehou  om die verhoudelike doeltreffendheid van die boerdeystelsel te bepaal.
Die bogenoemde drie fokusareas is gerig op ekonomiese besluitneming Met dit alles is daar ‘n vierde fokusarea wat net so belangrik is.  Die kanse op ekonomiese sukses  sal groter wees in ‘n omgewing waar die werkgewer gelukkig is en waar die werknemers respekteer word.  Sosiale klem kan onmoontlik nie net op die welstand van werknemers geplaas word nie en gelukkigheid kom  nie vanself nie.  Daar moet noodwendig vir strewes, geleenthede en dissipline voorsiening gemaak word.  Die volgende vrae kan gevra word en besluite kan  hiervolgens geneem word;

Wat die kwaliteit van lewe betref,
·         Word daar voldoende tyd vir familie en vriende opsy gesit.                                 

·         Word daar vir ruskansies en ‘n jaarlikse verlof beplan.
·         Is daar ‘n bewustheid om by die gemeenskap betrokke te raak.

Wat #mensebestuur betref,
·         Is werknemers gemaklik en het hulle die  selfvertroue om vergaderings oor hulle eie behoeftes in die werksplek te hou.
·         Het elke werknemer ‘n persoonlik gestelde doelwit waarvolgens hy sy dag kan bestuur sodat dit hom kan help om spanning te verlig.
·         Word daar jaarlikse prestasie doelwitte aan elke werknemer gestel , is die werksprogram duidelik en is daar ‘n stelsel van individuele erkenning .


.SLANGBOS – Indringer met hoë voedingswaarde - kan dit benut word?




Prof Hennie Snyman

 Elke veeboer moet hom ernstig afvra waar hy staan in terme van die bewaring, beskerming en volhoubare benutting van die kosbare natuurlike hulpbronne op sy plaas.  Indien enige ongewensde indringerplante sy weiveld sou bedreig moet alles moontlik gedoen word om dit te bekamp en uit te roei.  Die onbenutbare slangbos is ‘n goeie voorbeeld hiervan aangesien produktiewe grasvelddele van die Oos-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes en Gauteng reeds aggressief daardeur ingedring is.


Voorkoms en impak

Slangbos, vaalbos, bankrotbos of in die Kaap bekend as Khoi-kooigoed (Seriphium plumosum) is ‘n aggressiewe indringerplant in grasvelddele met ‘n reënval van hoër as ongeveer 600 mm per jaar.  In hierdie suurder grasvelddele het die indringing van slangbos, voorheen bekend as Stoebe vulgaris, reeds groot afmetings aangeneem en jaarliks met rasseskrede as probleemplant toeneem.  Die bos besit die vermoë om die produksiepoten­siaal van die graskomponent geweldig te onderdruk en gevolglik 'n plaas se weidingkapasiteit aansienlik kan verlaag.  Hierdie minder diere wat as gevolg van slangbo-indringing aangehou kan word het dus nie slegs ekologiese implikasies nie, maar ook enorme ekonomiese gevolge wat die boer se sak raak.  Talle boere rapporteer van enkele slangbosplante ‘n aantal jare gelede op ‘n plase tot 25-75% van die plaas total ingeneem deur hierdie aggessiewe indringer soos dit tans daar uitsien.  Slapend het hierdie problem sy kop uitgesteek oor veral die laaste dekade of twee en indien nie vinnig opgetree gaan word nie mag dit dalk te laat wees.

Gelukkig het meeste veeboere oor die laaste klompie jare terdeë bewus geraak van hierdie probleem wat jaarliks sneeubal, maar daar is ongelukkig steeds persone wat onverskillig staan om hierdie indringerplant ten alle koste te probeer beheer.  Sommige boere het selfs totaal handoek ingegooi en sien geen uitweg om dit te bekamp nie.  Die minimale koste verbonde aan die beheer daarvan moet verreken word teen wat dit sal kos om ‘n onbesmette plaas te koop of teenoor die verlaging in weidingkapasiteit van sy plaas.  Die kort en lank van die verhaal is dat daar iets daadwerkliks gedoen sal moet word om verdere weiveldverdringing en produksieverlaging te verhoed.

