Natural Farming

Natural Farming

Soil - our connector!

Soil - our connector!
Showing posts with label Lamtyd. Show all posts
Showing posts with label Lamtyd. Show all posts

Sunday, April 5, 2020

LUISTER NA WAT PARASIETE VIR JOU WIL SÊ!



Dr. Faffa Malan


Vir miljoene jare lewe diere al saam met parasiete.  Wat merkwaardig is, is dat elke gasheerspesie sy eiesoortige parasietspesies het.  Daar is ’n paar parasiete wat wel in meer as een diersoorte kan voorkom. 
 ’n Voorbeeld van so ‘n parasiet is die lewerslak
Lewerslakke

Dit is nie in die belang van die parasiet dat al sy gashere doodgemaak word nie want dan sal die parasietspesie self uitsterf.  Wat gewoonlik in die natuur gebeur, is dat die geneties swakkere diere so deur die parasiete geaffekteer word dat hulle deur roofdiere gevang en uit die sisteem verwyder word.  Parasiete is aangestel om mee te help om die “swakkelinge”  in die sisteem te identifiseer en te help illumineer!

Die mens het die natuur so verander deur sy boerderymetodes dat hy daagliks met parasiete in ’n oorlog gewikkel is!  Praktyke wat aanleiding gee tot stagnasie, oorbevolking en stres toestande veroorsaak dikwels dat parasiete die oorhand kry.  Voorbeelde waar stagnasie voorkom is in voerkrale en waar groot getalle diere in klein kampies laat wei word.  Waar te veel diere in kampe bewei word (oorbevolking), bou die getalle van parasiete op en is daar so ’n oormag dat sekere gashere nie die parasiete kan hanteer nie.  Waar diere onder stres verkeer soos bv. waar siektes en voedingstekorte voorkom en diere gebruk word om te produseer, is hulle ook meer vatbaar vir parasiete.

Daar moet ook altyd in gedagte gehou word dat jong diere, wie se immuunstelsel nog nie goed ontwikkel is nie, ook baie meer vatbaar vir parasiete is.  Rondom lamtyd of kalftyd is moerderdiere ook meer vatbaar vir parasiete.

In die onlangse verlede is daar swaar geleun op chemikalieë om parasiete te beheer.  Deur die oor en wangebruik van hierdie middels is daar vandag sekere geselekteerde parasietstamme wat haas onbeheerbaar is.

Omdat nuwe middels so duur en skaars is, sou dit raadsaam wees om te luister wat die parasiete vir ons wil sê!  Boer met diere wat aangepas is om saam met parasiete te lewe!  Raak ontslae van diere wat moeilik saam met die parasiete klaarkom.  Let op jou boerdery metodes en waar moontlik vermy stagnasie, oorbevolking en stres.

Die FAMACHA sisteem is ontwikkel om skape te selekteer wat saam met haarwurm kan bestaan.  Deur gereeld na die oogslymvlieskleur van skape te kyk kan skape met bleek slymvliese geïdentifiseer word en uit die sisteem verwyder word.  Deur gereeld skape te weeg en kondisietellings te dokumenteer kan diere wat oorvatbaar vir ander parasiet spesies is ook geïdentifiseer en verwyder word.


Vir verdere besonderhede vir hierdie sisteme kontak jou naaste veearts

Saturday, February 8, 2020

Johne’s se siekte in skape - wenke



  Dr Lourens Havenga  

Johne’s is ’n siekte wat tot vermaering van skape ly en word veroorsaak deur die bakterie Mycobacterium paratuberculosis, wat hoofsaaklik in die dunderm groei en verdikking veroorsaak. Die dundermwand verdik geleidelik en veroorsaak ’n daling in die absorpsie van verteerde voedingstowwe. Die siekte het gewoonlik ’n lang inkubasieperiode van tot 2 jaar, maar sodra diere begin gewig verloor, vrek hulle binne ’n kort periode van 3-6 maande. Maagwerk kan voorkom, maar is nie tipies nie. Merinos is meer vatbaar as kruisras diere. Daar is geen effektiewe behandeling teen die siekte nie.

Hoe versprei die siekte?
Die bakterieë word in groot getalle in die mis uitgeskei. Diere tel dan die besmetting op deur die bek vanaf spene, weiding en water, wat besmet is met die bakterieë. Die bakterieë kan vir maande in koelte kolle wat genoeg vog bevat, oorleef. 


Hoe versprei die siekte tussen plase?
Besmette diere wat ingekoop word, is die hoofbron. Mis en afloopwater wat besmet is, kan ook die siekte versprei. Sien ook   http://landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/hoe-johne-se-siekte-versprei/

Hoekom moet ek bewus wees van Johne’s?
In beide Australië en Suid-Afrika is vrektes van 10 % in volwasse skaap’n realiteit in kuddes waar niks gedoen word om die siekte te beheer nie. Onlangse navorsing uit Nieu Seeland, toon dat die siekte ook tot 17% afname in speenmassa asook 10 % afname in wolproduksie.

