Natural Farming

Natural Farming

Soil - our connector!

Soil - our connector!

Tuesday, March 3, 2020

Omskakeling na aangeplante weidings. - wenke


By on 1:21 PM




Dit is bekend dat kommoditeitspryse siklies van aard is.  Wanneer gaanpryse onder druk is word produsente aangeraai om graanaanplantings in te kort ten einde oorproduksie en verdere druk op graanpryse te verhoed.  Die omskakeling van laer potensiaal saaigrond na meerjarige weidings vir diereproduksie word dan beskou as `n aanloklike alternatief.  Ondervinding het geleer dat hierdie proses nie halsoorkop aangepak moet word nie.


Die potensiaal / geleenthede vir vleisproduksie.
Daar beslis potensiaal vir die verhoogde rooivleisproduksie nl.
·         Suid – Afrika  is `n netto invoerder van rooivleis
·         Suid – Afrikaanse rooivleis is van hoë kwaliteit met besliste uitvoer – potensiaal.  Die wisselkoers het natuurlik `n effek op die winsgewendheid van uitvoer.
·         Suid – Afrika maak slegs 1% van die wêreldmark in rooivleis uit.

Oorwegings vir die Produsent.
Elke boerdery - vertakking het sy eiesoortige uitdagings.  Alle Graanboere is daarom nie vanselfsprekend suksesvolle beesboere nie. Graanprodusente is goed gerat vir graanboerdery en indien nog nie met vee geboer word nie, moet voornemende veeboere deeglik besin oor die vereistes vir finansiële sukses.  Vir hierdie boere sal dit loon om relatief klein te begin en in veeboerdery in te groei. Dit is egter so dat baie graanboere reeds met groot sukses met vleisbeeste boer.  Vir hierdie produsente hou diversifikasie die volgende belangrike voordele in:
·         verspreiding van risiko deur die toevoeging van vleis en surplus vee tot graan as verkoopbare produkte.    
·          Positiewe effek op die kontantvloei deur `n beter verspreiding van bemarking/verkope oor die boekjaar.

Voervloeibenadering.
Een van die belangrikste lesse geleer uit die tagtigerjare se grondomskakelingsskema is die noodsaaklikheid van `n voervloeibenadering as dit kom by die vestiging van aangeplante weidings.  Dit impliseer dat die produsent presies moet weet waar en hoe die nuwe weidings in sy voervloeiprogram gaan inpas.  Anders gestel, as daar nie `n duidelike  rol vir die nuwe weidings in die voervloeiprogram is nie, sal dit waarskynlik nie betaal om die koste van vestiging aan te gaan nie.  Dit is gewoonlik die hoofrede hoekom duur gevestigde weidings soms weer uitgeploeg word.

Vir koste- effektiewe voervloeibeplanning is dit belangrik dat goedkoop beskikbare ruvoer bronne optimaal benut word.  Duurder voerbronne word dan strategies aangewend om óf doeltreffendheid van produksie te verhoog óf om produksie vertikaal uit te brei.

Beskikbare voerbronne op `n tipiese graanplaas sluit in :
1.        Oesreste:  `n Goeie ruvoerbron vir oorwintering, en waarvan daar gewoonlik meer as genoeg is.  Oesreste is gewoonlik die goedkoopste opsie vir oorwintering.
2.        Natuurlike veld:  Veld op uitvalgrond is `n belangrike bron van somervoer, maar op die tipiese graanplaas gewoonlik skaars en dikwels oorbewei.
Indien die veevertakking uitgebrei wil word, is dit gewoonlik die tekort aan somerweiding wat deur die aanplant van weiding oorkom kan word.  In die beplanningsfase moet daar doelgerig gewerk word om `n balans tussen winterweiding (oesreste) en somerweiding (veld en aangeplante weiding) te verkry.  Andersins moet gewaak word daarteen om nie soveel om te skakel dat daar `n tekort aan oesreste vir oorwintering is nie.

Veldbestuur.
Die fokus op `n graanplaas is op graanverbouing.  Veldbestuur word daarom dikwels afgeskeep.  Goeie veldbestuurspraktyke kan egter veldproduksie meer as verdubbel, `n aspek waaraan die voornemende veeboer beslis aandag sal moet gee.  Onthou veld is “goedkoop” met `n lae risiko in vergelyking met aangeplante weiding.

Verbouing van Aangeplante weiding:
Grond en bemesting
Marginale akkerbougrond kan wel suksesvol met weidings gevestig word.  Graanboere verstaan grond, grondvrugbaarheid en bemesting.  Gebruik hierdie kundigheid om weidings koste-effektief te vestig en te bemes!
Die omgewing waar u boer is belangrik (grond, klimaat).  Kry wetenskaplike kundigheid by u naaste Departementele proefplaas of ander kundigheidssentrums.  By aangeplante weiding is konserwatiewe bemesting die wagwoord.

