Natural Farming

Natural Farming

Soil - our connector!

Soil - our connector!

Sunday, April 5, 2020

LUISTER NA WAT PARASIETE VIR JOU WIL SÊ!


By on 4:10 PM


Dr. Faffa Malan


Vir miljoene jare lewe diere al saam met parasiete.  Wat merkwaardig is, is dat elke gasheerspesie sy eiesoortige parasietspesies het.  Daar is ’n paar parasiete wat wel in meer as een diersoorte kan voorkom. 
 ’n Voorbeeld van so ‘n parasiet is die lewerslak
Lewerslakke

Dit is nie in die belang van die parasiet dat al sy gashere doodgemaak word nie want dan sal die parasietspesie self uitsterf.  Wat gewoonlik in die natuur gebeur, is dat die geneties swakkere diere so deur die parasiete geaffekteer word dat hulle deur roofdiere gevang en uit die sisteem verwyder word.  Parasiete is aangestel om mee te help om die “swakkelinge”  in die sisteem te identifiseer en te help illumineer!

Die mens het die natuur so verander deur sy boerderymetodes dat hy daagliks met parasiete in ’n oorlog gewikkel is!  Praktyke wat aanleiding gee tot stagnasie, oorbevolking en stres toestande veroorsaak dikwels dat parasiete die oorhand kry.  Voorbeelde waar stagnasie voorkom is in voerkrale en waar groot getalle diere in klein kampies laat wei word.  Waar te veel diere in kampe bewei word (oorbevolking), bou die getalle van parasiete op en is daar so ’n oormag dat sekere gashere nie die parasiete kan hanteer nie.  Waar diere onder stres verkeer soos bv. waar siektes en voedingstekorte voorkom en diere gebruk word om te produseer, is hulle ook meer vatbaar vir parasiete.

Daar moet ook altyd in gedagte gehou word dat jong diere, wie se immuunstelsel nog nie goed ontwikkel is nie, ook baie meer vatbaar vir parasiete is.  Rondom lamtyd of kalftyd is moerderdiere ook meer vatbaar vir parasiete.

In die onlangse verlede is daar swaar geleun op chemikalieë om parasiete te beheer.  Deur die oor en wangebruik van hierdie middels is daar vandag sekere geselekteerde parasietstamme wat haas onbeheerbaar is.

Omdat nuwe middels so duur en skaars is, sou dit raadsaam wees om te luister wat die parasiete vir ons wil sê!  Boer met diere wat aangepas is om saam met parasiete te lewe!  Raak ontslae van diere wat moeilik saam met die parasiete klaarkom.  Let op jou boerdery metodes en waar moontlik vermy stagnasie, oorbevolking en stres.

Die FAMACHA sisteem is ontwikkel om skape te selekteer wat saam met haarwurm kan bestaan.  Deur gereeld na die oogslymvlieskleur van skape te kyk kan skape met bleek slymvliese geïdentifiseer word en uit die sisteem verwyder word.  Deur gereeld skape te weeg en kondisietellings te dokumenteer kan diere wat oorvatbaar vir ander parasiet spesies is ook geïdentifiseer en verwyder word.


Vir verdere besonderhede vir hierdie sisteme kontak jou naaste veearts

0 comments:

Post a Comment