Indien die ruproteïen-inhoud van slangbos afgespeel word teen dié van grasse in dieselfde omgewing, vergelyk dit besonder goed met mekaar.  Saailinge tot 100 mm hoogte se ruproteïen-inhoud is verbasend so hoog as 18%. Grasse sal vir die diere materiaal met ‘n ruproteïen-inhoud van ongeveer 3-4% en 7-9% vir onderskeidelik die winter en somer kan bied.Daar word beweer dat skape jong slangbosplante wel goed benut, asook tot ‘n mate die saadtoppe daarvan gedurende ‘n sekere tyd van die jaar vreet.  Dit kon moontlik die verspreiding van slangbos tot ‘n mate in toom gehou het.  Met die omskakeling van skaap- na beesboerdery, vind hierdie tendens ongelukkig tot ‘n mindere mate plaas en kon dit aanleiding gee tot die vinniger indringing daarvan.  Hierdie bewering van slangbosbenutting deur skape is nog nie vir alle rasse uitgetoets nie en word wel deur sommige boere bevraagteken.  Die algemene mening wat gehuldig word is dat slangbos uiters suksesvol deur elande benut word.
Feit bly dat ‘n groot uitdaging vir beide wetenskaplikes en boere wag om planne te beraam ten einde slangbos op ‘n goedkoop, maar ekologies vriendelike manier te probeer bekamp.

Grasse sal vir die diere materiaal met ‘n ruproteïen-inhoud van ongeveer 3-4% en 7-9% vir onderskeidelik die winter en somer kan bied.  Onnodig om te sê dat die benutbaarheid van grasse veel hoër is as dié van slangbos.

Redes vir verspreiding

Die vermoede bestaan dat slangbos nog al die jare deel van die fynboskomponent op die hoë berge uitgemaak het en eers later as gevolg van die verspreiding van die ligte saad deur die wind, bergaf begin vestig het.  Dit is juis oor ongeveer die laaste vier dekades wat die verspreiding teen die rante en leegtes af geweldig toegeneem het.  Marginale gronde wat van kontantgewasverbouing in die tagtigerjare onttrek was, was van die eerste om deur slangbosplante ingedring te word.  Hierdie gronde, met ‘n lae organiese materiaal-inhoud, wat soms nie dadelik na onttrekking met ‘n aangeplante weiding gevestig is nie, het juis ‘n gunstige habitat geskep vir slangbos-indringing.  Gevolglik het die lappies digte slangbosstande wat oral op oulande ontstaan het, meegehelp tot die vinnige verspreiding soos tans ondervind word.  Alhoewel die werklike redes vir die algemene ontploffing van slangbos in die gras­velddele van Suid-Afrika, oor spesifiek die laaste dekade redelik onseker is, bestaan daar tog ‘n verdere paar menings hieroor wat vervolgens bespreek gaan word.


Benutbaarheid

Daar word beweer dat skape jong slangbosplante wel goed benut, asook tot ‘n mate die saadtoppe daarvan gedurende ‘n sekere tyd van die jaar vreet.  Dit kon moontlik die verspreiding van slangbos tot ‘n mate in toom gehou het.  Met die omskakeling van skaap- na beesboerdery, weens die ongedierte- en diefstal probleem, vind hierdie tendens ongelukkig tot ‘n mindere mate plaas en kon dit aanleiding gee tot die vinniger indringing daarvan.  Hierdie bewering van slangbosbenutting deur skape is nog nie vir alle rasse uitgetoets nie en word wel deur sommige boere bevraagteken.  Die algemene mening wat gehuldig word is dat slangbos uiters suksesvol deur Elande benut word.

Verskeie Merino- en Dorperboere staan tog vas daarby dat hulle skape wel slangbos in veral die jong stadium baie goed benut en selfs in kondisie kan toeneem.  Laasge­noemde bewering is gekwantifiseer deur slangbosmateriaal chemies te ontleed.  Die uitslag het heel verrassend getoon dat slangbos wel oor ‘n hoë ruproteïen-inhoud beskik.  Dit is ongelukkig die besondere hoë persentasie vlugtige olies wat daarin voorkom wat dit onsmaaklik vir diere maak.  Daar is opgemerk dat beeste slangbos geredelik vreet wanneer daar jong botsels voorkom en selfs die toppe met saad vorming vreet.  Dorperskape is die skaapras wat slangbos die beste benut, maar is ongelukkig weens die bossie se houtagtige stamme nie die oplossing om dit totaal te bekamp of vernietig nie.  Indien die bosse eers ‘n sekere grootte bereik, is daar geen kans dat dit deur selfs drukbeweiding totaal ontblaar en vernietig sal kan word nie.