Weidingskultivars
`n Peulgewas soos lusern is `n uitmuntende weiding vir wolskape, maar weens die opblaasgevaar is beesboere grootliks aangewese op grasse.  Hier is die reël eenvoudig: Bly by die beproefde grasspesies bv.
·         OVS, NW en Limpopo meerjarig:  Smutsvinger (leem- en kleigrond)
Bloubuffel    (leem- en kleigrond)
Borseltjie     (Sandgrond)

·         Oostelike Hoëveld:                                  Smutsvinger  (leem- en kleigrond)
Oulandsgras tipes  (sandgrond)
Swenkgras              (natgronde)

·         Eenjarig:                                                  Babala en Voersorghum


Weidingsbestuur
Hou dit eenvoudig. Waak teen oorkapitalisering met duur heinings vir ingewikkelde wisselboustelsels.  Periodieke seisoen rusperiodes (vir staandehooi) het groot voordele vir die instandhouding van groeikrag.  Beperk dus die aantal kampe tot die minimum wat u benodig vir goeie veebestuur.

Benutting / Aanwending
Onthou die voervloeibenadering.  Die beste ekonomiese resultate word behaal waar die diereprestasie behaal, direk bemarkbaar is, d.w.s. met die uitgroei of afronding van beeste vir bemarking. `n Tweede opsie (hoewel minder winsgewend) is benutting met lakterende koeie en kalwers.  Nie- produktiewe diere hoort op goedkoper weiding soos veld op oesreste.

Ekonomie
Produksie- gebiede, bestuur, aanwending, ens, het `n groot invloed op winsgewende vleisproduksie vanaf aangeplante weidings.  Die onderliggende beginsels vir winsgewende verbouing van aangeplante weiding word egter baie goed geïllustreer deur die gegewens in Tabel 1.  (Dannhauser, Van Zyl & Whitehead, 2005) en Tabel 2 (Van Zyl, Peddie & Dannhauser, 2005).  Uit die gegewens is dit duidelik dat aangeplante weidings veral finansieel tot sy reg kom as dit vir die afronding van diere vir die mark aangewend word.  Die beskikbaarheid van sulke diere moet egter in gedagte gehou word. 

Tabel 1:
Opsomming van produksie en bruto- marges van nege stelsels met veld en/of Bloubuffelsgras.


Lokaliteit
Reënval
(mm)
Stelsel
Hooi
Kg
N
ha-1
Diere
Prod.
kg ha-1
Bruto Marge
R ha-1
Mara
473.5 - 772.2
Koei/Kalf stelsel op veld
Nee
-
26.3
R171.00
Mara
473.5 – 772.2
Koei/Kalf stelsel op veld
+ C.ciliaris
Ja
67
14.8
R100.98
Springbok flats
534 – 651
Koei/Kalf stelsel op veld
+ C.ciliaris
Ja
74
156.3
- R341.85
Glen
397.7 – 811.3
Koei/Kalf stelsel op veld
+ C.ciliaris
Nee
90
146.7
R375.52
Towoomba
-
Koei/Kalf stelsel op veld
+ C.ciliaris
Nee
60
124.6
R555.24
Towoomba
548.0
Speenkalf afronding
op veld
Nee
-
37.6
R328.10
Towoomba
548.0
Speenkalf afronding C.ciliaris
Ja
56
176.3
R769.18
Towoomba
491.4 – 511.5
Jaaroud afronding op C.ciliaris
Nee
0
143.9
R1223.15
Towoomba
491.4 – 511.5
Jaaroud afronding op C.ciliaris
Nee
42
214.3
R1454.75

Nota: Vestigingskoste uitgesluit.

Die winsgewendheid van die afronding van diere op Eenjarige voersorghum te Dundee word in Tabel 2 aangetoon.  (Van Zyl, Peddie en Dannhauser, 2005)

Tabel 2.
Jaar
Lewende massa toename
(kg ha-1 )
Prys @ R7 kg-1 lewend
Prys @ R8 kg-1 lewend
Waarde van toename
(R)
Wins/Verlies
(R ha-1 )  
Waarde van toename
(R)
Wins/Verlies
(R ha-1 )  
2002
471
2919
919
3336
1336
2003
506
3542
1542
4048
2048
2004
557
3899
1899
4456
2456
2005 *
232
1624
-376
1856
-144
Gemid.
428
2996
996
3424
1424


Notas:  Gemiddelde verbouingskoste van R2000/ha in berekening gebring.

*  Kultivar gebruik was ‘n kuilvoertipe, met baie swak hergroei na die eerste beweiding. 


Samevatting:

1.        Die inskakeling of uitbreiding van  ‘n veevertakking tot graanboerdery, moet as langtermyn strategie gesien en bestuur word.  Die duurste aangeplante weiding is die wat uitgeploeg word sodra graanpryse herstel het!!
2.        Volg ‘n voervloeibenadering en vestig addisionele weidings met ‘n goed beredeneerde doel.
3.        Maak optimaal gebruik van beskikbare voerbronne soos veld en oesreste.
4.        Die afronding van diere vir die mark gee die beste ekonomiese resultate.  Die beskikbaarheid van sulke diere kan egter beperkend wees.
5.        Sukses is nie vanselfsprekend nie.  Verkry die beste beskikbare kundigheid om uself as veeboer te bemagtig, soos die geval met u as graanboer is.

Verwysings:

1.        Dannhauser, C. S., Van Zyl, E. A. and Whitehead, E. N. C. 2005.  An economic review of beef production from Cenchrus ciliaris with special reference to the Limpopo Province.
2.        Van Zyl, E. A., Peddie, G.M. & Dannhauser, C.S. 2005.  Voersorghums en Babala.

0 comments:

Post a Comment