Hoe bepaal ek of ek die siekte in my kudde het?
Daar is gewoonlik geen tekens vir die eerste paar jaar nie. Die eerste teken is gewoonlik diere wat “lyk asof hulle nie reageer op behandeling vir inwendige parasiete nie – hulle bly maer en vrek later”. Die beste ouderdomsgroep om in te soek is die 2-3 jaar oud groep. Nader jou veearts, aangesien daar histopatologie van die dunderm gedoen moet word om dit te bevestig. Alternatiewelik is daar sekere bloedtoetse, maar dit is nie ten volle betroubaar op eenmalige toetsing nie.

Let wel: Johne’s is ’n beheerde siekte en die plaaslike staatsveearts moet onmiddelik in kennis gestel word indien u selfs die vermoede het dat die siekte by u voorkom. 

Wat kan ek doen as die siekte wel in my kudde voorkom? Moenie ooie op baie kort weiding of weiding wat swaar met mis besmet is laat lam nie. Vermy dit om byvoeding direk op die grond te gee, aangesien misbesmetting gereeld hier voorkom. Hou die kudde so jonk as moontlik. Ent vervangingsdiere op ’n jong ouderdom (4-6 weke).

Hoe gebruik ek die Johne’s entstof:
Die entstof is slegs beskikbaar op voorskrif van u plaaslike staatsveearts. Dit is ‘n geïnaktiveerde (dooie) entstof wat ’n mineraal olie-in-olie adjuvant bevat. Hierdie adjuvant verbeter die immuniteit, maar is ook verantwoordelik vir ‘n swelling. Die swelling ontstaan op die inspuitplek en varieer van ertjie-tot golfbalgrootte. Sommige vorm ’n steriele abses wat oopgaan, maar self genees. Daar moet ook gewaak word dat persone nie hulself per ongeluk inspuit nie, aangesien ‘n soortgelyke swelling sal ontstaan wat mediese behandeling sal noodsaak. Die dosis is 1 ml, onderhuids, slegs hoog op die nek, direk onder die oor. Dit word slegs eenmalig in ‘n dier gebruik.

Meer inligting Dr Lourens Havenga by 082 902 8666.

Saturday, January 25, 2020

In en om lamtyd - Die peri-partum periode




Dit is die tydperk in en om lamtyd – kom oms fokus opvan die week voor lam tot die maand daarna.

Die lam of lammers begin benoud raak in die baarmoeder en skei dan `n “stof” (kortisol) af, wat vir die moeder se ligaam die boodskap gee dat dit tyd raak om reg te maak vir die geboorte.
Die spiere en ligamente van die geboortekanaal begin dan verslap – in beeste sien mens dikwels dat die stertwortel effens “lig”
Die servikale “slymprop” wat die fetus geseel het van die buitewereld, begin oplos.
En net voor die geboorte begin die serviks of baarmoedernek ontsluit, die baarmoeder begin saamtrek, en die lam of lammers word gebore.

Al hierdie dinge vind onder beheer van die hormoon-stelsel plaas.

`n Normale lam weeg so 3.5 kg by geboorte.
Nadat die vrugwater en nageboorte saam met die lam uit is, weeg die baarmoeder na die geboorte ongeveer 2 kg.
In die maand na die geboorte “krimp” dit dan weer na `n orgaan wat 70-80 gram weeg voor die volgende dragtigheid.
Die krimpingsproses staan bekend as involusie en 2 hoof herstelfases nl histologiese en bakteriologiese herstel vind plaas.

Verskeie faktore het `n invloed op hoe vinnig die herstel plaasvind, waarvan voeding en die kondisie van die ooi met lamtyd seker die grootste invloed het.`n Maerder ooi se baarmoeder neem langer om te herstel. So ook `n tweelingooi, omdat haar baarmoeder groter as `n enkelingooi sin is.
`n Ooi wie se lam deur `n roofdier gevang is, of wie se lam van `n ander oorsaak dood is, se baarmoeder herstel ook vinniger.
Baarmoeder infeksies vertraag weer die proses.
Die interessante ding is egter dat meeste ooie se baarmoeders onder “normale” toestande na ongeveer 35 dae voldoende herstel het, en voorberei is vir die volgende dragtigheid.

As mens dus beskou dat jy met baarmoeders boer en nie met skape nie, maak die meerpaarstelsels soos die 3 x in 2 jaarstelsel eintlik baie meer sin!!
So `n boer boer met sy skape soos wat `n beesboer met sy beeste boer! – nl om hulle 3 maande na lamtyd ram te gee wanneer die baarmoeder volkome / voldoende herstelkans gegee is na die vorige dragtigheid.

Die kerngedagte is dus om die werking van die baarmoeder te ken en te verstaan, en om dan jou bestuurstelsel daarvolgens saam te stel

Boerdery is `n besigheid – en `n besigheid wat nie geld maak nie is gedoem!
Met `n goeie stelsel, goeie gesondheidsbestuur en goeie voeding, kan `n boer sy lammeroes baie vergroot.
Meer lamkanse beteken meer lammers, en dit beteken meer GELD!!