Saailinge tot 100 mm hoogte se ruproteïen-inhoud is verbasend so hoog as 18%.  Die volwasse plante se jong, sagte lote toon ‘n ruproteïen-inhoud van 9%, met 5% vir die harder sytak gedeeltes.  Hierdie verrassende uitslag toon dat slangbos wel oor die voedings­waarde beskik om diere te onderhou sou hulle dit vreet.  Soos reeds genoem, sal die beste benutting ongelukkig verkry word indien die diere gedwing word om dit te vreet.  Die goeie benutting van jong saailinge deur veral skape word dus verklaar deur die hoë ruproteïen wat dit bevat.  Sou die diere dus forseer kon word om die jong plante te benut, mag dit ‘n redelike korttermyn oplossing bied vir slangbosbeheer.  Dit moet natuurlik gesien word teen die agtergrond dat die grasse terselfdertyd oorbenut sal word met nadelige gevolge.  Voldoende rusperiodes vir die graskomponent moet na so ‘n behandeling in die bestuursprogram ingebou word.

Indien die ruproteïen-inhoud van slangbos afgespeel word teen dié van grasse in dieselfde omgewing, vergelyk dit besonder goed met mekaar.  Grasse sal vir die diere materiaal met ‘n ruproteïen-inhoud van ongeveer 3-4% en 7-9% vir onderskeidelik die winter en somer kan bied.  Onnodig om te sê dat die benutbaarheid van grasse veel hoër is as dié van slangbos.

Die gevolgtrekking wat vanuit hierdie chemiese ontledings gemaak kan word is dat behalwe vir die onsmaaklikheid van slangbos dit wel in die voedingsbehoeftes van die dier sal kan voldoen.  Daar moet dus net ‘n sinvolle manier uitgewerk of nagevors word hoe om dit te benut sonder om die graskomponent en die diere te benadeel.  Jong saailinge is dalk waarop die fokus geplaas moet word om dit deur middel van benutting te bekamp - maar is dit moontlik?  Ongelukkig sal dit, indien moontlik, slegs ‘n tydelike oplossing bied aangesien die geweldige saadbron in die grond net wag dat omge­wingstoestande gunstig is vir ontkieming sodat daar weer ‘n ontploffing in saailinge kan plaasvind.  Hoe prakties so ‘n beweidingsbenadering is, is ‘n ope vraag en moet dit definitief nie ten koste van die graskomponent geskied nie.  Dalk kan iemand navore kom met so ‘n vindingryke plan wat tot voordeel van beide dier en ekosisteem kan strek.  Die groot slangbosse sal chemies of meganies beheer moet word, alhoewel meganiese uitkap ook sy kwota probleme oplewer.  Alhoewel chemiese beheer die suksesvolste blyk te wees, is die ekonomiese aspek iets waarmee rekening gehou moet word.  Hierdie indringingsprobleem is so groot in omvang dat enige moontlike beheermaatreël oorweeg moet word, solank dit net ekologies en ekonomies geregverdig is.  Brand bied ook nie ‘n oplossing nie, aangesien dit wel jong plante dood, maar saadontkieming stimuleer en groot bosse ook weer laat uitloop.


Samevatting

So mag daar nog vele ander redes aangevoer word vir die ernsige slangbosprobleem waarmee tans geworstel word. 

·         Die slotsom is egter dat iets daadwerkliks op grootskaal gedoen sal moet word en dat beheermaatreëls nie slegs op enkele plase uitgevoer moet word nie. 
·         Die regering het beslis ook ‘n groot finansiële ondersteuningsrol te speel in die bekamping van slangbos om te verhoed dat produktiewe weiveld nog verder verdring word. 
·         Daar behoort ‘n indringende indiepte ondersoek uitgevoer te word na die presiese omvang van die slangbosprobleem wat insluit beide die totale area wat reeds besmet is en die werklike impak daarvan op die afname in grasproduksie waarmee dit gepaard gaan.  Hierdie inligting behoort as ondersteuning te kan dien tot finansiële steun. 
·         Ongelukkig is dit nie so maklik om ‘n inheemse plant soos slangbos as verklaarde onkruid gelys te kry nie.  Gelukkig is dit reeds gelys as verklaarde indikator van bosverdigting (Regulasie 16 van die bewaring van landbouhulpbronne – Artikel 43), wat bepaal dat indien dit die produksiepotensiaal van ‘n gebied bedreig die eienaar verpig is om dit te beheer. 
·         Die oplossing is dus gesetel in ‘n spanpoging waar alle boere wat die problem ondervind iets sal moet doen anders is dit ‘n ongewonne stryd wat gevoer gaan word.  Die saad versprei maklik van een plaas na ‘n ander en moet gevolglik algeheel binne ‘n gebied bekamp word vir enige sukses  
·         Hier lê dus ‘n groot uitdaging vir beide wetenslaplike en boer opgesluit om planne te beraam ten einde slangbos op ‘n goedkoop, maar ekologies vriendelike manier te probeer bekamp.